Gaan na inhoud

Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Gereformeerde Kerk
Pretoria-Annlin
Sluit in  Annlin (en uitbreidings)
Cynthiavale
Doornpoort (fase 1 en 2)
Sinoville-Wes
Wonderboom
Wonderboom-hoewes
Klassis  Trans-Magalies/Trans Mogale
Huidige predikant(e)  Pieter Kurpershoek
Belydende lidmate  631
Dooplidmate  132
Adres H.v. Braam Pretoriusstraat
en Kaneelbaslaan
Wonderboom
Pretoria
Geskiedenis
Stigtingsdatum  16 Oktober 1965
Afgestig van  Eloffsdal-Wonderboom-Suid
Eerste predikant  J.H. Boneschans (1965–1969)
Ds. Jan Boneschans was van 1965 tot 1969 die Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin se eerste predikant.

Die Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin is ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), geleë in die noorde van Pretoria. Die gemeente se bedieningsgebied lê hoofsaaklik noord van die Magaliesbergreeks met die Apiesrivier as westelike grens. Die oostelike grens val saam met die oostelike grens van die voorstad Wonderboom, maar dan word ook voorstede verder noord soos Sinoville en Doornpoort ingesluit. Daar is ook ’n groot aantal mense wat buite hierdie gebied woon en wat uit vrye wil lidmate van die gemeente wil wees.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]

In 1958 was daar maar enkele Gereformeerde lidmate woonagtig noord van die Magaliesberg en oos van die Apiesrivier. Hierdie lidmate het destyds binne ’n wyk van die Gereformeerde Kerk Eloffsdal-Wonderboom Suid geval. Die ontwikkeling van die gebied noord van die Magaliesberg het egter so vinnig plaasgevind dat die Pretoria-Annlin gemeente in 1965 as onafhanklike gemeente van die gemeente Eloffsdal-Wonderboom Suid kon afstig. Die enigste ander Gereformeerde kerke, noord van die Magaliesberg  was op daardie stadium Pretoria-Noord en Wonderboompoort. Beide hierdie gemeentes was egter wes van die Apiesrivier geleë.

Die kerkgebou, kort nadat dit in 1974 in gebruik geneem is.

Twee jaar voor die afstigting van Pretoria-Annlin, in 1963, het ds J.H. Boneschans ’n beroep aanvaar as mede-leraar van die Gereformeerde Kerk Eloffsdal-Wonderboom-Suid. Die nuwe kerkraad van Pretoria-Annlin beroep toe net na die afstigting vir ds Boneschans as hul eerste predikant.

Aanvanklik was die eredienste in die klein kerksaaltjie in die staatsdorp van die Wonderboom-Lughawe gehou maar later is die dienste verskuif na die skoolsaal van die Laerskool Wonderboom. Ds. Boneschans het in 1969 ’n beroep na die destydse Salisbury in Rhodesië (vandag Zimbabwe) aanvaar en ds. P.C. Snyman het hom as predikant van Pretoria-Annlin opgevolg.

Die vergrote kerkgebou van die Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin, 2019.

Kerkbou

[wysig | wysig bron]

Twee erwe, Nr 121 en 122 van Annlin was aanvanklik deur suster A.E. van der Linde aan die Gereformeerde Kerk Eloffsdal-Wonderboom-Suid geskenk en hierdie twee erwe asook ’n bedrag van R2 420,00 het as bruidskat na die Pretoria-Annlin gemeente gegaan. ’n Verdere 1 morg grond is deur suster C.M van Deventer aan die kerk geskenk en dit is die grond waarop die kerkgebou vandag staan. Die gemeente het hard gewoeker om hul boufonds so vinnig moontlik te laat groei en in 1972 gee die kerkraad vir argitek Johan de Ridder, lidmaat van die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside, opdrag om die kerkgebou te ontwerp. Die bouaannemer was ook ’n Gereformeerde, nl. J. Vierbergen wat onder die naam M.K. Bouers die kerkgebou voltooi het. Ds. P.C. Snyman het die gedenkplaat op die kerk se voorstoep op 20 April 1974 onthul en kort daarna, op 3 Augustus 1974, is die orrel met 800 pype in gebruik geneem. Die teksvers op die gedenkplaat is 1 Korintiërs 3:9: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” Die kerkgebou is op 20 April 1974 amptelik met ’n erediens in gebruik geneem.

