Sefardiese Jode
Sefardiese Jode | |
---|---|
Joodse feesviering in Tétouan, skildery deur Alfred Dehodencq in 1865, Paryse Museum vir Joodse Kuns en Geskiedenis | |
Totale bevolking: | 2,2 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Israel 1,4 miljoen Frankryk 300 000–400 000 |
Taal: | Histories: Ladino, Arabies, Haketia, Judeo-Portugees, Berbers, Katalaans, Sjoadit, plaaslike tale Hedendaags:: Plaaslike tale, veral Hebreeus, Frans, Engels, Turks, Spaans, Portugees, Italiaans, Ladino, Arabies |
Geloofsoortuiging: | Judaïsme |
Verwante etniese groepe: | Jode, Asjkenasiese Jode, Bene Israel, Bergjode, Beta Israel, Boerejode en Mizrachi-Jode; ander Levantyne, Libanese,[1] Palestyne,[1][2] Siriërs,[1] ander Midde-Oosterse Semitiese volke, Spanjaarde, Portugese, Pieds-noirs en Hispanics/Latino's |
Sefardiese Jode (Hebreeus: סְפָרַדִּים, Moderne Hebreeus: Sefaraddim, Tiberies: Səp̄āraddîm; ook יְהוּדֵי סְפָרַד, Jehoedéj Sefarad, letterlik: "Jode van Spanje") is 'n Joodse etniese deelgroep. Die naam is afgelei van die plek of landskap Sefarad (ספרד) in die boek Obadja van die Hebreeuse Bybel.[3] Tydens die Middeleeue het Sefarad die algemene Hebreeuse naam vir Spanje geword, Jehoedéj Sefarad (יְהוּדֵי סְפָרַד) verwys daarom na die Jode van Spanje. Hulle het hulle gemeenskappe in alle dele van die moderne Spanje en Portugal gevestig en hul kenmerkende eienskappe en diaspora-identiteit ontwikkel, wat hulle in ballingskap uit Iberië saamgeneem het, beginnende in die laat 15de eeu na Noord-Afrika, Anatolië, die Levant, Suidoos- en Suid-Europa, sowel as die Amerikas, en alle ander plekke van hul verbanning, óf langs die bestaande mede-godsdienstiges óf alleen as die eerste Jode in nuwe grense. Hul duisendjarige verblyf as 'n oop en georganiseerde Joodse gemeenskap in Iberië het met die Reconquista begin daal, en is tot 'n einde gebring met die Alhambra-besluit deur die Spaanse Rooms-Katolieke monarge in 1492, en toe deur die edik van uitsetting van Jode en Moslems deur die Portugese koning Manuel I in 1496,[4] wat gelei het tot 'n kombinasie van interne en eksterne migrasies, massa-bekerings en teregstellings.
Sefardiese Jode vorm die derde grootste en tweede oudste groep binne die Joodse diaspora (Jode buite Israel) met 'n geskiedenis van meer as 2000 jaar. Dit is onduidelik of Jode reeds vóór die Romeinse verowering op die Iberiese Skiereiland hulle gevestig het of daarná. Volgens die Romeinse keiser Titus het Jode hulle reeds in die eerste eeu n.C. in die hele Middellandse Seegebied gevestig. Na die onderdrukking van die Joodse opstand en die vernietiging van die tweede Tempel van Jerusalem het Jode hulle in ander dele van die Romeinse Ryk gevestig, insluitende die Iberiese Skiereiland. Volgens 'n ander teorie het Jode hulle reeds saam met Fenisiese handelaars uit die Levant op die Iberiese Skiereiland gevestig, reeds voor die koms van die Romeine.
Vandag verwys die term "Sefardiese Jode" ook soms na tradisioneel Oos-Joodse gemeenskappe in Wes-Asië en verder; alhoewel hulle nie genealogiese wortels in die Joodse gemeenskappe van Iberië het nie, het hulle 'n liturgiese styl, wette en gebruike gemeen met die Sefardiese Joodse ballinge van Iberië.
