Gaan na inhoud

Henry Fagan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Henry Fagan
Henry Fagan

Ampstermyn
1957 – 1959
Eerste minister Hans Strijdom
Voorafgegaan deur Albert van der Sandt Centlivres
Opgevolg deur Lucas Cornelius Steyn

Regter van die Appèlafdeling
Ampstermyn
1950 – 1959

Regter van die Wes-Kaapse Appèlafdeling
Ampstermyn
1943 – 1950

Minister van Naturellesake
Ampstermyn
Junie 1938 – September 1939
Eerste minister Barry Hertzog
Voorafgegaan deur Piet Grobler
Opgevolg deur Deneys Reitz

Ampstermyn
1933 – 1943

Persoonlike besonderhede
Gebore Henry Allan Fagan
(1889-04-04)4 April 1889
Tulbagh, Kaapkolonie
Sterf 6 Desember 1963 (op 74)
Kaapstad, Kaapprovinsie, Suid-Afrika
Politieke party Verenigde Party
Alma mater Universiteit Stellenbosch
Universiteit van Londen

Regter Henry Allan Fagan (4 April 1889, Tulbagh6 Desember 1963, Kaapstad)[1][2] was 'n bekroonde skrywer (onder die naam H.A. Fagan), parlementslid, die Unie van Suid-Afrika se hoofregter van 1957 tot 1959 en die skrywer van die Engelse woorde van Die Stem van Suid-Afrika. Hy was ook Minister van Naturellesake, Opvoeding en Volkswelsyn in die Hertzog-kabinet, hoofregter van Suid-Afrika en ’n Afrikaanse digter en dramaturg wat met sy dramas die Hertzogprys verower.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Vroeë lewe en herkoms

[wysig | wysig bron]
Kerkstraat 30, Tulbagh, Fagan se geboortehuis.
Fagan was in 1907 lid van die Universiteit van Stellenbosch se Studenteraad. Hy staan regs. Die latere predikant van die NG gemeente Johannesburg-Oos en administrateur van Transvaal, William Nicol, sit in die middel.
Die Nasionale Pers het H.A. Fagan se "Die ouderling en ander toneelstukke" in 1934 uitgegee.
Die 70 studente van die Kweekskool in 1910 en hul professore. Henry Fagan sit vierde van links in die voorste ry.[3]

Henry Allan Fagan is op 4 April 1889 op Tulbagh gebore as die oudste van sewe kinders van die regspraktisyn Henry Allan Fagan (1865–1931) en Catharina Susanna Smith (1864–1937).

Die Fagans se stamvader is Henry Allan Fagan van Cork in Ierland en sy grootouers van vaderskant is Henry Allan Fagan (1837–1891), die eerste burgemeester van Tulbagh, en Sofia Rachel Johanna Bedeker (1837–1911). Die stamvader van die Smiths aan moederskant is Martinus Lourens Smith van Jutland en dit is dus ’n Skandinawiese van. Sy grootouers aan moederskant is Lourens Johannes Smith (1827–1903) en Hester Jacoba Smit (1842–1920), wat op Roodezand naby Tulbagh geboer het. Henry se ma was die suster van die bekende professor in Afrikaans en redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, professor J.J. Smith. ’n Engelse gedig van sy vader verskyn per geleentheid in The South African News[2] en jare later nog een in Die Huisgenoot, tesame met ’n Afrikaanse vertaling daarvan deur J.J. Smith. Henry se twee jonger broers en speelmaats, Lourens en Albertus, sterf binne ’n paar weke van mekaar en hy word dus as alleenloper groot. Later word twee susters (Hester en Sofia) en twee broers (Johannes en Gideon) vir hom gebore.

Opleiding

[wysig | wysig bron]

Henry begin sy skoolopleiding op Tulbagh.[4] Wanneer hy ongeveer tien jaar oud is, verhuis die gesin na die Strand en ’n paar jaar later na Somerset-Wes. Hier maak hy klaar met sy laerskoolopleiding en sy matriek. Op skool verwerf hy talle pryse vir taal en letterkunde en ook vir Wiskunde. Dit is veral sy letterkunde-onderwyser, mnr. S. Immelman, wat hom ’n belangstelling in die Nederlandse letterkunde gee en hom inspireer om self Nederlandse gedigte te skryf.

Ná skool studeer hy van 1905 tot 1910 aan die Victoria-Kollege (wat later die Universiteit van Stellenbosch[5] word), waar hy in die koshuis Tertia tuisgaan, in dieselfde tyd as J.J. Smith. Hy behaal die B.A.-graad en Senior Kerkadmissie en deur privaatlesse by dr. Cluver ook die Preliminêre LL.B.[2] Tydens sy studies hier verower hy verskeie klaspryse, insluitende die prys vir eerste plek in die B.A. in Moderne Tale. Hierdie prys was in die vorm van ’n goue medalje wat geskenk is deur die Graaf van Cornwall, later koning George V, destyds kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika. Daarna is Henry vir ses maande aan die Kweekskool, maar neem dan vir ’n kort tyd as lektor in Nederlands waar in die plek van professor W.J. Viljoen, wat toe as Direkteur van Onderwys in die Oranje-Vrystaat aangestel is. In sy studentetyd is hy vir ’n jaar redakteur van die studenteblad en ’n gedig in Nederlands van hom word ook daarin gepubliseer. In 1911 vertrek hy na Londen[5] om aan die Middle Temple in die regte te studeer. In Londen is Oswald Pirow en J.J. Smith van sy medestudente, hoewel hulle nie dieselfde kursusse volg nie. Van die Council of Legal Education, wat die eksamens vir die Inns of Court in Londen afneem, ontvang Henry ’n aantal pryse in die vorm van regsboeke van sy keuse, wat die Council in leer laat inbind het met hulle stempel daarop. As kranige skaakspeler verteenwoordig hy die Universiteit van Londen se skaakspan teen die universiteite van Oxford en Cambridge. Hy behaal in 1914 die LL.B.-graad en as lid van die Middle Temple word hy toegelaat tot die Engelse balie en later dieselfde jaar ook tot die Suid-Afrikaanse balie.

