Gaan na inhoud

Bartolomé Esteban Murillo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Bartolomé Esteban Murillo
Selfportret, omstreeks 1670–1673 (detail)
Geboreeinde Desember 1617; gedoop op 1 Januarie 1618
Sevilla, Kastilië (hedendaagse Spanje)
Sterf3 April 1682 (op 64)
Sevilla
NasionaliteitSpaans
Beroepskilder

Bartolomé Esteban Murillo (gebore aan die einde van Desember 1617 in Sevilla en gedoop op 1 Januarie 1618 - 3 April 1682) was 'n Spaanse barokskilder. Alhoewel hy veral bekend is vir sy godsdienstige werke, het Murillo ook 'n groot aantal skilderye van kontemporêre vroue en kinders geskilder. Hierdie lewendige, realistiese portrette van blommemeisies, straatkinders en bedelaars verskaf 'n geheelbeeld van die alledaagse lewe in sy tyd.

Kinderjare

[wysig | wysig bron]

Murillo is gebore as die seun van Gaspar Esteban en María Pérez. Hy is waarskynlik gebore in Sevilla of in Pilas, Spanje, 'n klein Andalusiese stad. [1] Dit is egter onweerlegbaar dat hy in 1618 in Sevilla gedoop is as die jongste seun in 'n gesin van veertien. Sy pa was 'n barbier en chirurg. Nadat sy ouers in onderskeidelik 1627 en 1628 oorlede is het sy swaer, Juan Agustín Lagares, verantwoordelikheid vir hom aanvaar. Murillo het selde van sy vader se van gebruik gemaak, en in pleks daarvan die van van sy ouma aan moederskant, Elvira Murillo, aangeneem.

Loopbaan

[wysig | wysig bron]
The Holy Family with dog, c. 1645–1650, Museo del Prado

Murillo het sy studies in Sevilla begin onder Juan del Castillo, wat 'n familielid van sy moeder was (Murillo se oom, Antonio Pérez, was ook 'n skilder). Sy eerste werke is beïnvloed deur Zurbarán, Jusepe de Ribera en Alonzo Cano, en hy deel hul sterk realistiese benadering. Die kommersiële belang van die destydse Sevilla het verseker dat Murillo artistieke invloede uit ander streke opgedoen het. Hy het kennis gemaak met die Vlaamse skilderkuns en die Verhandeling oor heilige beelde deur Molanus (Ian van der Meulen of Molano). Namate sy skilderwerk ontwikkel het, het sy belangriker werke ontwikkel na 'n eie volwasse styl, wat gepas was vir die destydse burgerlike en aristokratiese smaak, en wat veral in sy Katolieke godsdienstige werke getoon is.

In 1642, op 26-jarige ouderdom, verhuis hy na Madrid, waar hy heel waarskynlik vertroud raak met die werk van Velázquez, en die werk van Venesiaanse en Vlaamse meesters in die koninklike versamelings aanskou; die ryk kleure en sag gemodelleerde vorms van sy daaropvolgende werk toon hierdie invloede. [2] In 1645 keer hy terug na Sevilla en trou met Beatriz Cabrera y Villalobos, saam met wie hy uiteindelik elf kinders het.

Two women at a window, c. 1655–1660, National Gallery of Art, Washington, DC

In daardie jaar skilder hy elf doeke vir die klooster van St. Francisco el Grande in Sevilla. Hierdie werke, wat die wonderwerke van die Franciskaanse heiliges uitbeeld, wissel tussen die Zurbaráneske invloed van die Ecstasy of St Francis en 'n sagte, helder styl (soos in Death of St Clare) wat tipies was van Murillo se volwasse werk.

Ander werke wat ook voltooi is in omstreeks 1645 is die eerste van Murillo se vele skilderye van kinders, soos o.m. The Young Beggar (Musée du Louvre), waaruit die invloed van Velázquez duidelik blyk. Na die voltooiing van 'n paar skilderye vir die katedraal van Sevilla begin hy spesialiseer in die temas wat hom sy grootste sukses besorg: die Maagd en die Kind en die Onbevlekte Ontvangenis. [3]

Na nog 'n tydperk in Madrid vanaf 1658 tot 1660 keer hy terug na Sevilla. Hier is hy een van die stigters van die Academia de Bellas Artes (Akademie van Kuns), en deel hy in 1660 die leiding daarvan met die argitek Francisco Herrera die Jonger. In hierdie tydperk, sy bedrywigste, ontvang hy talle belangrike opdragte, waaronder die altaarstukke vir die Augustynse klooster, die skilderye vir Santa María la Blanca [4] (voltooi in 1665), en andere. Hy sterf in 1682 in Sevilla, enkele maande nadat hy van 'n steier val terwyl hy aan 'n fresko by die kerk van die Capuchines in Cádiz werk.

Galery

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. A., O'Neill (1833). A Dictionary of Spanish Painters. Londen: C. O'Neill. p. 246.
  2. "Bartolome Esteban Murillo". Encyclopædia Britannica, Inc. Besoek op 30 Augustus 2007.
  3. Die middelpunt van die kenteken van die Spaanse Orde van Charles III is duidelik geskoei op Murillo se unieke manier om die Onbevlekte Ontvangenis voor te stel.
  4. María la Blanca