Pools
- Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Pole (volk).
Pools język polski | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [ˈpɔlski] | |
Gepraat in: | Pole Belarus Oekraïne Litaue Tsjeggië Kanada Verenigde State Brasilië Verenigde Koninkryk Duitsland | |
Gebied: | Sentraal- en Oos-Europa | |
Totale sprekers: | 40 miljoen[1] | |
Rang: | 27 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Slawies Wes-Slawies Lechities Pools | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Europese Unie Pole | |
Gereguleer deur: | Poolse Taalraad (Rada Języka Polskiego) | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | pl
| |
ISO 639-2: | pol
| |
ISO 639-3: | pol
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Die Poolse taal (Pools: język polski, polszczyzna [ˈpɔlski]) maak deel uit van die Lechitiese groep van die Wes-Slawiese tale, 'n subgroep van die Indo-Europese taalfamilie. Dit is nou verwant aan Kasjoebies, Tsjeggies, Slowaaks en Sorbies en tans die mees gesproke Slawiese taal naas Russies.
Pools is die amptelike taal van Pole asook een van die ampstale van die Europese Unie. Naas sowat 38 miljoen Poolssprekendes in Pole is daar tussen 1,5 en 2 miljoen sprekers in die buiteland (sommige akademiese bronne noem hoër syfers van tot agt miljoen[2]). Groot minderhede van Poolssprekendes word in Oos- en Noordoos-Europese lande soos Rusland, Litaue, Belarus, Oekraïne en Tsjeggië aangetref, maar ook in immigrantegemeenskappe in Kanada, Ierland, Argentinië en Australië. Daar is beduidende Poolse minderhede in die Verenigde State waar sowat 670 000 Poolssprekendes hulle gevestig het,[3] asook in Duitsland, Brasilië, Frankryk en die Verenigde Koninkryk.
Kenmerke
[wysig | wysig bron]Vormverandering (vervoeging en verbuiging) word in Pools gebruik om sewe naamvalle (die Oud-Slawiese naamvalstelsel met nominatief, genitief, datief, akkusatief, instrumentalis, lokatief en vokatief), twee numeri, drie genera vir enkelvouds- en twee vir meervoudsvorme by selfstandige naamwoorde asook kategorieë van persone en tyd, modi, die genus verbi en aspekte aan te dui. Werkwoorde word volgens persoon, numerus en genus vervoeg. Danksy vormveranderings het Pools 'n relatief vry woordvolgorde.
Drie oorspronklike Slawiese tydsvorme (aorist, imperfek en plusquamperfek) het verlore gegaan. In die Poolse omgangstaal word slegs een verlede tydsvorm, die sogenaamde Slawiese perfek, gebruik. Net soos in ander Balto-Slawiese tale is daar geen lidwoorde in Pools nie.
Pools is die enigste Slawiese taal waar nasale of neusklanke nog voorkom. In Poolse woorde word gewoonlik die voorfinale lettergreep beklemtoon – in teenstelling met ander Slawiese tale wat óf geen vaste woordaksent het nie (soos Russies) óf waar die klemtoon op die eerste lettergreep lê soos in Tsjeggies en Slowaaks. Die sogenaamde Poolse umlaut is die verandering van e na o of a voor harde medeklinkers.
Die spelling van woorde met ż en rz, u en ó, h en ch moet aangeleer word aangesien die uitspraak daarvan nouliks verskil.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die vroeë Middeleeue: Latyn as skryftaal
[wysig | wysig bron]Die ontwikkeling van Pools as 'n selfstandige Slawiese taal het gepaard gegaan met die stigting van 'n Poolse staat in die 10de eeu. In 966 het vors Mieszko I van Wielkopolska (Groot-Pole) die Christelike geloof aangeneem nadat 'n aantal Slawiese stamme, wat in kulturele en taalkundige opsig nou verwant is, in 'n gemeenskaplike ryk verenig is.
Saam met die Christelike godsdiens is die Latynse alfabet ingevoer sodat Pools – wat aanvanklik net soos ander Slawiese tale uitsluitlik as spreektaal bestaan het – vervolgens ook as 'n skryftaal ontwikkel kon word. Die eerste geskrewe werke in Pole het nogtans in Latynssprekende kerklike kringe ontstaan, en Slawiese name en ander terme het eers later geleidelik ingang gevind.
Die oudste bekende dokumente in Pools is name en glosse in Latynse tekste, veral in die sogenaamde "Dagome iudex", 'n dokument uit die jare 990–992 waarin die oorhandiging van Mieszko I se vorstedom aan die pouslike gesag bevestig word, en die "Bul van Gniezno" ("Ex commisso nobis") wat in 1136 deur pous Innocentius II uitgevaardig is en sowat 400 enkele Poolse name van nedersettings en persone bevat. 'n Bul van Pous Adrianus IV uit die jaar 1155 bevat 55 Poolse name.
