Gaan na inhoud

Leo VI van Bisantium

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Leo VI
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Mosaïek in die Aya Sophia wat Leo VI uitbeeld waar hy aanbid.
’n Mosaïek in die Aya Sophia wat Leo VI uitbeeld waar hy aanbid.
Bewind 29 Augustus 88611 Mei 912
Bynaam Leo die Wyse
Dinastie Masedoniese
Gebore 19 September 866
Oorlede 11 Mei 912
Voorganger Basilius I die Masedoniër
Opvolger Alexander
Eggenote Theophano, Zoe Zaoutzaina, Eudokia Baïana, Zoe Karbonopsina
Kinders Eudokia, Anna, Anna, Basil, Konstantyn VII
Vader Basilius I of Michael III
Moeder Eudokia Ingerina

Leo VI of Leo die Wyse (Grieks: Λέων ΣΤ΄ ὁ Σοφός, Leōn VI ho Sophos; 19 September 866 – 11 Mei 912) was die Bisantynse keiser van 886 tot 912. Hy was die tweede heerser van die Masedoniese Dinastie, hoewel sy afkoms onseker is. Hy was goed belese, vandaar sy bynaam.

Tydens sy bewind is die renaissance van die kunste wat onder sy pa begin het, voortgesit, maar die ryk het verskeie militêre nederlae gely in die Balkan teen Bulgarye en teen die Arabiere in Sisilië en aan die Egeïese See.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Hy was die seun van keiserin Eudokia Ingerina, en sy pa was óf Basilius I[1][2][3] óf Michael III.[4][5][6] Eudokia was Michael III se minnares en Basilius I se vrou. In 867 het Basilius Michael laat vermoor en hom as keiser opgevolg.[7] As tweede oudste seun van die keiser was Leo saam met sy broer, Konstantyn, medekeiser. Hy het die troonopvolger geword ná Konstantyn se dood in 879.[8] Basilius en Leo het egter nie langs dieselfde vuur gesit nie, en die verhouding het versleg ná Eudokia se dood toe Leo, wat ongelukkig getroud was met Theophano Martiniake, ’n minnares, Zoe Zaoutzaina, kry. Basilius het Zoe laat trou met ’n onbelangrike offisier en het Leo later amper laat verblind toe hy vermoed dat hy teen hom saamsweer.[9][10] Op 29 Augustus is Basilius in ’n jagongeluk dood en het Leo keiser geword.[11]

Bewind

[wysig | wysig bron]
Die Bisantyne vlug met die Slag van Boulgarophygon, miniatuur uir die Madrid Skylitzes.

Een van Leo se eerste dade as nuwe keiser was om Michael III se oorskot op ’n groot seremonie in die keiserlike mausoleum te laat herbegrawe. Dit het die openbare mening versterk dat Leo homself as Michael se seun beskou het.

Leo het die steun van die amptenare in Konstantinopel gewen en homself omring deur burokrate soos Stylianos Zaoutzes, die pa van sy minnares, Zoe Zaoutzaina[11] en die eunug Samonas. Sy pogings om die aristokratiese families van Bisantium soos die Phokas- en die Doukai-familie, te beheer het soms tot groot konflik gelei.[12] Hy het ook probeer om die kerk te beheer deur sy aanstellings van patriarge.[13]

Leo het die Griekse weergawe van die wetboek Basilika, wat deur sy pa begin is, voltooi. Dit was die wette van Justinianus I en is terselfdertyd bygewerk en aangepas.[14]

In oorloë het Leo gemengde sukses gehad.[15] In ’n oorlog teen Bulgarye is die Bisantyne verslaan, maar Leo het die Magjare omgekoop om Bulgarye uit die noorde aan te val en so het hy in 895 indirek sukses teen die Bulgare behaal.[16] In 896 het hy egter die Slag van Boulgarophygon verloor en daarna moes hy belasting aan die Bulgare betaal.[17] Hoewel hy ’n oorlog teen die Emiraat van Tarsus in 900 gewen het waarin die Arabiese leër verwoes en die emir self gevange geneem is,[18] het die Emiraat van Sisilië in die weste die stad Taormina, die laaste Bisantynse pos op die eiland Sisilië, in 902 verower.[19] Tog het hy in die ooste geslaag met aanvalle teen die Arabiere, Armenië en Theodosiopolis.[18]