Die tradisionele tale van Sefardiese Jode en hul afstammelinge was histories sowel Spaans as Portugees, alhoewel ook ander tale oor die eeue heen aangeneem en aangepas is. Die historiese vorme van Spaans of Portugees wat in verskillende Sefardiese gemeenskappe gepraat is, is algemeen bepaal deur die datum van hul vertrek vanaf Iberië en hulle toestand van vertrek as Jode of nuwe Christene. Sefardiese Jode het hulle veral in die destydse gebied van die Ottomaanse Ryk met provinsies soos Thrakië, Masedonië, Bosnië en die Heilige Land asook Noord-Afrika (Maghreb) gevestig. 'n Kleiner aantal het hulle in Noord-Europa gevestig, veral in die hawestede van Nederland (Amsterdam) en Noord-Duitsland (Hamburg), maar ook in Frankryk (Bordeaux, Bayonne), in Italië (Livorno, Ferrara), in die Amerikas, Indië en Afrika. Die Griekse stad Thessaloniki het tot die besetting deur Duitse troepe in 1941 waarskynlik die grootste Europese Sefardiese gemeenskap gehuisves; dié stad is dus ook "Jerusalem van die Balkan" genoem.[5]
Ladino, soms "Ladino Oriental" (Oostelike Ladino) genoem, is 'n Romaanse taal afgelei van Oud-Spaans, insluitend elemente van al die ou Romaanse tale van die Iberiese Skiereiland, asook Hebreeus en Aramees, en is gepraat deur die Oos-Sefardiese Jode, wat hulle na die uitsetting uit Spanje in 1492 in die Oostelike Middellandse See gevestig het. Hierdie dialek was ook beïnvloed deur Ottomaanse Turkse, Arabiese, Griekse, Bulgaarse en Serwo-Kroatiese woordeskat in die verskillende lande van hul ballingskap. Haketia (in Algerië ook "Tetouani" genoem) is 'n deur Arabies beïnvloede Judeo-Spaanse variëteit wat ook uit Oud-Spaans ontwikkel het met talle Hebreeuse en Aramese leenwoorde en deur Sefardiese Jode in Noord-Afrika na hul uitsetting uit Spanje in 1492 gepraat is. Die hoofkenmerk van hierdie dialek is die sterk invloed van die Jebli-Arabiese dialek van Noord-Marokko. Vroeë Moderne Spaans en Vroeë Moderne Portugees, insluitende 'n mengsel van dié twee is tradisioneel gepraat of liturgies gebruik deur die eens bekeerde Westelike Sefardiese Jode en saamgeneem tydens hul latere migrasie uit Iberië tussen die 16de en 18de eeu as bekeerdes, waarna hulle teruggekeer het na Judaïsme. Moderne Spaanse en Moderne Portugese variëteite word tradisioneel deur die Sefardiese Bnei Anusim van Iberië en Ibero-Amerika gepraat, ook na die onlangse terugkeer deur sommige na Judaïsme in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu. By laasgenoemde het hierdie variëteite leenwoorde uit die inheemse tale van die Amerikas na die Spaanse verowering oorgeneem.
Van die 2,2 miljoen Sefardiese Jode wêreldwyd lewe sowat 1,4 miljoen in Israel, gevolg deur tussen 300 000 en 400 000 in Frankryk en 200 000 tot 300 000 in die Verenigde State.
Sefardiese Jode (met hul tradisionele taal Ladino) word onderskei van Asjkenasiese Jode (met hul tradisionele taal Jiddisj), wat afstam van Jode uit Sentraal- en Oos-Europa, en Mizrachi-Jode (met tradisionele tale soos Aramees, Arabies en Persies), wat afstam van Jode wat in die Midde-Ooste gebly het. Die belangrikste verbindende elemente is die gemeenskaplike geloof, Judaïsme, en die gebruik van Hebreeus as liturgiese taal.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 (en) "Jews Are The Genetic Brothers Of Palestinians, Syrians, And Lebanese". Sciencedaily.com. 9 Mei 2000. Besoek op 16 Mei 2019.
- ↑ (en) Nebel, Almut; Filon, Dvora; Weiss, Deborah A.; Weale, Michael; Faerman, Marina; Oppenheim, Ariella; Thomas, Mark G. (2000). "High-resolution Y chromosome haplotypes of Israeli and Palestinian Arabs reveal geographic substructure and substantial overlap with haplotypes of Jews" (PDF). Human Genetics. 107 (6): 630–41. doi:10.1007/s004390000426. PMID 11153918. Besoek op 16 Mei 2019.
- ↑ (af) "Obadja 1,20". Bybel: Obadja. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019.
Dieselfde Israeliete wat in ballingskap weggevoer is, sal Kanaän in besit neem tot by Sarfat; die mense van Jerusalem wat nou ballinge in Sefarad is, sal die stede in die Suidland in besit neem.
- ↑ Fernandes, Maria Júlia (1996). "Expulsão dos judeus de Portugal" (in Portugees). RTP. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Februarie 2020. Besoek op 16 Mei 2019.
- ↑ (de) Schalom. Deutschlandfunk, 25 November 2011
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Sefardiese Jode. |
- (en) Isidore Singer, Meyer Kayserling. "Sephardim". Jewish Encyclopedia. Besoek op 16 Mei 2019.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link) - (en) "Sephardi". Encyclopædia Britannica. Besoek op 16 Mei 2019.