Vroeë Poolse geskrifte
[wysig | wysig bron]Die eerste geskrewe volledige sin in Pools is egter in die kroniek van die klooster Heinrichau naby Breslau (Wrocław) ontdek. Die inskrywings vir die jaar 1270 bevat die uitnodiging van 'n man wat vir sy malende vrou sê: „Daj, ać ja pobruszę, a ty poczywaj“ ("Laat my nou voortgaan met die maalwerk, en jy gaan nou rus.")
Die sogenaamde Bogurodzica (die eerste Poolse lofsang), die "Heilig-Kruis-preke" en die "Preke van Gniezno") is van die oudste Poolse literêre monumente. Later is ook religieuse Latynse tekste in Pools vertaal soos byvoorbeeld die Psałterz Floriański ("Psalter van Sint Floriaan") uit die 14de eeu.
Die hergeboorte van Pole as eenheidsstaat ná 'n periode van feodale versplintering het gepaard gegaan met 'n ontwaking van die nasionale bewussyn waarby die Poolse taal 'n sentrale rol gespeel het. Alhoewel Latyn steeds die oorheersende literêre taal was, het elementêre skole reeds vanaf die 13de begin om Pools as onderrigmedium in te voer, veral vir die godsdiensonderwys. Die Sinode van Łęczyca het in 1285 besluit dat hoofde van katedraal-, klooster- en ander skole goeie kommunikasievaardighede in Pools moes hê om die werke van belangrike skrywers vir hul leerders uit te lig.[4] Predikante was verplig om in Pools te preek, en ook religieuse liedere en psalme is gewoonlik in die volkstaal gesing.
Die wedersydse invloed tussen Pools en Latyn het in die 13de eeu aanleiding tot die ontstaan van eerste Poolse spelreëls gegee. Hulle is deur Poolse geestelikes met 'n opvoeding in Latyn saamgestel. Jakub Parkoszowic van Żurawica het omstreeks 1440 die eerste poging onderneem om die grammatikale strukture van Pools in 'n geskrewe (Latynse) werk te behandel. In hierdie periode is Pools ook in toenemende mate as taal van die regswetenskappe gebruik. 'n Poolse gedig oor kulinêre vreugdes het omtrent 1400 ontstaan.
Gedurende die 15de eeu is die aanvanklik sterk Tsjeggiese invloed geleidelik teruggedring, en die Poolse skryftaal het met Latyn begin meeding. Tot in die 16de eeu was die gebruik van Pools as skryftaal hoofsaaklik beperk tot geestelike kringe, tog het ook adellike en burgerlike skrywers daarna in toenemende mate na Pools begin oorskakel.
Pools as moderne literêre taal
[wysig | wysig bron]Die moderne Poolse literêre taal het vanaf die 16de eeu begin ontwikkel en was hoofsaaklik op dialekte in die omgewing van Gniezno (Gnesen) in Wes-Pole gebaseer. Uit hierdie tydperk dateer werke soos Till Uilenspiegel, die kronieke-literatuur van Marcin Bielski en prosawerke van Mikołaj Rej. Hul hoë taalvlak weerspieël die lang tradisie van Pools as die taal van die koninklike hof, die staatsadministrasie en die wêreldlike en geestelike retoriek.
Gedurende de 16de eeu het Pools vanweë sy ryk woordeskat en hoogs ontwikkelde uitdrukkingsvermoë tot een van die beduidendste tale in Sentraal-Europa ontwikkel. Die opgeleides van die Renaissance-tydperk het baie moeite gedoen om Pools as taal verder te ontwikkel sodat dit Latyn geleidelik kon vervang.
Tussen 1807 en 1814 is die eerste beduidende wetenskaplike Poolse woordeboek, Słownik języka polskiego, in Warskou gepubliseer. Samuel Bogumił Linde (1771–1847) se werk met ses boekdele en 60 000 inskrywings is in 'n oplaag van 1 200 eksemplare gedruk.[5]
Die huidige Poolse woordeskat bevat 'n aantal leenwoorde uit Oud-Tsjeggies en Middelhoogduits asook uit Latyn en Grieks. In die moderne tyd het tale soos Italiaans, Frans, Duits, Engels, Oekraïens, Belarussies, Hongaars en Turks groter invloed op Pools uitgeoefen, terwyl ontlenings uit Russies en Jiddisj nouliks voorgekom het. Tans oefen Engels 'n besonder groot invloed op die moderne Poolse taal uit.
