Gaan na inhoud

Miguel Hidalgo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Miguel Hidalgo

Miguel Gregorio Antonio Ignacio Hidalgo y Costilla y Gallaga Mondarte Villaseñor (8 Mei 1753, Pénjamo – 30 Julie 1811, Chihuahua) was 'n Meksikaanse priester wat die Meksikaanse Vryheidsoorlog begin het.

Hidalgo was van Kreoolse afkoms. Hy het in Valladolid gestudeer en het aanvanklik daar onderrig gegee ná sy priesterwyding in 1778. In 1803 het hy die priester geword van die dorp Dolores in die hedendaagse staat Guanajuato. Hidalgo was 'n ywerige leser van Franse letterkunde en 'n nie-konformis. Hy het Indiaanse tale geleer en openlik kerkregulasies soos seksuele onthouding vir geestelikes verbreek. Hidalgo het 'n lid geword van 'n groep rondom Josefa Ortiz de Domínguez en Ignacio Allende wat in die geheim planne gemaak het vir 'n opstand van mestizos en Indiane teen die Spaanse heerser, gerig op onafhanklikheid van Nieu-Spanje.[1][2][3][4]

Die groep het 'n opstand vir 8 Desember 1810 beplan, maar die planne het uitgelek, en op 13 September is wapens gevind tydens 'n deursoeking van die huis van een van die groep se lede. Op die nag van 16 September het Hidalgo die klokke van sy kerk gelui om mense bymekaar te roep en 'n vurige toespraak oor Meksikaanse onafhanklikheid vir die skare gehou. Hierdie gebeurtenis, die Grito de Dolores, was die begin van die Meksikaanse rebellie teen die Spanjaarde.

Hidalgo en Allende het hul troep burgerlikes na San Miguel gelei. Langs die pad het Hidalgo uit 'n kerk 'n beeld van Our Lady of Guadalupe geneem, wat as die vaandel van die opstand gedien het. San Miguel is deur die insurgente gevange geneem, en teen Hidalgo se wense het sy opstandelinge die Spaanse inwoners vermoor en geplunder. Iets soortgelyks het in Celaya gebeur. In Guanajuato het die Spanjaarde hulself in die plaaslike graanstoor verskans. Hidalgo se manne het die gebou geneem en die Spanjaarde uitgemoor.

Meer stede het nou deur die opstandelinge geval, veral Zacatecas, San Luis Potosí en Valladolid, en Hidalgo het na Meksikostad gevorder. Op 30 Oktober was daar 'n geveg met die gereelde koloniale weermag, die slag van Monte de las Cruces. Hidalgo se mag was numeries minder, en het met 'n swak georganiseerde groep burgerlikes teen 'n goed toegeruste professionele leër geveg. Hy het nietemin daarin geslaag om te wen, en die regeringsmagte het na Meksikostad teruggetrek. Alhoewel die hoofstad nou vir hom oop was, het Hidalgo besluit om nie die stad in te neem nie. Hy het wel later daarin geslaag om Guadalajara in te neem.

Op 17 Januarie 1811 was daar weer 'n geveg met die koninklikes, gelei deur generaal Félix Calleja, die slag van Puente de Calderón. Hierdie keer was dit egter die insurgente wat verdryf is. In Maart van daardie jaar is Hidalgo naby Monclova deur die Spanjaarde gevange geneem. Omdat hy 'n priester was, is hy nie dadelik vir hoogverraad soos Allende en die meeste ander tereggestel nie, maar voor die Inkwisisie gebring. Op 31 Julie 1811 is hy weens dwaalleer en hoogverraad deur 'n vuurpeleton tereggestel.

Nog 'n priester, José María Morelos, het die leierskap van die opstand oorgeneem ná Hidalgo se arrestasie. In Meksiko word Hidalgo steeds as 'n bevryder en Vader van die Vaderland vereer.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Miguel Hidalgo y Costilla". Mediateca INAH (in Spaans). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Maart 2023. Besoek op 30 Maart 2023.
  2. Vázquez Gómez, Juana (1997). Dictionary of Mexican Rulers, 1325–1997. Westport, Connecticut: Greenwood Publishing Group, Inc. ISBN 978-0-313-30049-3.
  3. "I Parte: Miguel Hidalgo y Costilla (1753–1811)" (in Spaans). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Januarie 2013. Besoek op 27 November 2008.
  4. "Videoteca Educativa de las Américas" (in Spaans). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Julie 2011.