Gaan na inhoud

Vlag van Estland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vlag van Estland
Vlag van Estland
Vlag van Estland
Bynaam sinimustvalge
Gebruik Burgerlike- en Staatsvlag en Burgerlike vaandel Burgerlike en staatsvlag en burgerlike vaandel
Verhouding 7:11[1]
Goedgekeur 7 Augustus 1990[2]
Ontwerp ’n Horisontale driekleur in blou, swart en wit.
Wisselvormvlag van Estland
Wisselvormvlag van Estland
Gebruik Vlootvaandel Vlootvaandel
Verhouding 7:13
Goedgekeur 1991
Ontwerp ’n Horisontale swawelstertdriekleur in blou, swart en wit, met die wapen van Estland in die vlagpaalkant.

Die nasionale vlag van Estland is op 7 Augustus 1990 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n horisontale driekleur in blou, swart en wit. In Esties word die vlag sinimustvalge (“blou-swart-wit”) genoem.

Toe die Republiek Estland in 1918 ’n onafhanklike land geword het, was die driekleur reeds wyd gebruik as die simbool van Estland en Estlanders. Die sinimustvalge is op 21 November 1918 amptelik in gebruik geneem kragtens ’n besluit deur die nasionale regering[2] en op 16 Julie 1922 het die Estlandse parlement deur ’n wet die vlag se amptelike status bekragtig.[3]

Die driekleur is tot in die eerste jaar van die Tweede Wêreldoorlog in die openbaar as die nasionale vlag gebruik totdat die Sowjetse Rooi Leër in Junie 1940 Estland binnegeval het. Ná die besetting en anneksasie van Estland deur die USSR in Augustus 1940 het die nuwe Stalinistiese regime die Estlandse vlag en sy gebruik verbied, maar ook enige gebruik van die kombinasie van sy kleure blou, swart en wit is deur Sowjetse wette verban.[4] Die nasionale vlag is van 1940 tot 1991 voorts deur die Estlandse regering in ballingskap, sy diplomatiese diens en die Estlandse diaspora wêreldwyd gebruik. Die Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek het van 1944 tot 1990 die vlag van Sowjet-Estland gebruik bestaande uit die generiese rooi Sowjetvlag met die naam van die republiek in die skildhoek, waarna dit verander is na die rooi vlag met ’n baan blou golwe in die vlag se onderste helfte. In Oktober 1988 is die gebruik van die blou-swart-wit-vlag opnuut amptelik verbied deur die plaaslike owerheid. Op 23 Februarie 1989 is die Sowjetse vlag permanent van die Pikk Hermann by die Toompea-kasteel in die hoofstad Tallinn verwyder. Op 24 Februarie, ter geleentheid van die 70ste herdenking van die Estlandse onafhanklikheidsverklaring in 1918, is dit deur die blou-wit-swart-vlag vervang. Op 7 Augustus 1990, een jaar voor volle onafhanklikwording, is die nasionale vlag amptelik deur die Estlandse owerheid amptelik in hergebruik geneem.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Voorgeskiedenis

[wysig | wysig bron]

In 1219 is Estland deur Denemarke verower en volgens ’n legende het die vlag van Denemarke (die Dannebrog) tydens die Slag van Lyndanisse, ook bekend as die Waldemarslag (Deens: Volmerslaget) naby Lindanise (Tallinn) op 15 Junie 1219 uit die lug geval.[5] Van 1219 tot 1346 was Estland ’n hertogdom binne die Deense Ryk met die Dannebrog – ’n rooi veld met ’n wit Skandinawiese kruis – as sy amptelike vlag. Ná die Estniese opstand in 1343 is Estland in 1346 deur Denemarke aan die Duitse Orde verkoop, waarmee die gebied tot in 1561 onder die vlag van die Duitse Orde, ’n swart kruis op ’n wit agtergrond, gestaan het.[6] In 1561 is die gebied ná die Lyflandse oorlog aan die Sweedse Ryk oorhandig, waarmee die vlag van Swede – ’n blou veld met ’n geel Skandinawiese kruis – ook oor Estland gewapper het.[7] Ná Swede se nederlaag in die Groot Nordiese Oorlog moes hulle met die Vrede van Nystad in 1721 die Baltiese gebied aan die nuutgestigte Russiese Ryk oorhandig, waarmee ook in Estland die Russiese driekleur gehys is.[8] In dieselfde jaar is die Goewerneurskap Estland gestig met ’n driekleur in groen, violet en wit.

Oorsprong

[wysig | wysig bron]
Die oorspronklike vlag van die studentevereniging in 1884
Vlae van Estland in Pärnu tydens die Estlandse onafhanklikheidsverklaring op 23 Februarie 1918. Dit is een van die eerste beelde van die Republiek Estland.