Alfabet
[wysig | wysig bron]Pools is van begin af met die Latynse alfabet geskryf en maak gebruik van diakritiese tekens vir Poolse klanke.
Die Poolse alfabet bestaan uit 32 letters: A, Ą, B, C, Ć, D, E, Ę, F, G, H, I, J, K, L, Ł, M, N, Ń, O, Ó, P, R, S, Ś, T, U, W, Y, Z, Ź, Ż.
Daarby word met ą en ę nasale klinkers voorgestel, die ć, ń, ś, ź stel gepalataliseerde medeklinkers voor. Die ł word as die Engelse w uitgespreek, terwyl die Poolse w ongeveer die waarde van die Afrikaanse of Nederlandse v of f het.
Ą, Ę, Ń en Y kom nooit aan die begin van 'n woord voor – die hoofletters word dus nouliks gebruik (gewoonlik net indien die hele woord in hoofletters geskryf word). Q, V en X kom uitsluitlik in vreemde woorde voor wat nog nie gepoloniseer is nie. Hulle maak nogtans sedert die vroeë 20ste eeu deel uit van die moderne Poolse alfabet.
Woordeskat
[wysig | wysig bron]Pools het hoofsaaklik woorde uit Engels, Frans, Duits, Latyn en Russies ontleen. Die redes hiervoor was uiteenlopend van aard. Met die kerstening van Pole is talle kerklike vakterme geskep wat uit Latyn oorgeneem is. Die aantreklikheid van die Franse kultuur het tot die ontlening van 'n groot aantal Franse terme (sogenaamde gallisismes) gelei, terwyl ingrypende historiese gebeure soos die drie Delings van Pole met die ontlening van 'n aantal Duitse en Russiese woorde gepaard gegaan het.
Latyn het sedert die Middeleeue 'n beduidende rol by die woordvorming gespeel, terwyl religieuse Latynse vakterme met die stigting van die Poolse staat en die kerstening van die land dikwels uit die aangrensende Tsjeggiese en Duitse taalgebied oorgeneem is, soos byvoorbeeld anioł ("engel") en msza ("mis"). Tans is Latynse invloede veral in die wetenskaplike woordeskat waarneembaar.
Grootskaalse immigrasie uit Duitssprekende gebiede sedert die Middeleeue het net soos die 19de eeuse Duitse en Oostenrykse besettingsmagte se beleid van germanisering tot talle ontlenings en leenvertalings uit Duits gelei. Die moderne Poolse taal sou ondenkbaar wees sonder leenvertalings soos czasopismo ("tydskrif", Duits Zeitschrift), dworzec kolejowy ("treinstasie") of światopogląd ("wêreldbeskouing", afgelei van die Duitse Weltanschauung).
Saam met die Duitse immigrasie in die 13de eeu is 'n groter aantal stedelike nedersettings (Latyn: civitates) gestig wat ten opsigte van hulle administrasie vir die eerste keer oor geskrewe wette, verkose owerhede en burgemeesters beskik het. Hulle het gewoonlik die Duitse reg oorgeneem waarna plaaslik meestal as Maagdenburgse Reg verwys is. Die administratiewe strukture en argitektoniese style van hierdie periode het hulle oorsprong in Frankryk en Italië gehad en is deur Duitse setlaars later ook in Pole ingevoer, saam met vakterme soos burmistrz ("burgemeester", van Duits Bürgermeister) of gmina ("gemeente", van Duits Gemeinde).
Frans was in die 18de eeu veral gewild onder intellektueles en het sodoende 'n belangrike invloed op die Poolse taal uitgeoefen. Franse ontlenings kom op 'n verskeidenheid gebiede voor: makijaż ("grimering", van Frans maquillage), mansarda ("mansarde"), koniak ("cognac") en ekran ("skerm").
Russiese ontlenings in Pools is in dieselfde tydperk deur die Russiese besetters ingevoer. 'n Tweede golf van Russiese ontlenings dateer uit die periode ná 1945 toe Pole een van die Oos-Europese volksdemokratiese state in die Sowjet-invloedsfeer was. Terme soos kolektyw ("kollektief"), kołchoz ("kolchos") en gułag ("Goelag") het destyds die Poolse woordeskat binnegekom.
Engelse invloede is sedert die 1960's bespeurbaar en het veral sedert die 1980's duidelik toegeneem. Die meeste Engelse terme word in vakgebiede soos rekenaarkunde, sport en ekonomie gebruik. Tipiese voorbeelde is serwer ("bediener", van Engels server), bajt ("greep", van Engels byte), biznes ("sake", van Engels business), menedżer ("bestuurder", van Engels manager) en diler ("handelaar", van Engels dealer – die spelling dealer kom egter ook voor).
