Gaan na inhoud

Chatti

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaart van die Romeinse Ryk in die 2de eeu. In die suidweste van Magna Germania
Die benaderde posisie van sommige Germaanse mense soos gerapporteer deur Grieks-Romeinse skrywers in die eerste eeu.

Die Chatte of Sjatte (in Latyns Chatti of Catti) was 'n antieke Germaanse stam[1][2] wie se tuisland naby die boloop van die Weser (Visurgis) rivier geleë was.[3][4] Hulle het in die sentrale en noordelike dele van Hesse en suidelike Nedersakse gewoon, langs die bolope van die Weser-rivier en in die valleie en berge van die Eder- en Fulda-streke, 'n distrik wat ongeveer ooreenstem met die landgraafskap van Hesse-Kassel, hoewel waarskynlik ietwat meer uitgebreid. Hulle hul in die eerste eeu v.C. in die streek gevestig. Volgens Tacitus,[5] was die Batawe and Cananefate van sy tyd, stamme wat binne die grense van die Romeinse Ryk gewoon het, afstammelinge van die Chatte, wat hul tuisland verlaat het na 'n interne struweling ten einde nuwe grond te bekom by die monding van die Ryn.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Terwyl Julius Caesar (100–44 v.C.) goed ingelig was oor die streke en stamme aan die oostelike oewer van die Ryn, het hy nooit die Chatte by die naam genoem nie. In dieselfde groot geografiese streek het hy die Suebe duidelik as die inwoners in sy tyd vermeld, wat daarop dui dat hulle onlangs Kelte verdryf het en in sy tyd steeds die streke rondom hulle bedreig het.[6] Strabo (64/63 v.C. – c. 24 n.C.) vermeld egter beide die Suebe, wat hy beskryf as 'n aansienlik nasie wat opgemaak is uit verskeie stamme, en die Chatte, wat hy beskryf as een van die kleiner Germaanse stamme, en wat hy nie beskou het as deel van die Suebe nie.[7]

'n Eeu later onderskei Plinius die ouere, in sy Natuurlike Geskiedenis (geskryf 77–79 n.C.) die Chatte en Suebe maar groepeer hulle saam met die Hermundure en die Cheruske, en noem hierdie groep die Herminone, wat 'n nasie van Germaanse stamme is wat ook vermeld word deur Tacitus as inwoners van die binneland van Duitslandy.[8] Sommige kommentators is van oordeel dat Caesar se Suebe derhalwe moontlik dieselfde mense as die latere Chatte was, 'n tak van die Suebe wat mettertyd meer duidelik identifiseerbaar geword het.[9] Indien nie, kan die Chatte 'n oorblyfsel van 'n ouer stamnaam wees, in teenstelling met die Tenctere, Usipetes en Ubiërs, wat almal uit hul tuisgebiede moes vlug weens die invalle van die Suebe.

Die eerste antieke skrywer wat die Chatte noem, is Velleius Paterculus. Hy het hulle in 6 n.C. in sy 2de boek, 109 (5) genoem: “Sentius Saturninus het die bevel ontvang om saam met sy legioene deur die gebied van die Chatte te marsjeer na Boiohaemum, die naam van die gebied wat deur Maroboduus beset word, om sodoende 'n pad te vind deur die Hercyniese woud wat die streek begrens het."

Die tweede antieke skrywer wat die Chatte noem is Strabo, 'n geruime tyd na 16 n.C., en wat die Chatte insluit in 'n lys van verowerde Germaanse stamme wat meer gevestig en agraries van aard was, maar ook armer, as die nomadiese stamme in Sentraal- en Oos-Germanië soos die Suebe. Hulle was arm omdat hulle die Romeine beveg het, en is verpletter en geplunder.[10] In sy tweede boek van Epigramme het Martialis die oorwinning oor die Chatte toegeskryf aan keiser Domitianus (51–96 n.C.).:

Martialis: Epigramme. Boek ll, No. 2

  "Creta dedit magnum, maius dedit Africa nomen,
    Scipio quod uictor quodque Metellus habet;
  nobilius domito tribuit Germania Rheno,
    et puer hoc dignus nomine, Caesar, eras.
  frater Idumaeos meruit cum patre triumphos,
    quae datur ex Chattis laurea, tota tua est.