Gedurende die vroeë 1820’s is drie gelyknamige Duitstalige studentevereniginge (een vir elke Baltiese provinsie – Estland, Lyfland en Koerland) aan die pas herstigte Universiteit van Tartu gestig. Elkeen het sy eie kleure (Duits: “Farben”, Esties: “värvid”) gekies wat op hul beurt vlae en visuele voorstellings van die ooreenstemmende hertogdom/provinsie geword het. Die Russiese Ryk het egter gereeld die openbare dra van hierdie kleure verbied en dit is in 1915, ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, finaal verbied tydens die anti-Duitsland veldtog.

Op 7 April 1870 is by die Universiteit van Tartu die voorganger van die Estniese studentevereniging (Esties: Eesti Üliõpilaste Selts, EÜS), die eerste Estniestalige studentevereniging, gestig en in 1881 het dit ’n soortgelyke driekleur in die kleure blou, swart en wit goedgekeur. Teen daardie tyd is die gekose kleure egter verbind met die Finse vlag en die kleure is van simboliese betekenisse voorsien.

Die Estniese vlag is gevolglik op 17 September 1881 in Tartu eers as ’n studenteverenigingvlag aanvaar deur die samestellende vergadering van “Vironia”, die eerste Estniese nasionale studentekorps, vandag bekend as die Estniese Studentegenootskap. Op 4 Junie 1884 is die vlag by die pastorie in Otepää geseën. In die 20ste eeu het die kleure en patroon uiteindelik dié van die nasionale vlag geword.[9]

Onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

Ten tyde van die uitreik van die Estniese onafhanklikheidsverklaring op 24 Februarie 1918 is die vlag geassosieer met Estniese nasionalisme en is toe ook gebruik as die nasionale vlag (riigilipp). Op 21 November 1918 het die driekleur deur ’n besluit van die Estniese voorlopige regering die amptelike nasionale vlag geword. 12 Desember 1918 was die eerste keer dat die vlag as nasionale simbool bo-aan die Pikk Hermann aan die Toompea-kasteel in Tallinn gehys is en sodoende het dit die vlag se mees simboliese vertoonplek geword. Die vlag is op 16 Julie 1922 deur die Estniese parlement formeel aanvaar.[10][11]

Eerste Sowjetbesetting

[wysig | wysig bron]

Ná die Sowjetse inval en besetting van Estland in Junie 1940 is dié land ook geannekseer en het in Augustus 1940 ’n administratiewe onderafdeling van die USSR onder die naam Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek geword. Die Sowjetse inval het spoedig gelei tot ’n verbod op die vlag. Dit is op 21 Junie 1940 van die Pikk Hermann in Tallinn, die mees simboliese ligging van die vlag, gestryk toe Estland nog formeel onafhanklik was. Die volgende dag, 22 Junie, is dit naas die rooi vlag gehys. Die driekleur het egter op 27 Julie 1940 finaal van die toring af verdwyn en is vervang deur die vlag van die Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek. Estland het op 6 Augustus 1940 amptelik deel geword van die Sowjetunie. Op 31 Oktober 1940 is die vlag van die Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek deur ’n besluit van die Opperste Sowjet van die Estniese SSR amptelik goedgekeur. Dit het ’n stel van Kommunistiese simbole uitgebeeld: ’n geel hamer en sekel op ’n rooi baan en, ná die amptelike verandering van die vlagontwerp in 1953, ook ’n omlynde geel ster bo ’n baan watergolwe naby die onderkant.[12]

Duitse besetting

[wysig | wysig bron]

Gedurende die besetting van Duitsland van 1941 tot 1944 is die vlag aanvaar as die etniese vlag van die Estlanders, maar nie as die nasionale vlag nie. Nadat die Duitsers in September 1944 teruggetrek het vanuit Tallinn, is die Estniese vlag weer gehys.

Tweede Sowjetbesetting

[wysig | wysig bron]
Jaan Künnap bo-op Leninpiek, die eerste keer wat die Estniese vlag bo 7000 m vertoon is

Toe die Rooi Leër op 27 September 1944 hulle opwagting gemaak het, het die driekleur weer van die Pikk Hermann verdwyn. In plaas daarvan is vanaf Februarie 1953 die Estniese SSR se vlag gebruik nadat dit herontwerp is met ’n golwende blou baan met ses kruine aan die onderkant en die hamer en sekel en die rooi ster in die skildhoek. Die 1944-weergawe van die Estniese SSR-vlag het ’n goue hamer en sekel in die skildhoek vertoon met die karakters ENSV (Eesti Nõukogude Sotsialistlik Vabariik, Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek) in goud bo-op. Van 1953 tot 1989 is ’n nuwe weergawe van die vlag gebruik: die rooi vlag van die USSR gekombineer met ’n blou baan en wit seewatergolwe heel onder. In die volksmond is na dié vlag verwys as “golwevlag” (lainelipp). Die tweede vlag van die Estniese SSR is op 6 Februarie 1953 amptelik goedgekeur en in § 167 van die Estniese SSR se grondwet bekragtig. Dit was ook geskoei op die vlag van die Sowjetunie met ses stekelrige blou en wit golwende bane naby die onderkant. Dié vlag is ontwerp deur Paul Luhtein.[13]

