NG gemeente Germiston
Die NG gemeente Germiston was die moedergemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oos-Randse stad Germiston, maar dis by die NG gemeente Lambton ingelyf nadat die lidmaattal so afgeneem het dat dit onmoontlik geword het om sinvol afsonderlik voort te bestaan. Dieselfde lot het reeds die meeste moedergemeentes van die NG Kerk aan die Witwatersrand oorgekom.
Stigting
[wysig | wysig bron]’n Sekere mnr. Jack, wat saam met mnr. Simmer 'n goudmyn floteer het, het die naam Germiston aan die stad en gemeente besorg. Dit is die naam van die plaas, in die nabyheid van Glasgow, waar hy gebore is. Die gemeente is op 28 Februarie 1899 afgestig van Boksburg, die ou Oos-Randse moedergemeente wat ook nie meer bestaan nie. Die Anglo-Boereoorlog het die jong gemeente swaar getref en die meeste van die kerkraad was op kommando.
Eerste 50 jaar
[wysig | wysig bron]Die eerste kerkgebou het in Presidentstraat gestaan, waar die winkel Kerk House later gestaan het. Ds. P.R. McLachlan (1900–'09) was die eerste leraar van Germiston. Weens die oorlog kon hy nie 'n pas kry om van Knysna hierheen te kom nie; later het hy met 'n Franse skip na Delagoabaai gegaan en vandaar per trein na Germiston gereis.
Sy opvolger was ds. J.W.G. Strasheim (1910–'17) in wie se tyd die Eendragsaal gebou, waarvan genl. C.F. Beyers die hoeksteen gelê het. Van 1918 tot 1925 is die gemeente deur ds. I.W.J. van Rensburg bedien. In sy tyd is die teenswoordige kerk gebou, dog sonder 'n toring en met net een galery. Ds. S. de Villiers het 18 jaar hier gestaan (1926–'44). Tydens sy bediening is 'n pragtige orrel aangekoop, nog twee galerye ingesit, nuwe banke in die kerk aangebring en 'n nuwe pastorie gebou.
Vanaf 1937 tot 1938 was ds. J.P.H. Gertenbach medeleraar van Germiston. Ds. A.D. Raats was van 1944 tot 1947 in die gemeente werksaam. Hy het hom vir die aanbou van 'n toring en 'n nuwe saal beywer. In 1948 is ds. J.S. Krige bevestig. Hy het dadelik reëlings begin tref vir die viering van die 50-jarige bestaan van die gemeente wat in Februarie 1949 plaasgevind het. By daardie geleentheid is die kerktoring ingewy. Vanaf 1948 tot 1951 was ds. I.W.J. van Rensburg (emeritus) die leraar behulpsaam. Toe hy weens swak gesondheid nie langer met die werk kon volhou nie, het die kerkraad oorgegaan tot die beroep van 'n medeleraar in die persoon van ds. B.P.J. de Klerk, wat in April 1951 bevestig is. Die kerkraad het besluit om nie net 'n tweede pastorie te bou nie, maar ook 'n nuwe kerksaal.
Ds. Du Plessis se dienstyd
[wysig | wysig bron]Op 16 September 1953 is ds. Sarel du Plessis as medeleraar na die gemeente beroep. Hy is die naweek van die 27, 28 en 29 November in die gemeente bevestig en ontvang. Onmiddellik ná sy aankoms het hy en ds. Krige hulle begin beywer vir die bou van 'n nuwe en doeltreffender saal. 'n Saalboufonds is in die lewe geroep en verskillende funksies is gehou vir geldinsamleing. Die kerkraad het besluit om hierdie saal self te bou deur middel van 'n voorman en vakmanne onder toesig van 'n argitek. Ouderling A.S. Markgraaff sou die voorman wees en Jan Koelewyn die argitek.
Op Saterdag 25 September 1954 is begin om die ou saal af te breek en op Saterdag 9 Oktober het die uitgrawing van die nuwe saal se fondasie begin. Hiermee was feitlik die hele gemeente behulpsaam. Op 26 Februarie 1955 het die hoeksteenlegging plaasgevind. Die ou hoeksteen, wat destyds deur genl. C.F. Beyers gelê is, is in die voorportaal van die saal deur 'n broerskind van genl. Beyers herlê. Die nuwe Eendragsaal is op Vrydag 12 Augustus 1955 feestelik ingewy. By daardie geleentheid was ds. Du Plessis se boodskap aan die gemeente: “Daar 'n gemeente nie elke dag 'n Kerk en 'n Kerksaal bou nie, is dit wenslik vir elke gemeente om die beste kerkgebou op te rig, sowel as die beste en gerieflikste kerksaal. En insonderheid aan hierdie laasgenoemde is sekerlik voldoen met die oprig van hierdie kerksaal. Daarom wil ons as leraars, vir u as kerkraad en gemeente ook van harte gelukwens met hierdie mylpaal wat bereik is. Mag hierdie saal, met alle funksies en verrigtinge wat daarin sal plaasvind, bydra om die eenheidsgevoel van die gemeentelede te bevorder. Mag hierdie saal ook insonderheid die byeenkomplek wees van die groot skaar van jongmense van ons gemeente. Maar bowenal, mag in alles wat in hierdie saal sal plaasvind, die Naam van die Here verheerlik word."
Ná langer as twee en 'n halwe jaar is op 22 Junie 1956 van ds. Du Plessis afskeid geneem nadat hy 'n beroep na Boksburg-Noord aanvaar het. Demissie is op Sondag 24 Junie ná die oggenddiens aan hom verleen.
In die eerste 50 jaar van die gemeente se bestaan is van Germiston afgestig: Alberton, Cachet, Elsburg en Germiston-Suid.
Kerklike geboue
[wysig | wysig bron]-
-
Genl. C.F. Beyers het die ou Eendragsaal se hoeksteen in 1909 gelê. Dis op 9 Augustus 1911 sonder skuld ingewy.
-
Die eerste NG kerk Germiston.
-
Die hoeksteen van die ou Eendragsaal wat in die nuwe Eendragsaal ingebou is nadat die oue gesloop is.
-
Die gemeente se eerste pastorie.
-
Ds. Jimmy Louw het die kerk se hoeksteen op 29 September 1923 gelê. Daarbo is 'n gedenksteen van die APK, wat 'n tyd lank die gebou gebruik het, tot Germiston, Alberton en Primrose saamgesmelt het.
-
Die Nuwe Eendragsaal is tydens ds. Du Plessis se dienstyd in die NG gemeente Germiston op 12 Augustus 1955 ingewy.
-
Die kerkperseel einde 2017. Die Eendragsaal is links op die foto.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Olivier, ds. P.L. (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.
Enkele leraars
[wysig | wysig bron]- Abraham Daniël Raats, 1944 – 1947
Sien ook
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Die kerkgebou staan nou aan 'n parkeerterrein. URL besoek op 9 September 2015.