Gaan na inhoud

Djoser

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
 Djoser
 Netjerichet, Tosorthros, Sesorthos
’n Kalksteenstandbeeld van Djoser.
’n Kalksteenstandbeeld van Djoser.
Farao van die 3de Dinastie
Periode  19 of 29 jaar, omstreeks 2670 v.C.
Voorganger  Chasechemwi (waarskynlik) of Nebka
Opvolger  Sechemchet (waarskynlik) of Sanachte
Vader  Chasechemwi
Moeder  Nimaethap
Monumente  Piramide van Djoser
 Djoser in Egiptiese hiërogliewe
Serech of Horusnaam
G5
R8r
F32
Nebty-naam
G16
R8r
F32
Portaal  Portaalicoon   Antieke Egipte

Djoser was ’n Egiptiese farao van die 3de Dinastie tydens ’n tydperk bekend as die Ou Koninkryk en die stigter van dié era. Hy was ook bekend onder sy Hellenistiese name Tosorthros (deur Manetho) en Sesorthos (deur Eusebius). Hy was die seun van Chasechemwi en koningin Nimaethap, maar dit is nog nie heeltemal duidelik of hy sy pa se direkte troonopvolger was nie. Sommige lyste noem ’n koning Nebka voor hom, maar aangesien daar probleme is om dié naam met enige bestaande Horusname te laat klop, hang daar ’n vraag oor die opvolging.

Identiteit

[wysig | wysig bron]
Die cartouche-naam ...djeser-sah. In die boonste deel van die catouche is daar tekens dat simbole verwyder is.

Die kalksteen-standbeeld van Djoser, nou in die Egiptiese Museum in Kaïro, is die oudste bekende lewensgroot Egiptiese standbeeld.[1] Dit is in 1924–1925 tydens uitgrawings gevind.

In sommige inskripsies word hy Netjerichet ("goddelik van liggaam") genoem. Latere bronne het bevestig Netjerichet en Djoser is dieselfde persoon.

Sommige lyste noem Netsjerophes of Nebka as die eerste heerser van die 3de Dinastie, maar die meeste Egiptoloë glo nou Djoser het die dinastie gestig en dat Nebka tussen Djoser en Hoeni hoort. Verder het die Britse Egiptoloog Toby Wilkinson gewys die grafseels by die ingang van Chasechemwi se graftombe in Abidos noem net Djoser se naam en nie Nebka s’n nie. Dit bevestig die vermoede dat Djoser hom begrawe en opgevolg het.[2]

Bewind

[wysig | wysig bron]

Manetho het geskryf Djoser het 29 jaar oor Egipte regeer, terwyl dit 19 jaar was volgens die Turynse Koningslys. Vanweë sy baie bouprojekte, veral by Saqqara, glo sommige geleerdes sy bewind moes nader aan drie dekades gewees het en dat Manetho waarskynlik reg was.[3]

Die Hongersnoodstele, wat Djoser noem.

Djoser het verskeie militêre veldtogte na die Sinai-skiereiland onderneem waarin die plaaslike inwoners onderwerp is. Hy het ook ekspedisies daarheen gestuur vir die myn van waardevolle minerale soos turkoois en koper. Dit is bekend uit inskripsies wat daar in die woestyn gevind is. Sinai was ook strategies belangrik as ’n buffer tussen die Nylvallei en Asië.

Sy bekendste monument was sy Trappiramide, wat die opstapeling van verskeie mastabas behels het.[4] Manetho het baie eeue later verwys na die gevorderde argitektuur van sy bewind en genoem dat "Tosorthros" ontdek het hoe om met gekapte klippe te bou en hervormings aan die skryfstelsel aangebring het. Moderne geleerdes dink Manetho het oorspronklik verwys (of het bedoel om te verwys) na Imhotep, die beroemde minister van Djoser wat in beheer was van die bou van die Trappiramide.

Sommige stukke reliëf wat by Heliopolis en Gebelein gevind is, noem Djoser se naam en suggereer dat hy opdrag vir bouprojekte in dié stede gegee het. ’n Inskripsie bekend as die Hongersnoodstele wat beweer dit stam uit die tyd van Djoser, maar wat waarskynlik tydens die Ptolemeïese Dinastie geskryf is, vertel hoe Djoser die tempel van Khnum op die eiland Elephantine herbou het en so ’n hongersnood van sewe jaar in Egipte beëindig het. Sommige geleerdes beskou dit as ’n legende uit die tyd toe dit geskryf is. Dit wys egter Egiptenate het Djoser twee millenniums ná sy bewind steeds onthou.

Djoser is eindelik in sy beroemde Trappiramide by Saqqara begrawe.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Berrett, LaMar C. (1 April 1996). Discovering the World of the Bible. Cedar Fort. ISBN 978-0-910523-52-3
  2. Toby Wilkinson, Early Dynastic Egypt, Routledge, 1999, pp.83 & 95
  3. Toby Wilkinson, Royal Annals of Ancient Egypt, pp.79 & 258
  4. Atiya, Farid (1 Januarie 2006). Ancient Egypt. American Univ in Cairo Press. ISBN 978-977-17-3634-9

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]