ETH Zürich
ETH Zürich - Federale Instituut vir Tegnologie Zürich | |
---|---|
Gestig: | 1855 |
President: | Joël Mesot |
Ligging: | Rämistrasse 101 CH-8092 Zürich Switserland 47°22′35″N 8°32′53″E / 47.37639°N 8.54806°O |
Webtuiste: | ethz.ch |
ETH Zürich (Duits: Eidgenössische Technische Hochschule Zürich; Engels: Federal Institute of Technology Zurich) is 'n openbare navorsingsuniversiteit in Zürich, Switserland. Gestig in 1854 met die verklaarde missie om ingenieurs en wetenskaplikes op te voed, fokus die universiteit hoofsaaklik op wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Dit tel deurgaans onder die 20 beste universiteite ter wêreld en sy 16 departemente strek oor 'n verskeidenheid dissiplines en vakke.
Soos sy susterinstelling EPFL, is ETH Zürich deel van die Switserse Federale Instituute van Tegnologie-Domein, 'n konsortium van universiteite en navorsingsinstitute onder die Switserse Federale Departement van Ekonomiese Sake, Onderwys en Navorsing. Vanaf 2021, het ETH Zürich 24 500 studente van meer as 120 lande, insluitend 4 460 doktorale studente.
Studente, fakulteite en navorsers verbonde aan ETH Zürich sluit in 22 Nobelpryswenners, twee Fields-medaljewenners, drie Pritzker-pryswenners en een Turing-toekenningontvanger, insluitend Albert Einstein en John von Neumann. Dit is 'n stigterslid van die IDEA League en die International Alliance of Research Universities (IARU), en 'n lid van die CESAER-netwerk.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]ETH Zürich is op 7 Februarie 1854 deur die Switserse Konfederasie gestig en het op 16 Oktober 1855 sy eerste lesings as 'n politegniese instituut (eidgenössische polytechnische Schule) op verskeie terreine regoor die stad Zürich begin gee.[1] Dit was aanvanklik saamgestel uit ses fakulteite: argitektuur, siviele ingenieurswese, meganiese ingenieurswese, chemie, bosbou, en 'n geïntegreerde departement vir die velde van wiskunde, natuurwetenskappe, letterkunde en sosiale en politieke wetenskappe.
Dit staan plaaslik steeds bekend as Polytechnikum, of bloot as Poly, afgelei van die oorspronklike naam eidgenössische polytechnische Schule,[2] wat na "federale politegniese skool" vertaal.
ETH Zürich is 'n federale instituut (d.w.s. onder direkte administrasie deur die Switserse regering), terwyl die Universiteit van Zürich 'n kantonale instelling is. Die besluit vir 'n nuwe federale universiteit was destyds hewig betwis; die liberale het aangedring op 'n "federale universiteit", terwyl die konserwatiewe magte wou hê dat alle universiteite onder kantonale beheer moes bly, bekommerd dat die liberale meer politieke mag sou kry as wat hulle reeds gehad het.[3] In die begin was beide universiteite saam in die geboue van die Universiteit van Zürich geleë.
Van 1905 tot 1908, onder die presidentskap van Jérôme Franel, is die kursusprogram van ETH Zürich herstruktureer na dié van 'n werklike universiteit en het ETH Zürich die reg verleen om doktorsgrade toe te ken. In 1909 is die eerste doktorsgrade toegeken. In 1911 het dit sy huidige naam, Eidgenössische Technische Hochschule, gekry. In 1924 het 'n ander herorganisasie die universiteit in 12 departemente gestruktureer. Dit het egter nou 16 departemente.
ETH Zürich, die EPFL, en vier geassosieerde navorsingsinstitute vorm die "ETH-domein" met die doel om saam te werk aan wetenskaplike projekte.[4]
Toelating en onderwys
[wysig | wysig bron]Vir Switserse studente is ETH Zürich nie selektief in sy voorgraadse toelatingsprosedures nie. Soos elke openbare universiteit in Switserland, is ETH Zürich verplig om toelating te verleen aan elke Switserse inwoner wat die Matura geneem het.[5] Aansoekers uit die buiteland moet óf die verminderde toelatingseksamen óf die omvattende toelatingseksamen aflê, hoewel sommige aansoekers uit verskeie Europese lande van hierdie reël vrygestel is. 'n Aansoeker kan selfs sonder enige verifieerbare opvoedkundige rekords tot ETH Zürich toegelaat word deur die omvattende toelatingseksamen te slaag.[6]
Soos by alle universiteite in Switserland, word die akademiese jaar in twee semesters verdeel. Eksamens word dikwels tydens eksamensessies gehou wat onmiddellik voor die begin van die volgende semester is (slegs 'n paar uitgesoekte kursusse bied 'n eksamen onmiddellik na die semester eindig). Na die eerste studiejaar moet baccalaureusstudente 'n blokeksamen slaag van alle kursusse wat in die eerste jaar geneem is, genaamd die Basisprüfung (basiseksamen). Die slaagsyfer van basiseksamen is laag. Indien die geweegde gemiddelde telling nie voldoende is nie, moet 'n student die hele Basisprüfung hervat, wat gewoonlik beteken dat hy die hele eerste jaar moet oor doen. Die struktuur van eksamens in die hoër akademiese jare is soortgelyk aan die Basisprüfung, maar met 'n hoër suksessyfer. Die standaard tyd om te gradueer is ses semesters vir die baccalaureus scientiae-graad en drie tot vier verdere semesters vir die magistergraad. Die finale semester word gewy aan die skryf van 'n proefskrif.
Maar op meestersvlak word toelating baie selektief,[7] hoewel voorgraadse kwalifiseerders by ETH en EPFL toelating gewaarborg is (bekend as opeenvolgende meesters).