In 904 het die afvallige Leo van Tripolis en sy seerowers Thessalonika geplunder terwyl ’n grootskaalse ekspedisie in 911–912 om die Emiraat van Kreta te herower, klaaglik misluk het. In 907 is Konstantinopel aangeval deur Kiëf-Roes onder grootprins Oleg, wat ’n gunstige handelsverdrag met die Bisantyne wou sluit.[20] Leo het hulle afgekoop, maar hulle het weer in 911 aangeval en ’n handelsooreenkoms is eindelik geteken.[21]

Opvolger

[wysig | wysig bron]

Leo VI het ’n groot skandaal veroorsaak met al sy huwelike in ’n poging om ’n erfgenaam te hê. Sy eerste vrou, met wie sy pa hom gedwing het om te trou, is in 897 dood en hy het met sy minnares Zoe Zaoutzaina getrou, maar sy is ook dood, in 899.[22] ’n Derde huwelik was tegnies onwettig,[23] maar hy het tog weer getrou, dié keer met Eudokia Baïana. Sy is egter in 901 dood.[18] ’n Vierde huwelik was buite die kwessie en is deur die kerk as ’n groot sonde beskou, en daarom het Leo ’n minnares, Zoe Karbonopsina, gekry.[24] Toe sy vir hom ’n seun gee, is hy in 905 met haar getroud,[25] maar die patriarg het dit sterk afgekeur. Leo het hom toe vervang en die nuwe patriarg het die huwelik erken, op voorwaarde van ’n lang boetedoening en dat Leo alle toekomstige vierde huwelike verbied.[26]

Om sy buite-egtelike seun se posisie as erfgenaam te versterk, het Leo hom op 15 Mei 908 as medekeiser gekroon, toe hy net twee jaar oud was.[27] Leo is op 11 Mei 912 dood.[12] Hy is opgevolg deur sy jonger broer Alexander, wat sedert 879 saam met eers sy pa en toe sy broer regeer het.[28]

Familie

[wysig | wysig bron]

By sy eerste vrou, Theophano, het hy ’n dogter gehad:

  • Eudokia, oorlede in 892

By sy tweede vrou, Zoe Zaoutzaina, het hy nog ’n dogter gehad:

  • Anna

By sy derde vrou, Eudokia Baïana, het hy ’n seun gehad:

  • Basil, wat net ’n paar dae geleef het

By sy vierde vrou, Zoe Karbonopsina, het hy twee kinders gehad:

  • Anna
  • Konstantyn VII

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Adontz, Nicholas, L'Age et l'origine de l'empereur Basil I. Byzantion, 8, 1933, ble. 475–550
  2. Charanis, Peter, The Armenians in the Byzantine Empire, 1963, bl. 35
  3. Ostrogorsky, George, History of the Byzantine State, 1969, bl. 233, nota 1
  4. Treadgold, bl. 462
  5. Norwich, bl. 102
  6. Finlay, bl. 306
  7. Treadgold, bl. 455
  8. Gregory, bl. 225
  9. Norwich, bl. 99
  10. Treadgold, bl. 460
  11. 11,0 11,1 Treadgold, bl. 461
  12. 12,0 12,1 Kazhdan, bl. 1211
  13. Finlay, bl. 310
  14. Norwich, bl. 105
  15. Finlay, bl. 314
  16. Norwich, bl. 108
  17. Treadgold, bl. 464
  18. 18,0 18,1 18,2 Treadgold, bl. 466
  19. Gregory, bl. 226
  20. Gregory, bl. 226
  21. Treadgold, bl. 469
  22. Treadgold, bl. 465
  23. Gregory, bl. 227
  24. Norwich, bl. 115
  25. Gregory, bl. 227
  26. Treadgold, bl. 468
  27. Kazhdan, bl. 502
  28. Gregory, bl. 228

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Canduci, Alexander (2010), Triumph & Tragedy: the Rise and Fall of Rome's Immortal Emperors, Pier 9, ISBN 978-1-74196-598-8 
  • Finlay, George History of the Byzantine Empire from 716 – 1057, Edinburg: William Blackwood & Sons, 1853
  • Gregory, Timothy, E., A History of Byzantium. Blackwell Publishing, 2005 ISBN 0-631-23512-4
  • Kazhdan, Alexander, ed. (1991), Oxford Dictionary of Byzantium, Oxford University Press, ISBN 978-0-19-504652-6 
  • Norwich, John Julius (1993), Byzantium: The Apogee, Londen: Penguin, ISBN 0-14-011448-3 
  • Treadgold, Warren A History of the Byzantine State and Society. Stanford: Stanford University Press, 1997 ISBN 0-8047-2630-2

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]