Kreta het 'n groot naam gegee, Afrika 'n nog groter:
 Scipio die oorwinnaar het een, en Metellus het die ander.
 Germanië het 'n edeler naam gegee toe die Ryn onderwerp is,
 en selfs as seun, Caesar, was jy hierdie naam waardig.
 Jou broer het saam met jou vader oor Edom getriomfeer,
 maar die lourier wat vir die Chatte gegee word, is geheel en al joune."

Vir die eerste eeu n.C. verskaf Tacitus belangrike inligting oor die Chatte se aandeel in die Germaanse oorloë en sekere eienskappe van hul kultuur. Hy sê dat:

[Die Chatte se] nedersettings begin by die Hersuniese woud, waar die grond nie so oop en moerasagtig is soos in die ander kantons van Germanië nie. Hulle word gevind waar daar heuwels is, en die Hersuniese woud bly naby totdat die laaste van die inheemse Chatte verdwyn het. Geharde liggame, sterk ledemate, woeste gelaatstrekke en 'n besonder kragtige moed, kenmerk die stam. Vir Germane het hulle baie intelligensie en verstandigheid; hulle bevorder hulle uitgesoekte manne, en gehoorsaam diegene wat hulle bevorder het; hulle hou hul geledere, let op hul geleenthede, kontroleer hul impulse, verskans hulself in die nag, beskou goeie geluk as twyfelagtig, dapperheid as 'n onfeilbare hulpbron; en wat die mees ongewoon is, en slegs moontlik is weens sistematiese dissipline, is dat hulle meer op die generaal vertrou as op die leër. Hulle hele krag lê in hulle infanterie, wat benewens sy wapens gelaai is met ystergereedskap en proviand. Ander stamme gaan veg, die Chatte egter, maak hul gereed vir 'n veldtog. Selde doen hulle mee aan blote strooptogte en terloopse ontmoetings op die oorlogsveld. Dit is inderdaad die eienaardigheid van 'n ruitermag om vinnig te wen en net so vinnig 'n oorwinning te lewer. Vlugvoetigheid en bedeesdheid gaan saam; doelbewustheid is meer verwant aan vaste moed.[11]

Tacitus merk ook op dat die Chatte, soos ander Germaanse stamme, belang gestel het in tradisies rakende haarsny en baarde.

'n Praktyk, skaars onder die ander Duitse stamme, en bloot kenmerkend van individuele bekwaamheid, het algemeen geword onder die Chatte, om die hare en baard te laat groei sodra hulle volwassenheid bereik het, en nie voordat hulle eers 'n vyand gedood het nie. Oor die beseerde en bloeiende vyand wys hulle weer hul gesigte; dan, en nie tot dan nie, verkondig hulle dat hulle die verpligtinge van hul geboorte nagekom het, en hulself waardig bewys het teenoor hul land en hul ouers. Die lafaard en die nie-oorlogsgesinde bly ongeskeer. Die dapperstes van hulle dra ook 'n ysterring (wat andersins 'n teken van skande onder die mense is), totdat hulle hulself deur die doodmaak van 'n vyand daarvan verlos het. Die meeste Chatte handhaaf hierdie gebruike en gewoontes. Selfs gryskoppe word so onderskei, en is dus opvallend vir vyande en volksgenote. Die aanvang van die geveg berus altyd by hulle; hulle vorm die eerste gevegslinie, 'n ongewone skouspel. Ook in vredestyd sien hulle nie meer beskaafd daaruit nie. Hulle het geen huis of grond of beroep nie; hulle word ondersteun deur wie hulle ook al besoek, totdat ouderdom hulle uiteindelik ongeskik maak vir oorlog[12]

Tussen die Ryn en die Chatti plaas Tacitus die Tenctere en Usipetes, wat blykbaar sedert die tyd van Caesar na die ou tuisland van die Ubiërs verskuif is, wat hulle op hul beurt in Keulen gevestig het.[13] (Volgens Caesar het die Suebe se uitbreiding aan die ooste van dié drie stamme, druk op hulle geplaas, sodat hulle gepoog het om oor die Ryn te vlug.) Na die suide vermeld Tacitus ook dat die Chatte se grond buite die twyfelagtige gebiede, die sogenaamde tiendes of agri decumates, val, waar avonturiers uit die Romeinse dele van die Ryn en Donau hulle probeer vestig het.[14] Dit is moontlik dat die Chatte aanvanklik op die Ryn, in die ou gebied van die Ubiërs, ingetrek het. Dio Cassius vermeld dat Drusus in 11 v.C. 'n fort in die Chatte se gebied aan die Ryn gestig het, en dat die Chatte in 10 v.C. 'n gebied verlaat het waar die Romeine hulle toegelaat het om hulle te vestig.[15]

