Gaan na inhoud

Armblankes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die armblankes was ‘n lae sosiokulturele groep Afrikaners in die eerste kwart van die 20ste eeu. Hierdie mense was half- of ongeskoold en was daarom in die heersende ekonomiese omstandighede in die land nie meer in staat om in hul eie en hul kinders se behoeftes te voorsien nie.

Betrokkenes

[wysig | wysig bron]

Ongeveer 300 000 (dus 17%) van die destydse blanke bevolking het in chroniese armoede geleef. Daarvan was 250 000 (vyf uit elke ses) Afrikaanssprekend. Teen 1933 was 22% van alle wit en bruin mans werkloos. Die meeste armlastiges het voorgekom onder die nomadiese boere van die Noordwes-Kaap (die trekboere), die plaasarbeiders en skaapwagters hoofsaaklik in die Karoo (die bywoners), kleinboere in die Bosveld, houtkappers in die natuurlike woude in die kusstreek van Knysna en die Tsitsikamma, klein groepe mense in riviervalleie en voorheen onafhanklike boere wat verarm het.

Oorsake

[wysig | wysig bron]

Reeds sedert die 1880’s het baie mense op die plase verarm. Dit was te wyte aan ‘n reeks faktore: die droogtes van 1895 tot 1897 en 1903 tot 1908, die runderpes van 1897, die Tweede Vryheidsoorlog met die gepaardgaande afbrand van die plase en daarna nog die Groot Depressie van 1929 tot 1933.

Afrikanergesinne was meesal groot en die plase is aanhoudend onderverdeel om aan elke seun ‘n plaas te gee. Bestaansboere kon beswaarlik meer ‘n bestaan daarop voer. Verstedeliking het weens die mynbou plaasgevind en die landbou moes daarby aanpas. Daar was ‘n vraag na sekere produkte van ‘n spesifieke gehalte, maar min van die kleinboere kon aan die eise voldoen. Handelaars het boonop op die toneel verskyn en bemarking het belangrik geword. Hulle kon nie hul vertroude leefwyse in die nuwe tydperk van industrialisasie handhaaf nie. Baie het uitgeboer en in armoede verval.

Die meeste armblankes het geen of min skoolonderrig ontvang. Hulle was dus sonder opleiding en boonop uiters konserwatief, met weinig inisiatief en het dikwels in isolasie gewoon. Een uit elke tien was ongeletterd.

Dus verhuis baie van hierdie mense na die stad op soek na werk. Maar hulle kon slegs ongeskoolde werk op die myne verrig en boonop was daar min sulke poste, met 'n swak salaris. Vele sukkel om by die stadslewe aan te pas. Gevolglik was daar in Johannesburg op een tydstip die swakste agterbuurte in die wêreld. Verskeie werkloses hou hulle daar besig by steenoonde, met transportry en die vervoer van mense met kapkarre.

Oplossing

[wysig | wysig bron]

Alhoewel daar sedert die 1890’s kommer onder die leiers was oor die armblankevraagstuk, is daar eers dekades later ernstige pogings aangewend om die armblanke ekonomies en sedelik op te hef. Op konferensies van die NG kerk in 1916 te Cradock en 1922 te Bloemfontein is die kwessie bespreek. Tussen 1929 en 1933 is met behulp van die Carnegie-korporasie van New York ‘n omvattende ondersoek na die probleem geloods.

Tussen 1933 en 1950 (tydens en rondom die Tweede Wêreldoorlog) is dit geleidelik opgelos weens die ontwikkelende fabriekswese en styging in die goudprys. Aan arm witmense is ongeskoolde en halfgeskoolde werk verskaf op die myne, spoorweë, hawens, by die bou van paaie en damme sowel as by die polisie, in die weermag, plaaslike regering, bosbou en die poskantoor. Hier het hulle indiensopleiding ontvang en is ‘n werksetiek gevestig. Besproeiings- en bosbounedersettings (soos Kakamas en Karatara) is vir oudboere gestig. Kursusse in Afrikaans is by tegniese skole en universiteite ingestel. Die FAK en Yskor is gestig. Landboukoöperasies het gehelp met die bemarking van produkte. Na die stigting van die Departement van Volkswelsyn is wetgewing aanvaar om die boere te beskerm, wat gelei het tot die stelsel van werksafbakening ter beskerming van die blanke werknemer.

Lees ook

[wysig | wysig bron]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]