Begin van loopbaan

[wysig | wysig bron]
Die eerste foto wat van De Burger se redaksie (1916–'17) geneem is. Voor: J. Steinmeyr, dr. D.F. Malan, D.P. du Toit. Agter: J. du Toit, H.A. Fagan, C.J.L. Ruijsch van Dugteren, E.B. Grosskopf. D. de Flamingh en H. Weerts.

Begin 1914 is hy terug in Suid-Afrika en vestig hom in Kaapstad as advokaat. Hy word daarna op 30 Augustus 1914 eers sekretaris van die Komitee van Oprigters van die Nasionale Pers en in 1915 tot 1916 lid van die eerste direksie van hierdie maatskappy, maar lê albei hierdie poste weens werkdrukte in Mei 1916 neer. Vanaf 1916 tot 1919 is hy assistent-redakteur van Die Burger en doen ook redaksionele toesig oor Die Huisgenoot, waarna hy uit die koerantwese bedank.[4]

In 1920 is hy die eerste professor in Romeins-Hollandse Reg aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy keer in 1921 terug tot die Kaapse Balie en deur sy bekwaamheid en toewyding bou hy gou ’n omvangryke en lonende praktyk op. Vir ’n ruk is hy voorsitter van die Helpmekaar-beweging in die Kaapprovinsie. In 1929 bedank hy as wetsadviseur vir die Provinsiale Raad om homself beskikbaar te stel as kandidaat vir die Nasionale Party in die Hottentots-Holland kiesafdeling.[6] Hy word egter by die stembus verslaan en neem weer sy regspraktyk op en word in 1932 aangestel as waarnemende regter in Kimberley.

Toetrede tot die politiek

[wysig | wysig bron]

In Julie 1933 tree hy meer permanent tot die politiek toe wanneer hy verkies word om namens die Nasionale Party Swellendam in die Volksraad te verteenwoordig, terwyl hy steeds deeltyds as advokaat in Kaapstad praktiseer. Wanneer die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party in 1934 saamsmelt om die Verenigde Party te vorm,[7] stem die Kaapprovinsie se Nasionale Party-kongres teen samesmelting en word Henry outomaties van die samesmelting uitgesluit, hoewel hy dit gesteun het. Hierna word hy onafhanklik en in 1936 sluit hy by die Verenigde Party aan. In 1937 wys hy ’n aanstelling as regter van die hand om hom verkiesbaar te stel in die algemene verkiesing. Hy verower die kiesafdeling Stellenbosch, waarna hy in 1938 aangestel word as Minister van Naturellesake, Opvoeding en Volkswelsyn in die Hertzog-kabinet. As Hertzog in 1939 Suid-Afrika se neutraliteit in die Tweede Wêreldoorlog wil handhaaf en daardeur gedwing word om as Eerste Minister te bedank, volg Fagan hom in die Opposisie en begin ook in September 1939 om weer as advokaat te praktiseer. Hy bly egter aan as gewone lid van die Volksraad tot 1943. In Maart 1943 tree hy toe tot die Kaapse regbank en word daarna in 1950 appèlregter en vanaf 1957 tot April 1959 hoofregter van die Unie van Suid-Afrika. In sy hoedanigheid as hoofregter is hy in 1957 beklee met die Uitverende Gesag van die Unie terwyl goewerneur-generaal E.G. Jansen op buitelandse besoek was. Hy is die eerste regter wat sy ampseed in Afrikaans aflê, nadat hy die eed self uit Engels vertaal het.[8] Na sy aftrede tree hy weer toe tot die partypolitiek as stigter en leier van die kortstondige Nasionale Unie, as Verenigde Party-senator vir Natal (1961) en as kandidaat van hierdie party vir die Staatspresidentsamp (1961).

Fagan-verslag

[wysig | wysig bron]

In 1946 word hy aangestel as voorsitter van die Kommissie van Ondersoek na Naturellewette, waaruit die Fagan-verslag voortvloei. Hierin demonstreer hy op duidelike wyse die ekonomiese integrasie van die swart mense in die land en die tendense wat eindelik sal lei tot swart oorheersing. Hy verwerp totale segregasie (wat later as apartheid bekend word) as onuitvoerbaar, terwyl hy ook nie ten gunste was van gelykstelling op daardie stadium nie. Sy praktiese aanbeveling is die daarstel van konstruktiewe kommunikasiekanale en gedurige onderhandeling sodat die pad vorentoe gesamentlik op vreedsame en regverdige wyse uitgewerk kan word. As regsgeleerde maak hy reeds vroeg ’n studie oor die Verkiesingswet en procedure van die Kaapprovinsie (1915) en later ontwerp hy ’n nuwe snelskrifstelsel (gepubliseer in 1950), waaraan hy vir ongeveer 35 jaar lank aan en af gewerk het. Ná sy uittrede as hoofregter laat hy hom krities uit teen die regering se apartheidsbeleid en skryf hy die werke Ons verantwoordelikheid (1960) (wat hy feitlik gelyktydig in Engels skryf en as Our responsibility publiseer) en Co-existence in South Africa (1963), waarin hy die idee van die totale skeiding van rasse as onprakties verwerp. Hy dien ook vanaf 1938 in die redaksie van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg.[7]

