Buro vir Heraldiek
Die Buro vir Heraldiek is Suid-Afrika se heraldiese owerheid. Dit is op 1 Junie 1963 gestig met die Staatsheraldikus aan die hoof. Sy funksies is om wapens, kentekens, vlae en seëls (sowel as name en uniforms) te registreer, om 'n register by te hou, om wapenbriewe (registrasiesertifikate) uit te reik en, sedert 1980, om die regering van advies aangaande heraldiese aangeleenthede te voorsien.[1] Saam met die Heraldiekraad is dit 'n afdeling van die Nasionale Argief (voorheen die Staatsargief) wat tans onder die Departement van Kuns en Kultuur ressorteer.
Oorsig
[wysig | wysig bron]Kragtens Suid-Afrikaanse wet het elkeen die reg om 'n wapen te vertoon soos hy verkies, solank hy nie op iemand anders se regte inbreuk maak nie. Daar is geen owerheid wat wapens kan toeken soos in die geval van bv. Engeland en Skotland nie. Die registrasie van 'n wapen is 'n vrywillige handeling om eienaarskap op rekord te plaas, en om die wapen teen misbruik deur andere te beskerm.
Die Buro het die rekords van die name, uniforms en kentekens (insluitend verskeie korporatiewe wapens) oorgeneem wat voorheen deur die Departement van Binnelandse Sake (1935–59) en die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap (1959–63) geregistreer is. Die Buro word nie tot die registrasie van Suid-Afrikaanse wapens beperk nie, en deur die jare het dit baie buitelanders se wapens, en selfs dié van 'n vereniging wat slegs in die kuberruimte bestaan, geregistreer. Sedert 1980 is die Buro ook by magte om die wapens van buitelandse amptelike instansies te registreer.
Aanvanklik moes aansoeke eers deur die Heraldiekraad goedgekeur word voordat die Buro hulle kon registreer, maar sedert 1969 keur die Staatsheraldikus self die aansoeke goed of af – indien nodig kan hy aansoeke na die raad verwys.
Gedurende die 1970's het die Buro tussen 60 en 90 wapens p.j. geregistreer. Die getal het in die 1980's skerp toegeneem, tot soveel as 148 in die 1987–88 verslagjaar, maar in die 1990's het dit weer gedaal.[2] Hierdie syfers sluit nie die registrasie van weermageenheidwapens in nie (waarvan meer as 'n duisend alreeds geregistreer is).
Aansoeke om registrasie word saam met illustrasies van die wapens in die Staatskoerant gepubliseer. Wapensbeskrywings (sonder illustrasies) van wapens wat tot en met die jaar 2000 geregistreer is, is aanlyn op die Nasionale Argief se webwerf beskikbaar.[3]
Natuurlik beskik die Buro self ook oor 'n wapen, wat uit 1965 dateer: In blou, drie skildjies van goud geplaas 2 en 1; en 'n goue skildhoof belaai met 'n Suid-Afrikaanse leeu. Hierdie wapen verskyn op die seël op elke wapenbrief en in die 1960's en vroeë 1970's was hulle ook op die wapenbrief self uitgebeeld.
Staatsheraldikus en personeel
[wysig | wysig bron]Die Staatsheraldikus is 'n staatsamptenaar, die hoof van die Buro, ampshalwe die ondervoorsitter van die Heraldiekraad, en 'n lid van die Nasionale Argief se direksie. Die vier Staatsheraldici wat sedert 1963 die amp beklee het is:
- Dr Coenraad Beyers (1963–1964)
- Norden Hartman (1964–1982)
- Frederick Brownell (1982–2002)
- Themba Mabaso (2002–)
Die Buro se personeel bestaan uit die Staatsheraldikus, die Assistentstaatsheraldikus, 'n hoofkunstenaar, 'n paar ander kunstenaars, 'n administratiewe assistent, en 'n skoonmaker.[2]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Heraldiekwet 1962, soos gewysig
- ↑ 2,0 2,1 Jaarverslae 1982
- ↑ Nasionale Argief[dooie skakel]
Bronne
[wysig | wysig bron]- Heraldiekwet 1962, soos gewysig
- Jaarverslae van die Departement van Nasionale Onderwys
- Jaarverslae van die Nasionale Argief en Buro vir Heraldiek
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (en) Nasionale Argief[dooie skakel]
- (en) South African Heraldry Website Geargiveer 31 Maart 2013 op Wayback Machine