Onderwys by ETH Zürich fokus oor die algemeen meer op teoretiese aspekte as toepassing en die meeste graadprogramme bevat 'n groot hoeveelheid wiskundige opleiding. Die hoofonderrigtaal in voorgraadse studies is Duits en vir toelating word 'n bewys van voldoende kennis van die Duitse taal vereis.[8] Die meeste meestersgraadprogramme en doktorale studies is in Engels.
Kampus
[wysig | wysig bron]ETH Zürich het twee kampusse. Die hoofgebou is in 1858–1864 buite en reg bokant die oostelike grens van die dorp gebou, maar deesdae is dit reg in die hartjie van die stad geleë. Soos die dorp en universiteit gegroei het, het ETH Zurich na die omliggende wingerde en latere kwartiere versprei. As gevolg hiervan bestaan die Zentrum-kampus uit verskeie geboue en instellings regdeur Zürich en integreer die ETH Zürich stewig in die stad. Die hoofgebou is reg oorkant die straat vanaf die Universiteitshospitaal van Zürich, en reg langaan die hoofgebou van die Universiteit van Zürich.
Omdat hierdie geografiese situasie die uitbreiding van ETH Zürich aansienlik belemmer het, is 'n nuwe kampus vanaf 1964 tot 1976 op die Hönggerberg gebou, 'n noordelike heuwel in die buitewyke van die stad. Die laaste groot uitbreidingsprojek van hierdie nuwe kampus is in 2003 voltooi; sedertdien huisves die Hönggerberg-ligging die departemente argitektuur, siviele ingenieurswese, biologie, chemie, materiaalwetenskap en fisika.
Hoofgebou
[wysig | wysig bron]Die hoofgebou van ETH Zürich is van 1858 tot 1864 onder Gustav Zeuner gebou; die argitek was egter Gottfried Semper, wat destyds 'n professor in argitektuur aan ETH Zürich was en een van die belangrikste argitektoniese skrywers en teoretici van die tyd. Semper het in 'n neoklassieke styl gewerk wat eie aan hom was; en die naamgenoot en argitek van die Semperoper in Dresden. Dit het gewaagde en duidelike massas beklemtoon met 'n detail, soos die rustieke grondvlak en reuse-orde hierbo, wat gedeeltelik afgelei is van die werk van Andrea Palladio en Donato Bramante. Tydens die bou van die Universiteit van Zürich is die suidelike vleuel van die gebou aan die Universiteit toegeken totdat sy eie nuwe hoofgebou gebou is (1912–1914). Omtrent dieselfde tyd is Semper se ETH Zurich-gebou vergroot en het sy koepel ontvang. Die universiteit se ingenieurs- en rekenaarwetenskapdepartemente is hier rondom geleë.
Hönggerberg-kampus
[wysig | wysig bron]In ETH Zurich se 150ste bestaansjaar is 'n uitgebreide projek genaamd "Science City" vir die Hönggerberg-kampus begin met die doel om die kampus te omskep in 'n aantreklike distrik gebaseer op die beginsel van volhoubaarheid. Die universiteit se wetenskapdepartemente is hier rondom geleë.
Die Hönggerberg-kampus bevat ook 'n ASVZ-sportsentrum wat toeganklik is vir alle studente en fakulteite. Die sportsentrum het 'n gimnasium, strandvlugbalbaan, sokkerveld en gevegskunskamers.[9][10]
ETH Zurich het in sy kort geskiedenis baie bekende wetenskaplikes opgelewer en gelok, insluitend Albert Einstein en John von Neumann. Meer as twintig Nobelpryswenners het óf by ETH Zürich gestudeer óf het die Nobelprys ontvang vir hul werk wat by ETH Zürich behaal is. Ander alumni sluit in wetenskaplikes wat met die hoogste eerbewyse soos die Fields-medalje, Pritzker-prys en Turing-toekenning onderskei is, onder andere onderskeidings in hul onderskeie velde. Afgesien van akademiese prestasies, was ETH Zürich die alma mater vir baie Olimpiese medaljewenners en wêreldkampioene.
-
John von Neumann, polimaat
-
Wernher von Braun, pionier van vuurpyl- en ruimtetegnologie
-
Philippe Kahn, uitvinder en entrepreneur
Galery
[wysig | wysig bron]-
ETH Zürich Hoofgebou in die skemer
-
HPT Gebou in die winter
-
Hönggerberg kampus
-
ETH-Universiteitsspitaal-tramhalte
-
ETH Zurich Hoofgebou
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "1848–1855: The polytechnical realisation of a long-held dream". ETH Zurich. Besoek op 5 Februarie 2018.
- ↑ "ETHistory 1855–2005". ETHistory. ETH Zurich. 2005. Besoek op 19 Julie 2015.
- ↑ "1848–1855: Polytechnical realization of an old dream". ETHistory. ETH Zurich. 31 Maart 2005. Besoek op 5 Februarie 2018.
- ↑ "ETH Domain". Zurich and Berne, Switzerland: ETH Board. Besoek op 23 Februarie 2015.
- ↑ "Admission to the first semester with a Swiss matriculation certificate ("Matura")". ETH Zurich. Besoek op 4 April 2014.
- ↑ "Admission to first semester without Swiss matriculation certificate". ETH Zurich. Besoek op 4 April 2014.
- ↑ "Application Master". ETH Zurich. Besoek op 22 Julie 2023.
- ↑ "Language requirements". ETH Zurich. Besoek op 4 April 2014.
- ↑ "Deutsche BauZeitschrift". www.dbz.de (in Duits). Besoek op 13 November 2020.
- ↑ "Vereinigung der Schweizerischen Hochschuldozierenden, Bulletin" (PDF).