Volgens Tacitis was die gebied van die Chauci geleë ten noorde van die Chatte.[16] Ten ooste van die Chatte en Chauci was die Cherusci, wat Tacitus as besonder vredeliewend beskryf.[17] (Caesar het die Suebe beskryf, nie die Chatte nie, as woonagtig tussen die Ubiërs aan die Ryn en 'n woud genaamd die Bacenis, wat hulle van die Cherusci geskei het. Dit is waarom daar soms gedink word dat Caesar se Suebe eintlik Chatte was.)

Die Chatte het inlywing in die Romeinse Ryk suksesvol teengestaan en by die Cheruskiese oorlogsleier Arminius se koalisie van stamme aangesluit wat Varus se legioene in 9 n.C. verpletter het tydens Slag by die Teutoburgerwoud. Later het Germanicus in 15 n.C.[18] uit weerwraak hul gebied aangeval. Rome het uiteindelik op die Chatte se strydlustige verdediging van hul onafhanklikheid gereageer deur die grensversterkings, bekend as die limes, aan die beginjare van die 1ste eeu te bou, langs die suidelike grens van die Chatte se gebied in sentraal Hesse. 'n Groot inval deur die Chatte in Germania Superior is beslissend deur die legioene in 50 n.C. gestuit.[19] In 58 n.C. is die Chatte deur die Hermundure verslaan tydens 'n grensgeskil oor 'n godsdienstig betekenisvolle rivier.

Romeinse bronne identifiseer die fabelagtige Mattium, anderkant die Eder, as die hoofstad van die Chatte. Die stad is deur Germanicus vernietig, en derhalwe is die ligging daarvan nie bekend nie, maar daar word oor die algemeen aanvaar dat dit in die omgewing van Fritzlar, noord van die Ederrivier, geleë was.[20]

Die Chatte was in 84 n.C. teenstanders van keiser Domitianus, maar was bondgenote van Lucius Antonius Saturninus tydens sy opstand in 89 n.C.[21]

Die Chatte maak weer hul verskyning tydens die aanloop tot die Marcomanneoorlog. Hulle het aanvanklik in 162 suidwaarts aangeval, in die rigting van Germania Superior en Raitia, in wat nou Suid-Duitsland is. Terwyl die beslissende gevegte aan die gang was is hulle egter saam met die Hermundure in 175 deur Didius Julianus uit die Ryngebied verdryf.

Na die vroeë 3de eeu n.C. het die Chatte egter feitlik volledig uit die bronne verdwyn, en is daar slegs oor hulle geskryf as aktuele onderwerp, of wanneer daar oor gebeure van die 1ste eeu geskryf is. Cassius Dio is heel waarskynlik nie net die eerste skrywer wat die Alemanne noem nie, maar ook die laaste een wat 'n historiese optekening van die Chatte gemaak het. Skrywende oor die Germaanse oorlog van Caracalla in 213 n.C., laat hy die keiser veg teen die "Κέννους, Kελτικòν ἔθνος" ("die Kenni, 'n Keltiese stam").[22] Dit is geneem uit 'n uittreksel van Dio in die geskrifte van Joannes Xiphilinus, maar die Fragmenta Valesiana verwys na dieselfde mense as "Chattoi".[23] Die gebruik van "Kελτικός" vir Germaanse volke was 'n argaïese tradisie onder Griekse skrywers.

Na Dio Cassius verskyn die naam "Chattus" onder andere in 'n Panegyricus of panegiriek (Oudgrieks: πανηγυρικός) deur Sidonius Apollinaris in die laat vyfde eeu, nou as 'n poëtiese sinoniem vir "Germanus".[24] Die laaste antieke bron om die Chatte te noem, al is dit net in 'n aanhaling van Sulpicius Alexander wat gebeure van die laat vierde eeu beskryf het, was Gregorius van Tours.[25]

Na bewering is die Chatte geassosieer met die legendariese "Eerste Koning van die Franke". Die verhaal handel oor die verkiesing van die eerste Frankiese koning.[26] Die veel latere Liber Historiæ Francorum vermeld dat na die dood van Sunno, sy broer Marcomer, leier van die Ampsivare en Chatte, aan die Franke voorgestel het dat hulle een enkele koning moes hê, strydig met hul tradisie. Die Liber voeg by dat Pharamond, genoem as Marcomer se seun, gekies is as die eerste koning (en daarmee dus die tradisie van die langharige Frankiese konings begin het), en verklaar dan dat toe hy gesterf het, sy seun Clodio [428 n.C.] as die volgende koning gekies is. Die werk sê niks meer van hom nie.

