Brahmaputra
Brahmaputra | |
---|---|
Die Brahmaputra naby Guwahati, Assam, Indië | |
Die stroomgebied van die Brahmaputra en die Ganges | |
Oorsprong | Gletser Jêmayangzom, naby die berg Kailash, Tibet (Volksrepubliek China)[1] |
Monding | met die Ganges in die Padma, Bangladesj Golf van Bengale |
Stroomgebied | Volksrepubliek China, Indië en Bangladesj |
Lengte | 2 900 km (1 800 myl)[1] |
Oorspronghoogte | 5 210 m (17 093 voet) |
Mondinghoogte | 0 m (0 voet) |
Gemiddelde afloop | 19 300 m³/s (681 600 vt³/s) |
Stroomgebiedopp. | 651 334 km² (251 500 myl²) |
Kaart van die Brahmaputra-bekken in Asië
|
Die Brahmaputra (Assamees: ব্ৰহ্মপুত্ৰ, লুইত; Sanskrit: ब्रह्मपुत्र; Hindi: ब्रह्मपुत्र; Bengaals: ব্ৰহ্মপুত্ৰ নদ [brɔmmɔput̪rɔ nɔd̪]; Tibettaans: ཡར་ཀླུངས་གཙང་པོ་) is 'n groot suid-vloeiende rivier in Asië. Dié rivier, met 'n lengte van 2 900 km (1 800 myl), is ná die Indus die tweede langste rivier in Suid-Asië. Die naam van dié rivier beteken "seun van die Brahma" in Sanskrit. Die suidelike verloop van dié rivier word in Hindoeïsme as heilig beskou.[1]
Die Brahmaputra ontspring aan die noordelike kant van die Himalaja in die Chinese outonome gewes Tibet, net noord van die grens tot Nepal en net oos van die Sutlej se bron, naby die berg Kailash. Hier word dié rivier in Tibettaans Matsang of Tachog Tsangpo en in Chinees Mǎquán Hé 馬泉河 / 马泉河 genoem. Aansluitend vloei dié rivier in 'n oostelike rigting en word in Tibettaans Yarlung Tsangpo ཡར་ཀླུང་གཙང་པོ en in Chinees Yǎlǔ Zàngbù Jiāng 雅魯藏布江 / 雅鲁藏布江 genoem.[2] Aan die oostelike kant van die Himalaja maak die Brahmaputra 'n boog in 'n suidelike rigting en vloei deur die Yarlung Tsangpo Canyon, wat deur sommige as die diepste canyon ter wêreld beskou word. Dié rivier bereik die Indiese deelstaat Arunachal Pradesh, waar dit Dihang of Siang genoem word.[3] Vanaf hier vloei die Brahmaputra deur die Assam-vallei in 'n suidwestelike rigting, waar Guwahati, die grootste stad aan dié rivier, geleë is. Hier vloei dié rivier deur die Groot Vlakte, wat een van die mees digbevolkte gebiede van die wêreld is. Aansluitend vloei die Brahmaputra in 'n suidelike rigting en bereik Bangladesj, waar dié rivier Jamuna genoem word. Net wes van dié land se hoofstad Dhaka vloei die Brahmaputra en die Ganges saam, om die Padma te vorm. Die Padma vloei verder in 'n suidoostelike en aansluitend in 'n suidelike rigting. Later mond dit in die Golf van Bengale uit.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 "Brahmaputra River" (in Engels). Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2020. Besoek op 2 Augustus 2019.
- ↑ Yang Lina (22 Augustus 2011). "Scientists pinpoint sources of four major international rivers" (in Engels). Xinhua. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2017. Besoek op 23 Februarie 2015.
- ↑ "Yarlung Tsangpo River in China" (in Engels). Atmospheric Data Science Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Maart 2012. Besoek op 23 Februarie 2015.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Brahmaputra.