Gaan na inhoud

Skald

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Minnesanger sing van beroemde dade, deur J.R. Skelton, omstreeks 1910.

'n Skald of skáld (Oudnoors en Yslands vir "digter") was in die Wikingtydperk 'n hofdigter of minnesanger wat skaldegedigte geskryf het. Skaldegedigte is tradisioneel op een geleentheid en deur een mens geskryf, terwyl die ander vorm van Oudnoorse poësie, Eddagedigte, eerder met tradisie verbind word.

Meer as 5 500 skaldeverse in 700 manuskripte het bewaar gebly, insluitende verskeie sagas en in Snorri Sturluson se Prosaïese Edda, 'n boek met skaldegedigte wat tot 'n herlewing in die kuns gelei het. Baie van die verse is fragmente van oorspronklik langer werke en dit is onbekend wie baie daarvan geskryf het.

Die vroegste bekende skaldegedig is geskryf deur Bragi Boddason, bekend as Bragi die Oue, 'n Noorweegse skald van die eerste helfte van die 9de eeu. Die meeste bekende skalde was verbonde aan die hof van Noorweegse konings in die Wikingtydperk, en later was al hoe meer van hulle Yslands. Die inhoud van hulle uitgebreide gedigte was soms mities van aard voor die kerstening van Skandinawië en daarna gewoonlik historiese materiaal wat die dade van hulle beskermhere uitgebeeld het. Die tradisie het tot in die laat Middeleeue voortgeduur.

Digvorm

[wysig | wysig bron]

Skalde- en Eddagedigte stam van dieselfde tradisie van allitererende verse af, en in Oudnoors sowel as Yslands beteken die woord skald bloot "digter". Skaldegedigte verskil van Eddagedigte deurdat hulle met 'n enkele digter verbind word eerder as met tradisie. Die styl, met dróttkvætt ("hofmeter"), is ook ingewikkelder, want dit verg interne ritme sowel as alliterasie.[1] Die ouer fornyrðislag ("antiekewoord"-), ljóðaháttr ("liedvorm-") en málaháttr ("spraakvorm-")meters van die Eddagedigte is eenvoudiger. Die gevolglike kompleksiteit van skaldegedigte kan vir die moderne leser moeilik verstaanbaar lyk.[2][3] Die oorspronklike gehoor, wat die kuns geken het, kon egter baie verstaan as hulle dit die eerste keer hoor en kon intellektuele bevrediging daaruit kry.[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Kari Ellen Gade. "Dróttkvætt". Skaldic Poetry of the Scandinavian Middle Ages. Besoek op 5 Maart 2021.
  2. Lee M. Hollander (1947) [1945]. The Skalds: A Selection of Their Poems, With Introductions and Notes. Princeton: The American-Scandinavian Foundation, Princeton University Press. pp. 1–2. OCLC 602867700.
  3. Hallvard Magerøy (15 Augustus 2020). "Skaldediktning". Store norske leksikon (in Noorweegs). Besoek op 11 Maart 2021.{{cite web}}: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
  4. Vésteinn Ólason (2006). "Old Icelandic Poetry". In Daisy Neijmann (red.). A History of Icelandic Literature. Histories of Scandinavian Literature. Vol. 5. Lincoln, Nebraska / Londen: The American-Scandinavian Foundation, University of Nebraska. p. 32. ISBN 9780803233461.

Skakels

[wysig | wysig bron]