Hawaise uitbarsting
'n Hawaise uitbarsting is 'n soort vulkaanuitbarsting waar lawa teen 'n redelik bedaarde tempo sonder ontploffings uit die vulkaanopening vloei; dit word so genoem na die kenmerkende vulkane van Hawaii.
Beskrywing
[wysig | wysig bron]Gewoonlik is dié soort uitbarstings 'n uitvloeiing van hoogs vloeibare, basaltiese lawa met 'n klein viskositeit, min gas en hoë temperature. Baie min vulkaanas kom voor. Dié soort uitbarstings word verbind met warm kolle soos by Kīlauea op die eiland Hawaii en in Ysland, hoewel dit ook kan voorkom naby subduksiesones, soos in Kalifornië, en skeursones.
Hawaise uitbarstings kom dikwels voor by vulkaanskeure, soos in 1950 op Mauna Loa, of by die sentrale opening, soos in 1959 op Kīlauea Iki. By skeuruitbarstings spuit lawa uit 'n skeur op die vulkaan en voed lawastrome wat teen die hang af vloei. By sentrale openinge kan 'n fontein lawa tot 300 m hoog spuit (hoogtes van 1 600 m is aangeteken vir die 1986-uitbarsting van die berg Mihara in Japan).
Hawaise uitbarstings begin gewoonlik met die vorming van 'n kraak of skeur in die grond waardeur gloeinde magma vloei en verskeie magmafonteine naby mekaar verskyn. Die lawavloei raak later om sulke fonteine gekonsentreerd. Die vrystelling van swaeldioksied by sulke uitbarstings kan dodelik wees.[1]
Verwysings
[wysig | wysig bron]Skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Hawaise uitbarsting.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.