Hokkie
Geskiedenis
Affies het vir die eerste keer in 1994 op ‘n georganiseerde basis hokkie aangebied. Sedertdien het die skool homself as een van Suid-Afrka se voorste hokkieskole bewys.
Volg gerus hierdie skakel om die 2024-bepalings te sien:
Geleentheid tot deelname
Affies akkommodeer jaarliks ongeveer 250 spelers in die o/14A – D, o/15A, o/16A – F en senior spanne 1 – 6.
Die hokkieprogram word deur die loop van die jaar deur hokkiespesialiste, wat op beide provinsiale- en nasionale vlak afgerig het, gelei.
Elke span het ‘n personeellid en ‘n eksterne afrigter wat tans hoëvlakhokkie speel. Dit verseker dat alle Affie-spelers aan huidige tendense in die spel blootgestel word.
Bepalings en Ligas
Affies se A- en B-spanne neem nie aan die Pretoria-liga deel nie. Die C-, D-, E- en F-spanne ding wel mee in die Pretoria-ligas aangesien dit hulle meer geleenthede vir speeltyd bied.
Gedurende die hokkieseisoen speel die spanne teen al die Pretoria-skole, asook interskole-wedstryde teen onder andere Paarl Gimnasium, Grey Kollege, Maritzburg College, KES, en Jeppe.
Sedert 2020 neem Affies aan die nuutgestigte kompetisie vir die Noord-Gauteng Beker deel, wat op die laaste naweek van die eerste kwartaal plaasvind.
Toernooie en toere
Affies is sedert 2012 `n permanente lid van die Founders Festival.
Dit bring mee dat die o/19A-, o/16A- en die o/14A-spanne aan jaarlikse toernooie teen Northwood (Durban), Paul Roos Gimnasium, (Stellenbosch) Kearsney College (Durban), Potchefstroom Boys High, Dale College (King Williamstown), Rondebosch en SACS (beide Kaapstad) blootgestel word.
Affies se eerste span is ook jaarliks by die KES Easter Festival in aksie.
Affies poog om aan soveel as moontlik spanne oor alle ouderdomsgroepe op toer te stuur. Hierdie toere beoog om die seuns blootstelling te gee tot die ervaring van ‘n sporttoer, sowel as om aan hulle die geleentheid te gee om teen skole van buite ons provinsie kragte te meet.
Fasiliteite
Affies beskik oor ‘n watergebaseerde Astro-sintetiese baan wat met die Afrikaanse Hoër Meisieskool gedeel word, en twee grasvelde wat vir hokkie reserveer is. Affies het ook ‘n nuwe mini-astro in 2017 in gebruik geneem, waarop vaardighede ingeoefen word en 5-aan-‘n-kant-hokkie gespeel kan word.
Krag en kondisionering speel ‘n belangrike rol in die sukses van die seuns se ontwikkeling. Alle kondisionering-sessies word in die skool gimnasium, deur mnr. Justin Swan, die huidige kondisioneringsafrigter van die Suid-Afrikaanse O/21 Manshokkie-span, gelei.
Nuwe verwikkelinge
1.) o/15A-span gestig in 2020.
2.) AHS het amptelike doelwagter en ‘dragflicking’ afrigters aangestel vir die seuns wat hierdie belangrike vaardighede moet ontwikkel.
3.) Nuwe telbord met ‘n videotoring bo-aan.
4.) Nuwe kondisioneringsprogram vir die o19A, o16A en o14A spanne.
5.) Volledige video-analise vir die o19A, o16A en o14A spanne.