Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel
Die Ekumeniese Patriarg of Aartsbiskop van Konstantinopel, Nuwe Rome (Grieks: Η Αυτού Θειοτάτη Παναγιότης, ο Αρχιεπίσκοπος Κωνσταντινουπόλεως, Νέας Ρώμης και Οικουμενικός Πατριάρχης) is die geestelike hoof van die Oosters-Ortodokse Kerk en "eerste onder gelykes" van die Kerk se leiers.
Hy word beskou as die opvolger van die dissipel Andreas. Die huidige Ekumeniese Patriarg is Bartolomeus I.
Die regering van Turkye beskou hom as die geestelike leier van die Griekse minderheid in die land en noem hom die Romeins-Ortodokse Patriarg van die Fener (Turks: Fener Rum Ortodoks Patriği). Ná die val van Konstantinopel in 1453 was die patriarg onderworpe aan die gesag van die Ottomaanse Ryk tot met die ontstaan van die Republiek van Turkye in 1923. Vandag is hy aan die gesag van die republiek onderworpe en moet hy ’n Turkse burger wees om tot patriarg verkies te word.
Die Patriarg van Konstantinopel word sedert die 6de eeu as die Ekumeniese Patriarg beskou.[1]
Status in die Ortodokse Kerk
[wysig | wysig bron]Die Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel het die hoogste aansien van alle Oosters-Ortodokse biskoppe, is persoonlik of deur ’n afgevaardigde die voorsitter van konsilies van Ortodokse primate en/of biskoppe en is die hoofwoordvoerder van die Ortodokse gemeenskap, veral insake ekumeniese kontak met ander Christelike denominasies. Hy het geen direkte jurisdiksie oor ander patriarge of die verskillende onafhanklike kerke van die Ortodokse Kerk nie, maar hy alleen mag spesiale sinodes saamroep wat hulle en/of afgevaardigdes bywoon om sekere kwessies te bespreek. Hy is ook belas met betrekkinge tussen die verskillende Ortodokse kerke om so eenheid in die Kerk te bevorder.
Benewens geestelike leier van 300 miljoen Ortodokse Christene wêreldwyd[2] is hy ook die direkte administratiewe owerste van konstituerende kerke met miljoene Griekse, Oekraïnse, Roeteense en Albaniese lidmate in Noord- en Suid-Amerika, Wes-Europa, Australië en Nieu-Seeland, Hongkong, Korea, Suidoos-Asië en dele van Griekeland wat om historiese redes nie onder die jurisdiksie van die Kerk van Griekeland val nie.
Die konstituerende kerke wat onder die Ekumeniese Patriargaat val, is:
- Outonome Fins-Ortodokse Kerk
- Outonome Esties-Apostoliese Ortodokse Kerk
- Selfregerende Ortodokse Kerk van Kreta
- Eksargaat van Patmos
- Aartsbisdom van Thyateira en Groot-Brittanje
- Grieks-Ortodokse Aartsbisdom van Italië
- Grieks-Ortodokse Aartsbisdom van Amerika
- Grieks-Ortodokse Aartsbisdom van Australië
- Eksargaat van die Filippyne
- Patriargale Eksargaat vir Ortodokse Gemeentes van Russiese Tradisie in Wes-Europa
- Die monnikke van Berg Atos is ’n onafhanklike kloostergemeenskap wat die Ekumeniese Patriarg as hulle enigste hoof en biskop erken. Die Europese Unie beskou hierdie "Outonome Kloosterstaat van die Heilige Berg" as deel van Griekeland, wat ’n lidstaat is.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Oecumenical Patriarch." Cross, F.L., red. The Oxford Dictionary of the Christian Church. New York: Oxford University Press. 2005.
- ↑ "The Patriarch Bartholomew". 60 Minutes (in Engels). CBS. 20 Desember 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2013. Besoek op 11 Januarie 2010.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Patriargaat van Konstantinopel. |
- Patriargaat van Konstantinopel
- Patriarge van Konstantinopel
- Hierdie artikel is vertaal vanuit die Engelse Wikipedia