GEORGE NUUS - Vier kinders van George, almal tussen die ouderdomme van 10 en 18, se eerste vlug ooit het in 'n nagmerrie ontaard toe hulle op Sondag 12 Januarie, op Kaapstad Internasionale Lughawe weens slegte weer in George, gestrand was. Was dit nie vir familie-vriende nie, sou die kinders moontlik die aand op die lughawe moes deurbring.
Die penarie het ontstaan nadat die vier tydens die vakansie by familie in onderskeidelik die Kaap en Johannesburg gaan kuier het.
"My dogter (15) het in die Kaap gaan kuier, terwyl ons ander seun (10), dogter (18) en haar kêrel, in Johannesburg was. Gewoonlik ry ons om hulle te gaan haal, maar die vliegopsie was veiliger en sou ons begroting beter gepas het – let wel, sou," vertel 'n gefrustreerde Hester van der Merwe.
Die familie het versoek dat die kinders se identiteite weerhou word.
Die 15-jarige dogter sou om 12:00 Sondagmiddag in George geland het, maar die vliegtuig moes terugdraai Kaapstad toe weens slegte weersomstandighede. Talle vlugte na en van George, moes Sondag terugdraai of gekanselleer word. (Lees 'n artikel hieroor deur Alida de Beer op bladsy 3.)
In Kaapstad moes sy afklim en op die lughawe wag vir 'n volgende vlug na George, wat eers die volgende dag sou vertrek.
Die ander drie, wat dieselfde dag van Johannesburg na George sou vlieg, het 'n soortgelyke ervaring gehad. Hul vlug kon ook nie land nie en moes na Kaapstad terugkeer om brandstof in te neem voordat dit na Johannesburg sou terugkeer.
In Kaapstad is die passasiers deur FlySafair ingelig dat hulle die opsie gehad het om óf na Johannesburg terug te vlieg, óf in Kaapstad af te klim, maar dat die lugredery dan geen verdere verantwoordelikheid vir hul vervoer sou aanvaar nie.
"As hulle terug Johannesburg toe gevlieg het, sou hulle op die lughawe moes slaap. Gelukkig het hulle besef dat hul suster ook in Kaapstad gestrand moes wees, en besluit om af te klim en haar op te spoor. Niemand het enige verantwoordelikheid vir ons kinders geneem nie," vertel Van der Merwe.
"Intussen moes ons desperaat probeer reël vir alternatiewe vervoer om die kinders in George te kry."
Aan eie lot oorgelaat
Volgens Van der Merwe is die kinders aan hul eie lot oorgelaat. FlySafair het glo net vir elkeen 'n bottel water gegee.
Met die hulp van vriende wat in die Kaap woon, kon die kinders 'n geleentheid kry tot in Robertson, waar hul ma hulle uiteindelik opgetel het.
"Ons het eers teen middernag by die huis aangekom, want toe ons vriende die kinders wou optel, moes hulle wag – raai wat? – die bagasie was weg. Niemand het vir drie ure geweet waar ons kinders se bagasie is nie. Toe verskyn dit net skielik weer."
Kommunikasie
Sy sê sy verstaan dat vlugte soms nie volgens plan verloop nie en dat dinge verkeerd kan gaan, maar voel sterk dat beter kommunikasie nodig is.
"Ek het 'n tracker op die vlugte geplaas. As ek nie self gesien het dat my dogter se vlug terugdraai na Kaapstad nie, sou ek eers daarvan geweet het toe sy my van daar af bel. Die passasiers is ook eers ingelig nadat hulle weer in Kaapstad geland het.
Almal weet George-lughawe se infrastruktuur is nie in plek nie. Hulle kon Sondagoggend, toe hulle gesien het 100% reën, wolke en mis voorspel word, vir die lugrederye laat weet het dat landings onmoontlik sou wees. Dan kon ons vroeër 'n ander plan gemaak het!"
Aan die einde van die dag het dit Van der Merwe 'n ekstra R5 000 gekos om haar kinders by die huis te kry.
"Hulle is fine, maar hulle is getraumatiseer en wil nooit, ooit weer op 'n vliegtuig klim nie. Ek het 'n R5 000 geskenkbewys van SaFair afgekry om op 'n ander dag 'n vlug te neem, maar waarheen dink jy moet ek nou vlieg?"
'n Navraag is na FlySafair gestuur vir kommentaar. Sodra dit ontvang word sal dit by die aanlynweergawe van die artikel gevoeg word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’