’n Interessante aspek is dat die Nagmaalservies en doopbak uit die Gereformeerde kerk Eldoret in Kenia kom, wat in 1966 ontbind het.

In 1975 aanvaar Ds Snyman ’n pos as pastorale terapeut by die Castle Carey Kliniek vir alkoholiste en op 17 Augustus word ds Snyman eervol losgemaak uit die amp van bedienaar van die Woord. Nadat die gemeenteleraar 5 maande vakant was, aanvaar ds Andries Myburg ’n beroep na die gemeente.

Die gemeente het bly groei en in 1977 stig Magalieskruin van die Pretoria-Annlin gemeente af.

Latere ontwikkelings

[wysig | wysig bron]

In 1978 het die kerkraad besluit om die kerkgebou te vergroot vanweë ’n steeds toenemende lidmaattal. Die sykante is uitgebou en die werk is weereens deur broeder Vierbergen onderneem. Op hierdie stadium is katkisasie nog steeds op Sondae by die Laerskool Wonderboom aangebied. Die kerkraad en gemeente het egter besluit dat eie katkisasielokale asook ’n kerksaal nodig is en hierdie kompleks word in 1981 in gebruik geneem. Die kerksaal het plek vir 450 mense en altesaam 12 katkisasielokale is gebou.

Die groei in aantal lidmate noop die kerkraad om meerdere bediening te oorweeg. Hulle gaan tot hierdie stap oor en beroep dr. Jan L. Venter wat in die amp bevestig is op 7 Julie 1984. Die twee predikante, di. Myburg en Venter bedien die gemeente tot in 2001 toe ds. Myburg emeriteer a.g.v. ’n beroerteaanval. In 2000 aanvaar ds. Attie Venter ’n beroep na die gemeente.

Dr. Jan Venter emeriteer in 2008 en word deur beroeping opgevolg deur die volgende predikante: Dr. Nico Vorster van 2008 tot 2011, dr. Heinrich Zwemstra van 2012 tot 2017 en ds. Gideon van der Merwe van 2018 tot 2023.

Beide di. A. Venter en G. van der Merwe verlaat die bediening in April 2023 - ds. A. Venter as gevolg van gesondheidsredes en ds. G van der Merwe wat hom geroepe gevoel het om na 'n ander staat van lewe oor te gaan. Ds. Van der Merwe het 'n voltydse pos as direkteur van "Disciples Go Ministries" aanvaar, 'n organisasie wat hom beywer om dissipels van Jesus te maak en om ook om hulle as dissipelmakers op te lei.

Die gemeente beroep ds. Pieter Kurpershoek en hy begin sy bediening as enkelleraar van die gemeente in Oktober 2023. Hy is vandag nog die predikant van die gemeente.

Op 4 Mei 2019 stig 'n Engelse gemeente, Grace Reformed Church, af van Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin. Dr. Brian De Vries was vanaf die ontstaan van die gemeente die predikant tot 2024 waarna Ds Mauritz Bezuidenhoudt beroep is en as leraar van die gemeente bevestig is. Die kerkgebou en fasiliteite word deur die twee gemeentes gedeel.

Die sendingopdrag is hoog op die prioriteit van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin en lidmate is aktief met evangelisasie in eie omgewing, omliggende gebiede en in die buiteland. Bybels word ook jaarliks versprei na mense wat nie ’n bybel kan bekostig nie.

Galery

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • Feesblad: Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin 1965-1985.
  • Feesblad: Constitution of Grace Reformed Church of Northern Pretoria - 4 May 2019