Persoonlike lewe

[wysig | wysig bron]

Op 3 Junie 1922 trou hy met Queeny Theron (suster van die bekende Erika Theron), oorspronklik van Tulbagh en ’n geesdriftige liefhebber van die toneel. Die egpaar het drie seuns, naamlik Henry Allan (Hennie), Gabriël Theron (die bekende argitek Gawie) en Johannes Jacobus (Hannes), laasgenoemde wat soos sy pa ook ’n regter word. In Kaapstad is Henry saam met sy vrou betrokke by die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (KAT), waarvan hulle in 1934 medestigters is saam met onder andere M.I. Murray, Boerneef, Anna Neethling-Pohl en N.P. van Wyk Louw. KAT voer menige van sy dramas op nog voordat dit gepubliseer is. Hy neem aktief aan die kultuurlewe deel en benewens sy aktiwiteite by die Toneelvereniging is hy ook lid van die Helpmekaar-beweging, die Vlagbeweging en die Oranjeklub, terwyl hy ook een van die stigters en ’n erelid is van die Bellville Afrikaanse Toneelvereniging.

Op 6 Desember 1963 is hy aan sy huis Keurbos in Bishopscourt in Kaapstad aan ’n hartaanval oorlede.[6]

Skryfwerk

[wysig | wysig bron]

Op skool skryf Henry ’n aantal Nederlandse gedigte. Dit is egter eers tydens sy studies in Londen wat hy ernstig begin skryf. Sy moeder se jongste broer, later professor J.J. Smith en ook die eerste redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, was in daardie tyd ook ’n student in Londen. Smith se passie vir Afrikaans bekeer Fagan tot die gebruik van hierdie taal, eerder as die vereenvoudigde Nederlands wat professor W.J. Viljoen op Stellenbosch aangehang het.

C. Louis Leipoldt is in hierdie tyd ook in Londen en Smith mobiliseer die letterkundige kragte van hierdie klein Afrikaanse kring. Leipoldt se digbundel Oom Gert vertel en ander gedigte (met ’n voorwoord deur Smith) dien as groot aansporing en Fagan skryf hier sy eerste gedigte, onder andere Ouboeta en Die nooientjie van die Onderveld. Terug in Suid-Afrika is Smith een van die stigters en die redakteur van die tydskrif Ons Moedertaal en hy spoor Fagan aan om ook vir hierdie tydskrif bydraes te lewer. Sy eerste gepubliseerde werk is dan ook ’n paar kortverhale wat in Ons Moedertaal verskyn (later word hierdie tydskrif Die Huisgenoot) en wat later in sy boek Uit ’n studente-album opgeneem word. Sy aktrise vrou, Queeny Theron, moedig hom egter aan om sy kreatiewe arbeid eerder tot die drama te wend.

Drama

[wysig | wysig bron]

Dit is dan veral op die gebied van die drama wat Fagan ’n groot bydrae maak tot die Afrikaanse letterkunde en hy kan saam met J.F.W. Grosskopf beskou word as die grondlegger van die realistiese drama in Afrikaans.[4] Hy skryf ’n hele aantal vollengte-dramas en ook eenbedrywe.

In Lenie handel dit oor die reg van elke mens, maar vanweë tradisie veral van die vrou, om tot eie persoonlike ontwikkeling en selfverwesenliking te kom. Die aksie sentreer rondom die konflik tussen die baasspelerige vader en sy selfstandig-wordende dogter. Hierdie is een van die eerste dramas in Afrikaans wat ’n maatskaplike probleem aanspreek, eerder as historiese gebeurtenisse. Die vader word egter eensydig geteken en die ommekeer in die derde bedryf is daarom des te meer onvoorbereid en ongemotiveerd, terwyl die oplossing van die newemotief (die baasspelerige vryer wat skielik sy meisie in haar eie reg sien) ook onwaarskynlik aandoen. Hierdie drama geniet vir jare lank ’n feitlik ongehoorde populariteit, ten spyte van die onwaarskynlike situasies. Vir ’n herdruk in 1938 word die drama grondig hersien en die konflik versterk. ’n Fragment uit die eerste bedryf van hierdie drama word deur D.F. Malherbe in die versamelbundel Afrikaanse letterkunde opgeneem.

Op sand gebou beeld vir die eerste keer in Afrikaans ’n intrigant as karakter in ’n hoofrol uit, dit wil sê iemand wat na twee kante toe speel afhangende van wat tot sy voordeel is. Hy is dus bereid om alles en almal op te offer om sy doelwitte te bereik. Die hoofkarakter is die ambisieuse, eersugtige bywonerseun Coenraad Brink, wie se planne eindelik in duie stort omdat dit op sand gebou is. Ook die klasbewuste mevrou Schoeman kom tot ’n val. As drama is die stuk onbevredigend, veral as gevolg van die langdradigheid en gebrek aan geloofwaardige konflik daarin. By beoordeling van die Hertzogprys vir 1932 beveel een van die keurders, P.C. Schoonees, dat hierdie drama saam met werk van J.C.B. van Niekerk en C. Louis Leipoldt bekroon word.

