Fred het nie die skaap ’n naam gegee nie. Iewers het hy gehoor werfdiere wat name kry word troeteldiere en nooit geslag nie. Fred was ’n bourekenaar wat in landelike Zoeloeland help skole bou het. Eendag het ’n dank-bare ouer vir hom ’n skaaplam present gegee. Die lam het in die bak van sy kar huis toe gekom en op hulle werf langs die Dlinzabos in Eshowe die tuinblomme begin opvreet, en mak geword. Die skaap het naam-loos gebly en saans van buite af deur die voorkamer se venster saam TV gekyk. Die ruit was groot met ’n lae vensterbank. Hy was glo versot op die nuus. Toe die TV-skaap begin ram word en horings groei, moes Fred ’n plan beraam.
Een aand op Sodwana het Fred ons in oordaad met skaapvleis bedien. Dit was heerlik en ons het geëet dat die vet by ons wange afloop. Sy familie het eers onraad gemerk toe hulle by die huis kom en die TV-skaap kom kyk nie meer saam oor hulle skouer nie. Hulle hartseer was groot toe hulle twee en twee bymekaarsit en besef