TUINROETE NUUS - Diegene wat wonder hoe hulle oor die Paasnaweek gaan besig bly, kan gerus hul oë na die berge opslaan.
'n Vroue-stapgroep het die mooiste foto's van hul Bone Crusher-avontuur verlede Donderdag met George Herald gedeel.
Bone Crusher is tussen Vensterberg en Losberg geleë. "Alhoewel die stappie van Spoetnick tot by Bone Crusher se top en terug net 2,05 km is, is dit wel 'n klim van 370 m! So definitief nie vir dié met hoogtevrees nie," het een van die lede, Engela Basset, gesê.
Die roetes, soos bepaal deur die groepleier en gesoute stapper, Annelise Naudé, wissel van rustige wandelroetes, tot adrenalien gelaaide hoogtes en soms lekker lang kilometers.
Van die bekende roetes wat hulle al aangedurf het sluit in Vensterberg, Losberg, Tierkop, Kruis, George-dam en Pepsi-poele.
Naudé en haar dogter Marlize Vorster het die stapgroepie verlede jaar met slegs 'n paar vriendinne begin. Dié vroue deel almal 'n liefde vir stap en die natuur. Die groep het vinnig uitgebrei en staan tans op altesaam 47 vrouestappers. "Sommige doen dit om fiks te bly en ander om net so bietjie kop skoon te maak na die week se gejaag," het Basset gesê. "Ons vat die pad berg toe elke tweede Donderdagoggend."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’