Die ouderling en ander toneelstukke bevat twee dramas (Die ouderling en Ousus) en twee eenbedrywe (Ruwe erts en Rooibruin blare). Die ouderling handel oor die konflik oor geloofskwessies tussen ’n verligte jong predikant en ’n bekrompe ouderling en tref met sy sin vir dramatiese opbou. Die antagoniste is albei sterk figure en heilig oortuig van die  reg van hulle saak, maar kwesbaar as gevolg van misstappe in hulle verlede. Hoewel albei karakters die beste bedoelings het, lei die stryd tussen hulle tot albei se ondergang. Die evangelie van liefde word aanvanklik verbaal deur die antagoniste aangehang, hoewel hulle aksies nie noodwendig daarmee strook nie. Albei word dan slagoffers van die beloop van die wêreld. Die predikant word deur die kerkraad gedwing om te bedank, terwyl die ouderling deur ’n beroerte verlam raak. Hulle onderskeie ervarings en verlede maak die loutering in hulle lewens in die derde bedryf aanvaarbaar en die dramaturg bereik iets besonders deur die vendusieklok aan die slot tot ’n doodsklok te verdiep. Ousus word deur Kannemeyer as sy beste drama beskou.[9] Die drama speel af vanaf 1878 as die hoofkarakter Nelie omtrent twintig jaar oud is en sluit af in 1933, met Nelie reeds oor die sewentig. In hierdie tydsverloop, heg saamgebind deur die dramatiese bou en die aard van die karakters en die situasie, word uitgebeeld hoe die eise van kleinburgerlikheid op tragiese wyse lewens verwoes. Die drie bedrywe skets elkeen ’n dramatiese moontlikheid van vernuwing in Nelie se lewe. In die eerste het sy hoop om Seminarie toe te gaan en dan later met Hendrik Jooste te trou. Hierdie hoop word egter gefnuik deur haar moeder, wat van haar verwag om tuis te bly en haar Oupa te versorg, waarna haar pligsbesef haar tuis hou. Haar hoop om tog saam met haar geliefde Hendrik geluk te vind, word in die tweede bedryf verydel wanneer hy ten spyte van sy mislukte huwelik met Nelie se suster Mina tog weer gedwee saam met haar weggaan en Nelie agterbly om haar hulpbehoewende moeder te versorg. In die derde bedryf kyk Nelie magteloos toe hoe Mina ook die geluk van haar kleinkind Hennie opoffer deur hom te dwing om sy erfgeld op die nuttelose erfplaas te vermors en so sy lewensverwagtinge te vernietig. So word die verlede telkens in die hede herhaal om die toekoms net so uitsigloos soos die verlede te maak. Hierdie uitsigloosheid is egter nie onafwendbaar nie en die moontlikheid van ander keuses met ander uitkomste is elke keer daar, maar word gefnuik deur ’n oormatige pligsbesef wat voor eie geluk gestel word. Tog kan mens sien dat ander keuses hulle eie probleme sou meegebring het en waarskynlik ook nie tot menslike geluk sou lei nie, omdat hierdie keuses gemaak sou wees in teenstelling met Ousus se aard as mens. Die futiliteit van alles word aan die einde mooi geïllustreer deur Lenie wat slaafs die daaglikse rituele van die seniele Oupa aan die begin van die drama volg, met niks om na uit te sien nie en dae gevul met gedagtes oor wat kon gewees het. In 1935 word Die ouderling en ander toneelstukke met die Hertzogprys bekroon. Die ouderling en Ousus word weer gepubliseer onder die titel Twee dramas, terwyl Ousus later ook alleen heruitgegee word.

Die stille haard (saamgebundel met die eenbedryf Die swakkere vat) is ’n vollengte drama wat die inspirasie van die skrywer Bernardus Jansen uitbeeld wat smag na ’n rusplek. Hy word telkens deur sy huisgenote gesteur terwyl hy wag op inspirasie, maar raak verveeld as hy ’n ander oord soek. Hierdie drama spot gemoedelik met temperamentele skrywers, na-pratende studente op soek na gegewens vir proefskrifte en talle ander menslike swakhede.

Die nuwe wêreld (saamgebundel met die eenbedrywe Opdrifsels en Bo die kranse) beeld die konflik uit tussen kapitalisme en kommunistiese humanisme en die daarmee gepaardgaande klassestryd, soos vergestalt in die botsing tussen fabriekswerkers en hulle bestuur. Hulle selfsug en blinde najaag van eie belang lei eindelik tot albei groepe se ondergang. Gerhard de Leur, wat pas terug is van die Tweede Wêreldoorlog se gevegsfront, is die hoofkarakter. Hy probeer hard om in sy vader se fabriek die klassebewussyn af te breek, maar kry teenstand van alle oorde. Die dialoog is egter te redenerend en nie werklik realisties nie, terwyl die verskillende standpunte nie beliggaam word in oortuigende karakters nie. Die newemotief van liefde word ook onbevredigend opgelos as Ria besluit om met Gerhard te trou juis om hom by te staan in sy swakheid, naamlik sy inherente onvermoë om daadwerklik op te tree. Henry skryf ook die Engelse drama All that glitters, wat nie gepubliseer is nie en by sy dood slegs in manuskripvorm bestaan.

Eenbedrywe

[wysig | wysig bron]

Henry lewer ’n groot aantal eenbedrywe. Ruwe erts en Rooibruin blare verskyn in Die ouderling en ander toneelstukke. Ruwe erts behandel die armblanke vraagstuk wat lei tot konflik oor die beste manier van opvoeding vir minderbevoorregtes. Die gesofistikeerde, welgestelde mevrou Van der Palm probeer om die arm en onopgevoede wit diensmeisie Hannie op te voed. Mevrou van der Palm word ontbloot as oneg, want hoewel sy voorgee om liefdadigheid te beoefen, doen sy dit vir die skyn en sien in werklikheid oor die algemeen neer op haar medemens. So stel sy Hannie gelyk aan die bruin diensmeisie, wat dit duidelik maak dat sy mense volgens “klas” beoordeel. Hannie is die ruwe erts van die titel, waarin greintjies opregte goud blink, ten spyte van haar nederige afkoms. Hierdie eenbedryf word deur Gerhard J. Beukes opgeneem in die versamelbundel Skerm en masker. In Rooibruin blare kom ’n middeljarige man (Jan) met ’n oog vir jonger vroue tot die insig dat ouer vroue ook veel het om aan te bied. By ’n gemaskerde bal aan sy huis het hy bewondering vir die jong vroue, maar sy vrou Marina trek haar aan nes ’n jong dame en hy word om die bos gelei. Dit laat hom besef dat hy ook reeds een van die rooibruin blare van die ouderdom is wat nie meer by die jongmense hoort nie en dat rooibruin blare hulle eie bekoorlikheid besit. In 1935 word Die ouderling en ander toneelstukke met die Hertzogprys bekroon. Rooibruin blare word ook opgeneem in die versamelbundel Rooibruin blare en ander eenakters onder redaksie van A.J. Coetzee en deur Gerhard J. Beukes in Die lewe is ’n speeltoneel.

