Gaan na inhoud

Flip Schutte

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
P.J.W. Schutte.

Philippus Jacobus Wilhelmus Schutte (distrik Cradock of volgens ’n ander bron Uitenhage, Kaapkolonie, 29 November 1803 of 1805 – Buffeldoorns, distrik Potchefstroom, 9 November 1873) was ’n boer en vroeë leier in die Gereformeerde Kerk.

Vroeë lewe en politieke betrokkenheid

Schutte was 'n seun van Philippus Schutte en sy vrou, Aletta Catherina Engelbrecht. As 'n trekboer het hy hom met die Groot Trek vereenselwig en emigreer in 1840 na die Noorde. In 1843 het hy hom op die plaas Buffeldoorns in die wyk Gatsrand van Potchefstroom gevestig, waar hy 'n aansienlike boerdery opgebou en aktief deelgeneem het aan die staatkundige en kerklike aangeleenthede. In die politiek was hy 'n volgeling van Andries Pretorius en as kommandant van die distrik was hy medeondertekenaar van die Sandrivierkonvensie in Januarie 1852. Hy het die veldtogte teen die oproerige Tswana-stamme onder Mahura en Setšhele langs die wesgrens van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) meegemaak. Gedurende 1856-'57 het hy ook as lid van die Transvaalse Volksraad gedien.

Kerman

In kerklike kringe was Schutte bekend as konserwatief en besadig en 'n handhawer van die ou Gereformeerde erfenis. As lidmaat en ouderling van die Staatskerk (Hervormde Kerk) in Transvaal het hy hom vir die werwing van 'n predikant uit Nederland beywer wat sy oortuigings gedeel het. In Augustus 1853 het hy 'n versoekskrif om 'n eie predikant, 'n kerkorde en 'n grondwet onderteken. In 1855 het hy by sy kerkraad, dié van Rustenburg, gepleit dat 'n predikant van die Christelik Gereformeerde Kerk in Nederland (gestig deur ds. Hendrik de Cock in 1834) gevra word om met die bediening van die byna herderlose gemeentes in Transvaal te kom help. Sy optrede, gesteun deur ander lidmate, het aanleiding gegee tot die koms van ds. Dirk Postma in 1858.

Schutte het aktief aan die stigting van die Gereformeerde Kerk deelgeneem. Met sy aankoms op Potchefstroom onderweg van Durban na Rustenburg, is ds. Postma gasvry ontvang op Buffeldoorns waar hy op 7 November 1858 sy eerste preek in Transvaal gelewer het. Ná mislukte pogings om die kerklike eenheid te bewaar en veral na aanleiding van 'n beslissing van die Algemene Vergadering van die NH op 10 Januarie 1859 ten gunste van die behoud van die evangeliese gesange in die erediens, het Schutte saam met 'n aantal lidmate van Rustenburg besluit om uit die kerk te tree. As ouderling was hy medeondertekenaar van 'n brief aan die Kerkvergadering waarin die ondertekenaars gegee het van hul uittrede uit die kerklike gemeenskap en hul begeerte om as 'n vrye Gereformeerde Kerk te bestaan. Op 11 Februarie 1859 was hy en sy vrou onder die eerste lidmate van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg en so is Schutte as ouderling vir die wyk Mooirivier gekies en saam met ds. Postma afgevaardig na die Kaapkolonie, waar nuwe gemeentes gestig word.

Schutte het hom later vir die oprigting van 'n teologiese skool vir die opleiding van predikante beywer, hoewel ds. Postma aanvanklik gehoop het dat predikante uit Nederland getrek sou kon word. Met die opening van die Teologiese Skool op Burgersdorp was Schutte amptelik teenwoordig en het hy 'n indrukwekkende rede gelewer. Daarna het hy tot aan sy dood as een van die kuratore van die Skool gedien en jaarliks die lang reis na Burgersdorp onderneem.

Waardering

Dr. S.P. van der Walt skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel III Schutte was ’n merkwaardige figuur, veral Transvaal se kerklike lewe. Eerw. Stephanus Hofmeyr, die NG Kerk se eerste Afrikaanssprekende buitelandse (dus buite die Kaapkolonie) sendeling het besonder gunstig van hom as persoon getuig.

Gesinslewe

P.J.W. Schutte se seun Jan Harm Petrus en dié se dogter Jacoba.
Anna Sophia van Heerden, P.J.W. Schutte se skoondogter en vrou van sy seun Jan Harm Petrus.

Schutte was twee maal getroud, eers met Aletta Catharina Martha (nôiensvan onbekend) en daarna met Magteld Gertruida Anna Maria du Plessis. Hy het twee seuns uit die eerste huwelik en ses seuns en drie dogters uit die tweede gehad, maar volgens die webtuiste geni.com altesaam 24 by drie vroue: Maria Magdalena Johanna du Plessis, Alida Barendina Hendriena Steenkamp en Magteld Gertruida Anna Maria du Plessis. Volgens dié webtuiste was sy kinders:

  • Martha Petronella Gouws
  • Aletta Catharina Maria Schutte
  • Anna Catharina Elizabeth Labuschagne
  • Johanna Maria Hattingh
  • Philippus Jacobus Wilhelmus Schutte
  • Jan Harm Petrus Schutte (26 April 1829 – 19 Junie 1918)
  • Christiaan Schalk Willem Schutte
  • Casper Jan Hendrik Schutte
  • Aletta Catharina Maria Schutte
  • Martha Petronella Gouws
  • Aletta Catharina Martha van der Merwe
  • Anna Catharina Elizabeth Labuschagne
  • Magteld Gertruida Anna Maria Schutte
  • Susanna Catharina Schoeman
  • Paul Jacobus Schutte
  • Christiaan Ernst Schalk Schutte
  • Andries Gerhardus (gebore 27 Junie 1856)
  • Cornelius Johannes Schutte
  • Helena Hendrina Schutte
  • Philippina Charlotta Nel
  • Anna Cecilia Schutte
  • Frans Roelof Petrus Schutte
  • Barend Philippus Schutte
  • Izak Stephanus Schutte

Van sy nasate het minstens nog in die laat 1970's op sy plaas gewoon, waar hy ook begrawe lê.

Bronne