Die Chatte het moontlik deel geword van die veel groter naburige Franke, en hul streek is ingelyf in die koninkryk van Clovis I, waarskynlik saam met die Ripuariese Franke, aan die begin van die sesde eeu.

Die Chatte-naam word glo bewaar in die Middeleeuse en moderne naam van Hesse in Duitsland, wat 'n naam is wat reeds vroeg verskyn. In 723 byvoorbeeld het die Angel-Saksiese sendeling Winfrid—daarna bekend as Bonifatius, Apostel van die Duitsers—onder die Hesse (Hessorum) gepreek en hul heilige boom, die Donar-eik naby Fritzlar, afgekap as deel van sy pogings om hulle en ander Germaanse stamme tot die Christendom te bekeer.

19de eeuse gebruik

[wysig | wysig bron]

Tydens die Kongres van Wene het die keurvors van Hesse, wat met die val van Napoleon heringestel is, tevergeefs gepoog om erken te word as "Koning van die Chatte" - alhoewel die Chatte lank reeds nie meer 'n afsonderlike etniese groep was nie.[27]

Die Chasuarii en Chattuarii

[wysig | wysig bron]

Twee stamme in Noord-Duitsland het name wat soms met die van die Chatte vergelyk word. Die Chattuarii, wie se naam blykbaar beteken dat hulle inwoners van die Chatte se gebied was, of andersins Chatte, het naby die Ryn gewoon, waarskynlik tussen die IJssel en Lippe. Hulle is as Franke beskou en het blykbaar as 'n Frankiese volk oor die Ryn verhuis om hulle in die hoek van die land tussen die Ryn- en Maasrivier te vestig.[15]

Die naam van die Chattuarii word op sy beurt soms vergelyk met 'n ander volk wat Chasuarii heet en wat deur verskeie klassieke skrywers vermeld word. Die Chasuarii was 'n Germaanse stam wat deur Tacitus genoem word in die Germania. Volgens hom het hulle ten noorde van die Chamavi en Angrivarii gewoon, wat op hul beurt noord van die Bructeri, tussen Ems en Weser, gewoon het. Die naam van die Chasuarii word egter meestal vertolk as "bewoners aan die Hase [rivier]", 'n sytak van die Ems. Die tweede-eeuse geograaf Ptolemeus vermeld dat die Kasouarioi oos van die Abnoba-berge, in die omgewing van Hesse gewoon het, maar daar word gedink dat hierdie verslag van Noord-Europa foute bevat weens die gebruik van verskillende bronne.[28]

Plekke wat vernoem is na die Chatte

[wysig | wysig bron]
  • Hesse: waarslynlik afgelei van "Chatti" deur die through the Tweede Germaanse klankverskuiwings.[29][30]
  • Kassel: afgelei van die antieke Castellum Cattorum, 'n kasteel van die Chatte[31]
  • Katwijk: van Chatte en Nederlandse wijk, "dorp/nedersetting"
  • Katzenelnbogen: geskiedkundiges spekuleer dat die naam afgelei is van *Cattimelibocus, 'n kombinasie van twee woorde: Chatte en Melibokus, uit Μηλίβοκον (Mēlíbokon), die naam van 'n bergreeks in Ptolemeus se Geografie wat geïdentifiseer is (waarskynlik foutiewelik) met die Malchen.[32] [33]