Die komiese eenbedryf Die swakkere vat (saamgebundel met Die stille haard) toon aan dat die vrou eintlik die laaste sê het en dus ook groter besluitnemingsmag. ’n Prokureur lewer dienste aan ’n jong paartjie (Bonthuys en Bella) wat wil trou en die enigste twyfel van die kêrel is of hy nie liewers £2000 in stede van £1000 aan sy bruid moet bemaak nie, want wat maak £1000 nou eintlik saak wanneer jy niks besit nie? Dan arriveer ’n ouer paar (mnr. en mev. Faure) wat wil skei. Die enigste twyfel wat die man het om dit onmiddellik te doen, is dat hy dan aan sy vrou die £1000 sal moet gee wat hy haar voor hulle troue in die huweliksvoorwaardeskontrak beloof het, en dit is darem ’n baie gevoelige verlies om te ly. Wanneer die prokureur hierdie twee aangeleenthede hanteer het, kom hy agter dat sy knap sekretaresse eintlik baie meer in beheer is as wat hy gedink het. Hierdie eenbedryf is ook opgeneem in Ses eenbedrywe en Spel en spelers onder redaksie van Gerhard J. Beukes en is volgens Beukes geïnspireer deur James Barrie se The will.

Die eenbedrywe Opdrifsels en Bo die kranse word saam met Die nuwe wêreld gebundel. In Bo die kranse speel toeval ’n te groot rol en waar sake feitlik onafwendbaar op ’n tragedie afstuur, neem dit alte skielik ’n gunstige wending. Verder is daar nie sprake van werklike konflik nie, met uitbarstings wat teenoor ander karakters gerig is maar wat telkens in hulle afwesigheid uitgespreek word. Die jong dokter Dirkie sterf nadat hy van Tafelberg afval. ’n Jaar later is Ella (wat op Dirkie verlief was), Dirkie se pa en ma, Albert (wat op Ella verlief is) en drie ander persone op die berg. Albert verongeluk amper op dieselfde plek waar Dirkie gesterf het en op aandrang van Dirkie se ouers neem Ella afskeid van Dirkie se gedagtenis en beantwoord Albert se liefde. Bo die kranse word deur F.C.L. Bosman opgeneem in die versamelbundel Vier uitgesoekte eenbedrywe en deur W.P. Steenkamp in Bo die kranse. Opdrifsels se titel verwys beide na die mense as “opdrifsels” van die gemeenskap en na die wegvoer van voorwerpe deur die oorstromende drif. Dit word allerweë as een van Fagan se beste dramas gereken. Die stuk bevat ’n mikrokosmos van plattelandse karakters en ’n verskeidenheid godsdienstige oortuigings, wat in die sterk dramatiese bonatuurlike verloop aangespreek word. Silbermann se hotel is die bymekaarkomplek van allerhande karakters wat deur die reën en die opstoot van die spruit in die drif hiernatoe gedwing word. So kom onder andere die Jood Silbermann, die kleinboer Jan Swart, die diensmeisie Koba, die dokter Theo van Heerden, die armblanke sukkelaar Sampie Moolman en die verwaande grootboer mnr. Du Toit bymekaar uit, almal voorbeelde van bekende karakters op die platteland. Die karakters en hulle huigelagtigheid en opregtheid word teenoor mekaar gestel en sodoende lewer die dramaturg skerp sosiale kommentaar. Dr. Van Heerden moet ’n baie siek vrou gaan besoek, maar kry ’n visioen van ’n man wat gaan verdrink en wag dan in die hotel. Die kleinboer Swart nooi hom om saam met hom op die wa deur te gaan, maar die dokter weier en Swart maak dit maklik deur die drif. ’n Vreemdeling wil ook deurgaan, maar die dokter slaag daarin om hom te oortuig dat dit te gevaarlik is. Onder die indruk dat die tragedie afgeweer is, ry die dokter dan met sy kar deur die drif, net om te verdrink. So word die enigste edele, waardevolle en dienende lewe tussen die lewe se selfsugtiges en inhaliges deur die drif as opdrifsel weggevoer. T.T. Cloete neem Opdrifsels op in die versamelbundel Vyfling, wat eenbedrywe van Hertzogpryswenners bevat.

Die kroon op sy hoof word deur Gerhard J. Beukes opgeneem in Nuwe eenbedrywe en Kom ons speel toneel! en deur Charles Fryer in Kollig. Dit is ook ’n uitbeelding van die konflik tussen die geslagte, waarin die spot gedryf word met die man wat hom verbeel dat hy in beheer is, maar in werklikheid deur die vrou gemanipuleer word. Geliefde vreemdeling word deur Gerhard J. Beukes in Vyf nuwe eenbedrywe opgeneem. Hierdie eenbedryf vind plaas in die teekamer van die Kaapstadse lughawe. ’n Idealistiese jong vrou is ontnugter wanneer sy haar penvriend ontmoet, maar op ’n vliegtuig vind sy later tog die held van haar drome. Die eenbedryf Voor die poort is in 1939 deur die Afrikaanse Skrywerskring in Johannesburg uitgegee.

