Gaan na inhoud

Atheense demokrasie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Stele van Demokrasie in die Museum van die Antieke Agora van Athene: Die Atheense wet teen tirannie van 336/7 v.C. het die Atheense twyfel oor die vooruitsigte vir hul demokrasie gereflekteer. Die reliëf aan die bokant van die stele is die personifikasie van Dêmos wat deur Demokrasie bekroon word.

Atheense demokrasie het om en by 508 v.C. in die Griekse stadstaat Athene ontstaan, wat die sentrale stadstaat Athene en die omliggende Attiese landstreek beslaan het. Athene was een van die eerste demokrasieë wat aan ons bekend is. Ander Griekse stede het wel ook demokrasieë opgestel, maar alhoewel meeste op die Atheense model geskoei was, was geen daarvan so invloedryk, stabiel, of so goed gedokumenteer as dié van Athene nie. Dit bly 'n unieke en sonderlinge eksperiment in direkte demokrasie waar die mense nie verteenwoordigers verkies om namens hulle 'n stem uit te bring nie, maar wel in eie reg stem betreffende wetgewing en uitvoerende verordeninge. Deelname was geensins oopgestel nie, maar die deelnemende kieskollege is saamgestel sonder verwysing na ekonomiese klas en hul deelname was op 'n werklik verbasende skaal. Die publieke mening van stemmers is tot 'n merkwaardige mate beïnvloed deur die politieke satire wat deur die komediedigters by die teaters opgevoer is.[1]

Solon (594 v.C.), Kleisthenes (508/7 v.C.) en Ephialtes (462 v.C.) het almal bygedra tot die ontwikkeling van Atheense demokrasie. Historici verskil oor wie van hulle vir watter institusie verantwoordelik was, en wie van hulle die mees verteenwoordigende van 'n werklik demokratiese beweging was. Dit is gebruiklik om Atheense demokrasie na Kleisthenes terug te dateer, aangesien Solon se grondwet ten gronde gegaan het, en deur die tirannie van Peisistratos vervang is, terwyl Ephialtes die grondwet van Kleisthenes betreklik vreedsaam hersien het. Hipparchos, broer van die tiran Hippias, is deur Harmodios en Aristogeiton om die lewe gebring, wat dan albei deur die Atheners vereer is vir hul beweerde restourasie van Atheense vryheid.

Die vernaamste en langsdienende demokratiese leier was Perikles; na sy dood is Atheense demokrasie tweekeer kortliks onderbreek deur oligargiese rewolusies voor die Peloponnesiese oorlog voltrek is. Hierdie demokrasie is effens aangepas nadat dit onder Eukleides se bewind herstel is; die mees uitgebreide verslae is wel van hierdie vierde-eeuse newevorm eerder as die Perikleaanse stelsel. In 322 v.C. is dit deur die Masedoniërs onderdruk. Toe die Atheense institusies later weer in orde gebring is, het dit slegs 'n betwisbare ooreenkoms met ware demokrasie getoon.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die woord "demokrasie" (Grieks: δημοκρατια) kombineer die elemente dêmos (δῆμος, wat "mense" beteken) en krátos (κράτος, wat "mag" of "krag" beteken). In die woorde "monargie" en "oligargie", beteken die tweede element arche (ἀρχή) "regerende", "leidende" of "primêre". Dit is onwaarskynlik dat die term "demokrasie" bedink kon wees deur die teenstaanders daarvan, wat die moontlikheid van 'n geldige "demargie" verwerp het. Die woord "demargie" was naamlik reeds in omloop, en het na 'n burgemeester of munisipale bestuur verwys. Dit kan aanvaar word dat die nuwe term deur die Atheense demokrate ingevoer en aanvaar is.

Die woord word in Herodotos se geskrifte betuig, wat van die vroegste behoue Griekse prosa gelewer het. Hierdie heenwysing kon egter van so laat as 440 of 430 v.C. dateer. Dit is onseker of die woord "demokrasie" reeds in gebruik was toe die stelsels wat mettertyd demokraties genoem is aanvanklik tot stand gebring is. Om en by 460 v.C.[2] is 'n enkeling wel bekend wie se ouers besluit het om hom 'Demokrates' te noem, 'n naam wat moontlik oorweeg is as 'n gebaar van demokratiese lojaliteit; dit word ook as eienaam aangetref in Aioliese Temnus,[3] wat nie 'n besonder demokratiese staat was nie.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Henderson, J. (1993) Comic Hero versus Political Elite pp.307-19 in Sommerstein, A.H.; Halliwell, S.; Henderson, J.; Zimmerman, B., reds. (1993). Tragedy, Comedy and the Polis. Bari: Levante Editori.
  2. Raaflaub, Kurt A. (2007): The Breakthrough of Demokratia in Mid-Fifth-Century Athens, p. 112, in: Raaflaub, Kurt A.; Ober, Josiah; Wallace, Robert, reds. (2007). Origins of Democracy in Ancient Greece. Berkeley: University of California Press.
  3. Xenophon, Anabasis 4.4.15