In populêre kultuur

[wysig | wysig bron]
  • The Light Bearer (1994), 'n historiese roman deur Donna Gillespie.
  • Mark of the Lion-reeks (1993), 'n reeks historiese romans deur Francine Rivers.
  • Barbarians (2020), een van die stamme wat verenig teen die Romeine voor die Slag by die Teutoburgerwoud.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Ford, Simon Samuel (2018). "Chatti". In Nicholson, Oliver (red.). The Oxford Dictionary of Late Antiquity. Drukpers van die Universiteit van Oxford. ISBN 9780191744457. Besoek op 26 Januarie 2020. Chatti. Germanic *tribe who lived in modern Hesse (west central Germany).
  2. Thompson, Edward Arthur; Drinkwater, John Frederick (2012). "Chatti". In Hornblower, Simon; Spawforth, Antony; Eidinow, Esther (reds.). The Oxford Classical Dictionary (4 uitg.). Drukpers van die Universiteit van Oxford. ISBN 9780191735257. Besoek op 26 Januarie 2020. Chatti, a Germanic people, who lived in the neighbourhood of the upper Weser and the Diemel.
  3. "Chatti | people". Encyclopedia Britannica.
  4. Carl Waldman; Catherine Mason (2006). Encyclopedia of European Peoples. Infobase Publishing. pp. 170–. ISBN 978-1-4381-2918-1.
  5. "The Internet Classics Archive | The Histories by Tacitus". classics.mit.edu.
  6. James Cowles Prichard (1841). Researches Into the Physical History of Mankind: Researches into the ethnography of Europe. Sherwood, Gilbert, and Piper. pp. 352–. Besoek op 17 November 2012.
  7. Strabo 7.1 https://www.perseus.tufts.edu/hopper/text?doc=Perseus:text:1999.01.0239:book=7:chapter=1&highlight=chatti
  8. Plin. Nat. 4.28
  9. Peck (1898), Harpers Dictionary of Classical Antiquities, https://www.perseus.tufts.edu/hopper/text?doc=Perseus:text:1999.04.0062:entry=catti-harpers&highlight=chatti 
  10. Strabo, 7.1.3–4.
  11. "Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes, chapter 30". www.perseus.tufts.edu.
  12. "Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes, chapter 31". www.perseus.tufts.edu.
  13. "Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes, chapter 32". www.perseus.tufts.edu.
  14. "Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes, chapter 29". www.perseus.tufts.edu.
  15. 15,0 15,1 Lanting; van der Plicht (2010), "De 14C-chronologie van de Nederlandse Pre- en Protohistorie VI: Romeinse tijd en Merovingische periode, deel A: historische bronnen en chronologische schema's", Palaeohistoria 51/52: 52, ISBN 9789077922736, https://books.google.com/books?id=6HCeJU_7SFwC 
  16. "Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes, chapter 35". www.perseus.tufts.edu.
  17. "Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes, chapter 36". www.perseus.tufts.edu.
  18. Tacitus, Die Annale, Boek 1.55
  19. Tacitus, Die Annale Boek 12.27
  20. Armin Becker: Mattium. In: Reallexikon der Germanischen Altertumskunde (RGA). 2de uitgawe, volume 19, Walter de Gruyter, Berlyn – New York 2001, p. 443–444. ( restricted online copy op Google Boeke) (Duits)
  21. Jones, Brian W. (1992). The Emperor Domitian. Londen: Routledge. ISBN 978-0-415-10195-0.
  22. Cassius Dio, 78.14.1f; Grieks.
  23. Fragmenta Valesiana 377.
  24. Sidonius, Carmina 7.388ev. . In hierdie gedig ter ere van Avitus word die "Chatt" beperk deur die moerasagtige water van die Elbe. Vgl. Ludwig Rübekeil, Diachrone Studien zur Kontaktzone zwischen Kelten und Germanen, ÖAW, Wene 2002, pp. 45v.
  25. Gregorius Turonenesis, Historia Francorum, 2.9.55.
  26. Liber Historiæ Francorum 4–5, MGH Scriptores rerum Merovingicarum II, ed. B. Krusch, Hanover, 1888, pp. 245–246
  27. Satow, Ernest Mason (1932). A Guide to Diplomatic Practice. Londen: Longmans.
  28. Schütte (1917), Ptolemy's Maps of Northern Europe, Kjøbenhavn, H. Hagerup, p. 119, https://archive.org/stream/ptolemysmapsofno00schrich#page/118/mode/2up/search/angles 
  29. A Brief Introduction to the History of Hesse (Hessen) Geargiveer 17 Julie 2011 op Wayback Machine
  30. The History Files: Hesse
  31. Kessler, P. L. "Kingdoms of Germany - Hesse". The History Files (in Engels). Besoek op 6 Mei 2024.
  32. "Meyers Konversationslexikon 1888, Vol. 9, Page 623". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Junie 2007. Besoek op 17 September 2017.
  33. "Meyers Konversationslexikon 1888, Vol. 11, Page 449". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Junie 2007. Besoek op 17 September 2017.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]