Prosa

[wysig | wysig bron]

Sy vroeë naturalistiese prosa word in Uit ’n studente-album gebundel en bevat ses kortverhale, waarvan twee humoristies van aard is. Die skets Oom Frikkie se brand het voorheen reeds in die Joernaal van die Viktoria-Kollege Debatsvereniging verskyn. Hierin gee hy reeds blyke van sy dramatiese vermoë om kontrasterende karakters in hulle spraak uit te beeld en sy aanvoeling vir humor. Die vondeling is die verhaal van die buitengewoon skrander Japie du Toit, wat weens sy afkoms nie deur die samelewing aanvaar word nie. Hy besluit om op grond van sy verstand en eerbare inbors sy lewe te lei, maar met sy ondergang word die onmenslikheid van die samelewing in al sy felheid ontbloot. Die ander sketse is meestal tydens sy verblyf as student in Londen geskryf en is duidelik nog jeugwerk. Sy styl is egter goed versorg en die verhale lees maklik. Hy sluit ook enkele prosastukke in ’n Eerste digbundel in.

In 1956 publiseer hy ’n Engelse wetenskapfiksieroman, Ninya, wat oor ’n beskawing op die donker kant van die maan handel. Verder vertaal hy Immensee en ander verhale van Theodor Storm in Afrikaans. Sy verhaal Op ’n vakansiereis word deur Daniel Hugo in die versamelbundel Tydskrif opgeneem. Die verhaal speel af in Duitsland voor die Eerste Wêreldoorlog en behandel ’n liefdesgeskiedenis waarin die klasseverskil tussen die geliefdes eindelik die deurslag gee.

In 1921 stel hy die versamelbundel Uitgesogte Afrikaanse verhale saam, waarin hy verhale opneem van Helene Oldendorf, T. Schumann, G.R. von Wielligh, Rikie Postma, F.E. de Villiers, C.R. Swart, Eugène C. van Wijk, Sarah Goldblatt, Essie Malan, Frina Roux, Marjorie Hofmeyr, Chris Fourie, N.H. Theunissen, D.W. Wessels en Veritas. Meeste van die verhale is sonder veel meriete en toon gebrekkige vakmanskap in die skryf van kortverhale.

Nie-fiksie

[wysig | wysig bron]

Hy skryf ook nie-fiksie. As regsgeleerde maak hy reeds vroeg ’n studie oor die Verkiesingswet en procedure van die Kaapprovinsie (1915) en later ontwerp hy ’n nuwe snelskrifstelsel (Snelskrif” ’n nuwe stelsel, gepubliseer in 1950), waaraan hy vir ongeveer 35 jaar lank aan en af gewerk het. Ná sy uittrede as hoofregter laat hy hom krities uit teen die regering se apartheidsbeleid en skryf hy die werke Ons verantwoordelikheid (1960) (wat hy feitlik gelyktydig in Engels skryf en as Our responsibility publiseer) en Co-existence in South Africa (1963), waarin hy die idee van die totale skeiding van rasse as onprakties verwerp.

Poësie

[wysig | wysig bron]

Reeds op skool skryf hy ’n paar gedigte in Nederlands, met een daarvan wat in sy eerste digbundel opgeneem word. Twee digbundels verskyn van hom, naamlik ’n Eerste digbundel en Soos die windjie wat suis. ’n Eerste digbundel, wat die digkuns van die tweede geslag na 1900 inlei, toon nog die invloed van sy tyd in terme van digterlike vorm en toonaard. Sommige van veral die ballades is nie vry te spreek van die oordrewe sentimentele aard van die rymelary van die Eerste Taalbeweging nie. Dit is ’n skraal bundel, met slegs elf gedigte en twee prosastukke en bevat ’n paar gevoelige stemmingsgedigte, terwyl meeste mymerings is oor lewensvraagstukke wat deur rymdwang en retoriese taalgebruik ontsier word. Die lang gedig in Nederlands oor De vrouwen van het voorgeslacht is op versoek van president Steyn geskryf, ter geleentheid van die onthulling van die Vrouemonument.

Baie van die gedigte van hierdie bundel word later grondig hersien en verbeter en saam met sowat veertig nuwe gedigte uitgegee as Soos die windjie wat suis. Die titel van hierdie bundel is na aanleiding van ’n gedig van Adriaan Moorrees. Die digter toon vaardigheid met sy beeldspraak en hantering van die tug van veral die sonnetvorm. Hy toon ’n voorliefde vir die Shakespeariaanse sonnet, terwyl enkele romantiese verhalende gedigte ook ingesluit word.[10] Die beste werk is die stemmingsverse, met die sonnet By die dood van ’n vriend wat die intimiteit op voortreflike wyse verwoord. Veral Ek het ’n huisie by die see verwerf groot bekendheid. In hierdie gedig word die geloof uitgespreek dat die huisie wat op ’n rots staan die wind en weer sal kan trotseer. Hierdie gedig word later in verskeie bloemlesings opgeneem en ook deur Laurinda Hofmeyr getoonset en deur onder andere Laurika Rauch gesing. Die bundel bevat ook die eerste Afrikaanse verwerking van Nkosi Sikelel' iAfrika. In die nag, Ek het geswerwe oor die oseaan en Waar troon die magte wat oor my regeer? is verdienstelike sonnette, met laasgenoemde waarin die spreker worstel met die probleem dat die mens met die ganse skepping besig is, maar homself nie na behore kan beheer en die magte wat binne hom werk kan peil nie. Verder is daar vertaalde liedere van Heine en Thomas Moore en ’n aantal balladeske verse.

