Gaan na inhoud

Gloster Javelin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur NadzikBOT (besprekings | bydraes) op 16:59, 27 Mei 2020 (WPCHECK, Tags without content)
(verskil) ← Ouer weergawe | bekyk huidige weergawe (verskil) | Nuwer weergawe → (verskil)
Gloster Javelin
Tipe Vegvliegtuig
Vervaardiger Gloster Aircraft Company
Nooiensvlug 26 November 1948
Bekendstelling 29 Februarie 1956
Onttrek April 1968
Status Onttrek
Hoofgebruiker Britse Lugmag
Aantal gebou 436

Die Gloster Javelin is 'n Britse tweemotorige straalaangedrewe deltavlerkvegvliegtuig. Dit is die eerste Britse vliegtuig wat as alleweerstoestand- en nagvegter ontwerp is. Die ontwerp van die vliegtuig het in 1948 begin en die prototipe het sy nooiensvlug op 26 November 1948 voltooi. Na kompeterende toetse met die de Havilland 110 (wat later die de Havilland Sea Vixen word) in Julie 1952 besluit die Britse Lugdepartement om eerder met die Javelin voort te gaan om al hulle alleweersvegvliegtuigeskaders daarmee toe te rus. Nadat drie prototipes in ongelukke verlore gegaan het, het produksie eers in 1954 aan die gang gekom.

Ontwerp

[wysig | wysig bron]

Die Javelin was ontwerp met hoë werkverrigting en 'n lang togafstand sodat dit Sowjetunie bomwerpers, wat teen hoë snelhede en hoogtes vlieg, kon onderskep. Dit het op daardie stadium oor die beste radar beskikbaar beskik en was toegerus met die beste elektronika en kon in dag of nag in alle weerstoestande vlieg. Die Javelin se deltavlerke het verseker dat dit goeie vermoëns het teen hoë hoogtes. Die stertvlerke was ook in deltaformaat en bo-aan die stertvin geheg. Dit het verseker dat die vliegtuig se landingshoek binne veiligheidsperke kon bly vir dag/naglandings in alle weerstoestande.

Die Mk 1 model is in 1956 in die Britse Lugmag in diens gestel, dit was die eerste van 427 en daar was altesaam nege verskillende modelle. Mk 2 is in Augustus 1957 in diens gestel met verbeterde motors (3770 kg stukrag teen 3702 kg) en verbeterde Westinghouse-radar. Daarna was die T.3 opleidingmodel in diens gestel; dit het nie oor radar beskik nie maar was wel toegerus met 30 mm kanonne.

Daar was 50 eenhede van model Mk 4 gebou. Die vliegtuig was as vlieëniervriendelik beskou en die hele stertvlerk kon beweeg. Die Mk 6 was toegerus met interne brandstoftenks wat 1 137 liter kon bevat. Die Mk 6 was slegs 'n Mk 5 toegerus met 'n Amerikaanse radar.

Die Javelin FAW.7 (FAW: Fighter All Weather) was 'n totale herontwerp en daar is die meeste van dié model gebou, naamlik 142. Dit het oor kragtiger 4 996 kg stukrag Sapphire 203 motors beskik en was ook toegerus met vier Firestreak infrarooigeleide lug-tot-lug missiele in stede van die twee 30 mm kanonne. Hierdie model is in Julie 1958 in diens gestel.

Die Mk 8 is toegerus met nabranders wat die stukrag tot 6 082 kg verhoog het. Mk 9 was die finale model, dit was 'n opgradering van Mk 7's na Mk 8 en toegerus met 'n invlugbrandstofhervulpyp. Vier eskaders het die voordeel van die invlughervulfasiliteit bevestig toe dit ononderbroke tot in Singapoer gevlieg het in 1960. FAW 9's is in Desember 1959 afgelewer aan 25 Eskader te Waterbeach.

Die Javelin was die laaste produk wat gebou was deur Gloster, die maatskappy het hierna saamgesmelt met Hawker-Siddeley. Die laaste Javelin is eers in Junie 1967 uit diens onttrek. Die gebruik van die vliegtuig het sy hoogtepunt bereik toe 14 eskaders van die Britse Lugmag met die vliegtuig toegerus was.

Tegniese besonderhede

[wysig | wysig bron]
Besonderhede van die Gloster Javelin Mk 1:
Item Statistiek
Aantal motore 2
Tipe motor Straler
Vervaardiger Armstrong Siddeley Sapphire ASSa.6 turbostraler
Kraglewering per motor 3 629 kg stukrag
Vlerkspan 15,85 m
Lengte 17,15 m
Hoogte 4,88 m
Vlerkoppervlakte 86,12 m2
Maks. opstygmassa 14 324 kg
Maks. snelheid 1 141 km/h
Operasionele hoogte 16 000 m
Togafstand 1 530 km met weggooibare tenks
Klimvermoë 15 250 m in 9,25 minute
Bewapening Twee 30 mm kanonne in elke vlerk

Sien ook

[wysig | wysig bron]