Belgravia, Johannesburg
Belgravia | |
---|---|
Die destydse NG kerk Belgravia in Blorestraat. Nadat die gemeente in 1980 by die NG gemeente Malvern ingelyf is, het dit 'n tyd lank die Engelstalige NG gemeente Andrew Murray gehuisves. | |
Koördinate: 26°12′16″S 28°04′32″O / 26.20444°S 28.07556°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Munisipaliteit | Stad Johannesburg |
Hoofplek | Johannesburg |
Poskode (strate) | 2094 |
Poskode (posbusse) | 2043 |
Belgravia is ’n eens spogbuurt in die ooste van Johannesburg, wat ’n onderafdeling vorm van die voorstad Jeppestown. Dit kan beskou word as Suid-Afrika se eerste beveiligde woonbuurt omdat toegang tot 1903 deur hekke, wat snags gesluit is, beperk is.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Belgravia is in 1894 deur die eiendomsmaatskappy Jeppe & Ford (volgens ’n ander bron deur die Jeppe-Abe Bailey-myngroep) aangelê as Johannesburg se tweede gegoede woongebied. Geen winkels of handelsake is toegelaat nie, elke huis mag slegs deur een gesin bewoon word en daar was hekke (wat in 1903 verwyder is) by die ingang na die buurt wat snags gesluit is om ongewenste elemente uit te hou en waar tolgeld gehef is om die buurt se strate in stand te hou.
In Belgravia het sir J.B. Robinson en sir Abe Bailey luukse herehuise bewoon (sir Julius Jeppe het sy herehuis Friedenheim aan hom verkoop). In 1901 het lord Kitchener Jeppe se woning as sy hoofkwartier tydens die Tweede Vryheidsoorlog beset. Dié huis het van 1916 af as ’n koshuis van die Hoër Seunskool Jeppe gedien, maar het mettertyd verval tot dit in die 1960’s onveilig verklaar en gesloop is.
Toe Parktown aangelê word volgens moderne stadsbeplanningsbeginsels met kontoerpaaie, het talle gesinne uit Belgravia en Doornfontein daarheen verhuis sodat Belgravia sy eertydse glorie verloor en nooit herwin het nie.
Belgravia is omstreeks die middel van die 20ste eeu reeds as afsonderlike voorstad uitgefaseer. In 1934 het die stadsraad nog sy munisipale kiesers afsonderlik aangedui toe 679 Afrikaans- en 2 225 Engelssprekend was. In 1949 het albei getalle min of meer halveer tot 341 en 1 115, maar dit word in die bron tussen hakies aangedui. In 1961 het net twee en vyf oorgebly.[1]
Fotogalery
[wysig | wysig bron]-
'n Uitsig op Belgravia, Johannesburg, na die ooste met sir Julius Jeppe se herehuis Friedenheim links op die agtergrond teen die heuwel.
-
Toegang tot Belgravia is tot 1903 deur dié hekke beheer, wat snags gesluit is om ongewenste elemente uit te hou. Tolgeld is ook gehef om die buurt se strate in stand te hou. Die hekke is verwyder weens teenstand daarteen.
-
Die argitek John Beardwood het die herehuis Rathmines, genoem na die voorstad in Dublin waar hy en sy gesin gewoon het, ontwerp en in 1903 in Belgravia laat bou. Dit staan nog op die hoek van Marshall- en Scottstraat.
-
In in dié gebou in Bergstraat is die duddelmedium- Hoër Handelskool Belgravia tot 1972 gehuisves. Dit huisves van 1999 af die St. James Prepatory School.
-
Salisbury House op die hoek van Berg- en Marshallstraat het eers bekendgestaan as Bern's Building. Ene Anderson het dit in 1908 gekoop en herdoop tot Salisbury House na aanleiding van 'n onderwyseres, mej. Kate Salisbury, aan die St. Mary's Diocesan School oorkant die straat. Die gebou is al in twee flieks gebruik, The Foster Gang en The Cavaliers.[2]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bronne
[wysig | wysig bron]- (en) Potgieter, D.J. (ed.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, volume 6. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
- (en) Johannesburg 1912: Jeppestown en Belgravia. URL besoek op 3 November 2017.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (af) Stals, prof. dr. E.L.P (red.). 1978. Afrikaners in die Goudstad. Deel 1. 1886 - 1924. Kaapstad en Pretoria: HAUM.
- ↑ (en) Johannesburg 1912, Jeppestown and Belgravia part 2. URL besoek op 4 Februarie 2018.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (en) Die ligging van die tolhekke op die hoek van Berg- en Marshallstraat. URL besoek op 3 November 2017.
- (en) Die geboue wat die St. James Prepatory School huisves, was tot einde 1972 die tuiste van die dubbelmedium-meisieskool Hoër Handelskool Belgravia. URL besoek op 3 November 2017.