Versamelbundels

[wysig | wysig bron]

Fagan skryf enkele sterk gedigte en sy gedigte is dan ook verteenwoordig in verskeie versamelbundels, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Uit ons digkuns, Digters en digsoorte, Afrikaanse ballades, Afrikaanse letterkunde”, Digters op die toring, Digters en digkuns, Die junior digbundel, Nuwe klein verseboek, Uit ons letterkunde, Woordpaljas, My Afrikaanse verseboek, Voorspraak en Junior verseboek. Enkele van sy gedigte word ook gepubliseer in Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring.

Eerbewyse

[wysig | wysig bron]

Vir sy werk op die gebied van die regte ontvang hy in 1957 ’n eredoktoraat (LL.D.-graad) van die Universiteit van Stellenbosch, die eerste sodanige toekenning deur die universiteit. In 1959 huldig die Nasionale Toneelorganisasie hom tydens ’n plegtigheid in Bellville, waar lede van die amateur Bellville Afrikaanse Toneelvereniging een van sy stukke opvoer. Die Universiteit van die Witwatersrand ken in 1960 ook ’n eredoktoraat aan hom toe.

Publikasies

[wysig | wysig bron]

Werke uit sy pen sluit in:[11][12]

Fiksie

[wysig | wysig bron]
Jaar Naam van publikasie
1917 ’n Eerste digbundel

Uit ’n studente-album

1923 Lenie
1932 Op sand gebou
1934 Die ouderling en ander toneelstukke
1945 Die stille haard en Die swakkere vat
1947 Die nuwe wêreld
1949 Soos die windjie wat suis
1956 Ninya
1957 Twee dramas
1962 Drie eenakters
1972 Ousus

Nie-fiksie

[wysig | wysig bron]
Jaar Naam van publikasie
1915 Verkiesingswet en -procedure van die Kaapprovincie
1950 Snelskrif: ’n nuwe stelsel
1960 Ons verantwoordelikheid

Our responsibility

1963 Co-existence in South Africa

Samesteller

[wysig | wysig bron]
Jaar Naam van publikasie
1921 Uitgesogte Afrikaanse verhale

Vertaling

[wysig | wysig bron]
Jaar Naam van publikasie
1918 Immensee – Theodor Storm

Bronne

[wysig | wysig bron]
Boeke
  • Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk Derde hersiene uitgawe Tweede druk 1964
  • APB-Komitee vir Skoolboeke. Die junior digbundel. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Sesde druk 1963
  • Askes, H. en Landman, J.N. (samestellers) Voorspraak. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe Tiende druk 1994
  • Beukes, Gerhard J. Die moderne eenbedryf. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Vierde druk 1970
  • Beukes, Gerhard J. (red.) Nuwe eenbedrywe. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Eerste druk 1952
  • Beukes, Gerhard J. (red.) Skerm en masker. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Agtste druk 1964
  • Beukes, Gerhard J. en Lategan, F.V. Skrywers en rigtings. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Eerste uitgawe 1952
  • Beukes, Gerhard J. (red.) Spel en spelers. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Eerste uitgawe 1988
  • Beukes, Gerhard J. (red.) Vyf nuwe eenbedrywe. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Tweede druk 1961
  • Bosman, F.C.L. Vier uitgesoekte eenbedrywe. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Tiende druk 1969
  • Brink, André P. Aspekte van die nuwe drama. Academica Pretoria en Kaapstad Tweede hersiene uitgawe 1986
  • Buning, Tj. Uit ons digkuns. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Nuwe omgewerkte druk 1960
  • Buning, Tj. H.A. Fagan. in Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
  • Cloete, T.T. Vyfling. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe Elfde druk 1973
  • Coetzee, A.J. Rooibruin blare en ander eenakters. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Tweede uitgawe Tweede druk 1979
  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970
  • Fagan, Queeny (samesteller) Henry Allan Fagan 1889–1963. Privaat publikasie Kaapstad 1975
  • Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk 1988
  • Kannemeyer, J.C. Opstelle oor die Afrikaanse drama. Academica Kaapstad Pretoria Eerste uitgawe 1970
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
  • Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
  • Krige, Uys. Die naamlose muse. Protea Boekhuis Pretoria, Eerste uitgawe 2002
  • Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Academica Pretoria en Kaapstad Vierde uitgawe Eerste druk 1973
  • Malherbe, F.E.J. Aspekte van Afrikaanse literatuur. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth Eerste uitgawe 1940
  • Mostert, J.P.C., Politieke Partye in Suid-Afrika, Instituut vir Eietydse Geskiedenis, U.O.V.S., Bloemfontein, 1986.
  • Nasionale Pers Beperk. Ons skrywers en hul werke: ’n Plate-album. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad 1936
  • Nienaber, P.J. (samesteller) Digters en digkuns. Afrikaanse Pers-Boekhandel Derde druk 1954
  • Nienaber, P.J., Roodt, P.H. en Snyman, N.J. (samestellers) Digters en digkuns. Perskor-Uitgewers Kaapstad Vyfde uitgawe Sewende druk 2007
  • Nienaber, P.J. Die Hertzogprys Vyftig Jaar. Nasionale Boekhandel Kaapstad Eerste uitgawe 1965
  • Nienaber, P.J. Hier is ons skrywers! Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Eerste uitgawe 1949
  • Nienaber, P.J. Jonger skrywers oor eie werk. “Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Eerste uitgawe 1951
  • Nienaber, P.J,; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
  • Nienaber, P.J.; Erasmus, M.C.; Du Plessis, W.K. en Du Plooy, J.L. Uit ons letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel Sewende druk 1968
  • Opperman, D.J. Junior verseboek. Nasionale Boekhandel Beperk Kaapstad Agste druk 1960
  • Pheiffer, R.H. Woordpaljas. Human & Rousseau Kaapstad en Johannesburg Derde uitgawe Derde druk 1993
  • Pienaar, E.C. Taal en poësie van die Twede Afrikaanse Taalbeweging. Nasionale Pers Beperk Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein Vierde vermeerderde druk 1931
  • Pretorius, Réna. Oog en spel. J.L. van Schaik (Edms,) Bpk. Pretoria Eerste uitgawe 1987
  • Rosenthal, Eric, Encyclopaedia of Southern Africa, Juta and Company Limited, Kaapstad en Johannesburg, 1978.
  • Scannell, J.P., Die Afrikaanse Kernensiklopedie, Nasionale Boekhandel Beperk, Kaapstad (et. al.), 1965.
  • Schutte, H.J. H.A. Fagan (1889–1963). in Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 2. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1999
  • Van den Heever, C.M. (samesteller) My Jeugland. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Eerste druk 1953
  • Van der Merwe, Jaco (red.) Die lewe is ’n speeltoneel. Afrikaanse Pers Boekhandel Johannesburg Tweede uitgawe Eerste druk 1975