Dialekte
[wysig | wysig bron]Volgens die taalkundige tradisie word die Poolse dialekte in sewe hoofgroepe verdeel wat gewoonlik met 'n bepaalde gewes verbind word. Hulle kan verder verdeel word in subdialekte waarna in die Poolse taalkunde as gwara of region verwys word. Die verskille tussen Poolse dialekte is relatief klein in vergelyking met byvoorbeeld die Duitse taalgebied en dikwels nouliks waarneembaar vir nie-moedertaalsprekers.
As hoofdialekgroepe van Pools word tradisioneel beskou:
- Groot-Pools,
- Masowies,
- Klein-Pools,
- Północnokresowy (die Oos-Poolse dialekte van die noordoostelike grensgebiede of kresy wat tans nog in Litaue en Belarus gebesig word, maar anders met uitsterwing bedreig word),
- Półudniowokresowy (die Oos-Poolse dialekte van die suidoostelike grensgebiede wat as 'n soort pidgintaal uit Pools en Oud-Roeteens ontwikkel het en eweneens met uitsterwing bedreig word),
- Kasjoebies (wat intussen amptelik as 'n selfstandige minderheidstaal erken word) en
- Silesies.
Die huidige Standaardpools, wat hoofsaaklik op die Warskouse variant van Pools baseer, word dwarsoor die land gepraat of tenminste verstaan.[6] Die verskillende streeksvariante van Pools het as gevolg van moderne massakommunikasie en die grootskaalse bevolkingsverskuiwings ná die Tweede Wêreldoorlog aan belangrikheid ingeboet en vanweë die sterk standaardiserende tendense ook baie van hul opvallendste kenmerke verloor. 'n Ander belangrike faktor by hierdie ontwikkeling is die amptelike taalbeleid wat Standaardpools teen streeksinvloede wil beskerm – die gebruik van Standaardpools word sodoende met 'n hoë vlak van opvoeding geassosieer, terwyl die rol van dialekte beperk bly tot kommunikasie binne die gesin, alledaagse gesprekke en dié van 'n stylmiddel in literêre tekste. 'n Selfstandige literatuur op basis van Poolse dialekte bestaan wel, maar bly eweneens beperk tot die volkskuns.
In sommige streke van Pole soos Silesië word die plaaslike dialekte nogtans as draers van kulturele identiteit beskou en bewaar. Die hoofsaaklike verskille tussen Standaardpools en streeksdialekte raak die uitspraak van stemhebbende en stemlose medeklinkers, nasale en vokale. Die Góral-dialek van die suidelike hoë bergstreke verskil merkbaar van Standaardpools – sowel ten opsigte van sy woordeskat asook die uitspraak: sprekers maak geen verskil tussen klanke soos cz en c, ż en z, sz en s.[7]
Pools-Afrikaanse woorde- en grammatikaboeke
[wysig | wysig bron]Die eerste Afrikaans-Poolse grammatikaboek is in 1983 deur die Direktoraat Taaldiens van die Suid-Afrikaanse Weermag saamgestel nadat groter getalle Poolse immigrante hulle teen die begin van die 1980's in Suid-Afrika gevestig het.[8]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Polish". Ethnologue. Besoek op 2 September 2022.
- ↑ (de) "Władisław Lubaś en Jerzy Molas: Polnisch. Universiteit van Klagenfurt, Oostenryk" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 20 Maart 2017. Besoek op 1 Maart 2015.
- ↑ (en) (PDF) Census 2000, U.S. Census Bureau, Oktober 2003, http://www.census.gov/prod/2003pubs/c2kbr-29.pdf, besoek op 22 Februarie 2008
- ↑ (de) Maria Bogucka: Das alte Polen. Urania: Leipzig 1983, bl. 73
- ↑ (en) "poland.gov.pl: The Polish Language". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 April 2010. Besoek op 25 Maart 2010.
- ↑ (en) Oscar E. Swan: A Grammar of Contemporary Polish. Bloomington, IN: Slavica 2002, bl. 5
- ↑ (en) Swan (2002), bl. 5
- ↑ (af) Taal op die frontlinie. In: Suid-Afrikaanse Panorama, volume 31, nommer 2, Februarie 1986, bl. 36
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Pools. |
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir Pools.
- (en) "Polish language". Encyclopædia Britannica. Besoek op 2 September 2022.
- Aanlynkursus Afrikaans-Pools