Tydskrifte en koerante

[wysig | wysig bron]
  • Odendaal, L.B. Skerm en masker saamgestel deur Gerhard J. Beukes. Tydskrif vir Letterkunde,Nuwe reeks 18 no. 4, November 1980
  • Prins, M.J. Bo die kranse’ van H.A. Fagan. Tydskrif vir Letterkunde, Jaargang 21 no. 1, Februarie 1983
  • Prins, M.J. 'Vyfling’, saamgestel deur T.T. Cloete. Tydskrif vir Letterkunde, Jaargang 23 no. 1, Februarie 1985
  • Schutte, H.J. Drie dramas uit ‘Vyfling’. Tydskrif vir Letterkunde, Nuwe reeks 18 no. 1, Februarie 1980
  • Van Deventer, Susanne. ’Nkosi Sikelel' iAfrika’ en ander voorgeskrewe gedigte. Tydskrif vir Letterkunde, Jaargang 33 no. 4, November 1995

Internet

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. De Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, HENRY ALLEN FAGAN[dooie skakel], besoek op 6 Junie 2007
  2. 2,0 2,1 2,2 LitNet ATKV-Skrywersalbum 5 Oktober 2011: http://www.litnet.co.za/ha-fagan-18891963/ Geargiveer 16 Augustus 2016 op Wayback Machine
  3. Boonste Ry: Andries Stockenström; H.J. de Villiers; J. Reyneke, B.A.; Ezra Pienaar; P. van der Hoven; H.A. Boshof; C. Muller; N. van Rensburg; R. Theron, B.A.; J. Moolman, B.A.; J. Le R. Cilliers; D.P. Ackerman, B.A.; J.H.M. Stofberg; T.J. Minnaar; P.C. Hitchcock; F.J. van der Merwe; C.J. Stander; M.B. Brink; C.G.R. du Toit, B.A.; L. Lochner, B.A. Tweede Ry: J. Van Zyl le Roux; L.P. Snyman; J. Rabie; D.S.B. Joubert, B.A.; H.E. Steyn; M.L. de Villiers, B.A.; S. Feneysey; F.H. Badenhorst; P.J. Viljoen; H.S. Pretorius, jr.; C.J. van Niekerk. Derde ry: J.A. v. A. Smuts; D.J. Gildenhuys; B.B. Keet, M.A.; J.H. Blignault; L.J. Fourie; William Nicol, B.A.; J.G. Pauw; F. Koch; P.J.B. Shaw; G. De C. Murray; H.S. Pretorius; G.C. van Rooyen; C.J. Grobler; D.F. Barnard, B.A.; J. Le R. Retief; H.W. Ziervogel; J. Le R. Hauptfleisch; J.D. Roos. Vierde Ry: J.P.H. Steyn; H.J. de Vos, B.A.; P.A. Alheit; J.S. Marais, B.A.; prof. Adriaan Moorrees; prof. Marais; prof. de Vos; prof. Muller; J.A. van der Merwe, B.A.; C.R. Kotze; J.G. Strijdom; T.I. van Wijk. Vyfde Ry: N.J. van der Merwe, B.A.; A.C. Stegman, B.A.; W.C. Erasmus, B.A.; H.A. Fagan, B.A.; C.J. Liebenberg; H.J. Badenhorst; J.A. Pienaar; P.A. Theron; P.J. du Plessiss; J.R. Alheit; B.F. van der Merwe; H.J. Reyneke; A.J. Olivier.
  4. 4,0 4,1 4,2 Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/H.A._Fagan
  5. 5,0 5,1 Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Fagan,_Henry_Allan
  6. 6,0 6,1 SA Bar: http://www.sabar.co.za/law-journals/1990/april/1990-april-vol003-no1-pp28-30.pdf Geargiveer 6 April 2017 op Wayback Machine
  7. 7,0 7,1 African History: http://africanhistory.about.com/od/apartheidterms/g/def_Fagan.htm
  8. SA Bar: http://www.sabar.co.za/law-journals/1990/april/1990-april-vol003-no1-pp28-30.pdf Geargiveer 6 April 2017 op Wayback Machine
  9. Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984
  10. Antonissen, Rob. Standpunte, No. 20, Julie 1951
  11. Digitale Bibliotheek voor Nederlandse Letteren: http://www.dbnl.org/auteurs/zuidafrika/auteur.php?id=faga001
  12. Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-n79-63425/

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]