Tydens die besettingstyd van 1940 tot 1991 het die Estniese diaspora en Baltiese diplomatiese diens wêreldwyd voortgegaan om die vlag van Estland te gebruik, terwyl die gebruik van die nasionale driekleur en sy kleure blou, swart en wit in die Sowjetunie verbied en strafbaar was tot in 1988.[14] 21 Oktober 1987 word onthou as die eerste keer dat Sowjettroepe nie die vlag tydens ’n openbare geleentheid gestryk het nie. Op 20 Oktober 1988 is die gebruik van die blou-swart-wit-vlag amptelik weer toegelaat deur die Estniese owerhede. Op die aand van 23 Februarie 1989 is die Sowjetse vlag permanent van die Pikk Hermann by die Toompea-kasteel verwyder. Dit is op die volgende oggend, 24 Februarie, op die 70ste herdenking van Estland se onafhanklikheidsverklaring deur die nasionale blou-swart-wit-vlag vervang. Dit is op 7 Augustus 1990 weer formeel verklaar tot nasionale vlag, ’n rapsie langer as ’n jaar voordat Estland weer volle onafhanklikheid verkry het. Met die Wet op Simbole van Estland, wat op 8 Mei 1990 goedgekeur is, ’n jaar voor Estland se volle onafhanklikwording in 1991 is die gebruik van beide die Estniese SSR-vlag en embleem as staatsimbole amptelik beeindig.[15]

Vorige vlae

[wysig | wysig bron]

Simboliek

[wysig | wysig bron]
’n Interpretatiewe weergawe vir die driekleur as verteenwoordigend van Estland se natuurtonele

’n Simboliese interpretasie wat deur die digkuns van Martin Lipp gewildheid verwerf het, is dat die blou vir die gewelfde lug bo die land, die swart vir die gehegtheid aan die grond van die tuisland asook die lot van die Estlanders (vir eeue swart weens kommer) en die wit vir reinheid, harde werk en toewyding staan.[16]

Ontwerp

[wysig | wysig bron]

Die Estlandse vlag het die volgende tegniese ontwerp:

Konstruksietekening
Konstruksietekening

Kleure

[wysig | wysig bron]
’n Wapperende vlag van Estland

Die kleure vir die vlag soos deur die vlagwet bepaal, is soos volg:[1][17]

Kleurskema Blou Swart Wit
RGB-kleursisteem 0-144-206 0-0-0 255+255+255
Heksadesimaal 0072CE 000000 FFFFFF
Pantone 285c Swart Wit
CMYK 91-43-0-0 100-100-100-99 0-0-0-0

Seleksies uit die Estniese Vlagwet

[wysig | wysig bron]
Vroegoggendmis in die Põhja-Kõrvemaa Natuurreservaat
Die vlag van Estland bo-op die Pikk Hermann-toring, Toompea-kasteel, Tallinn
Die vlag van Estland bo-op die Suur Munamägi-uitkyktoring, die hoogste punt in Estland op 318 m bo seevlak

Die onlangste Estniese vlagwet is op 23 Maart 2005 gepromulgeer en het op 1 Januarie 2006 in werking getree. Dit is sedertdien ’n aantal keer gewysig. Die wet spesifiseer die kleure in Pantone en CMYK-formate, asook wanneer dit gehys mag word en hoe en deur wie dit gebruik mag word. Die minimum grootte van die vlag wat op ’n muurgemonteerde vlagstok of op ’n vlagpaal op die dak van ’n gebou gehys moet word, is 105 by 165 sentimeter (41 by 65 in). Die wet spesifiseer dat die vlag “die etniese sowel as die nasionale vlag” is.[18]

Die vlagwet spesifiseer dat die vlag daagliks met sonsopkoms aan die Pikk Hermann in Tallinn gehys moet word, maar nie voor 7:00 nie en dat dit teen sonsondergang gestryk moet word.[18] Die vlagdae volgens die wet is soos volg:

  • 3 Januarie – Herdenking van die stryders van die Estniese Onafhanklikheidsoorlog
  • 2 Februarie – Herdenking van die Vrede van Tartu
  • 24 Februarie – Onafhanklikheidsdag
  • 14 Maart – Moedertaaldag
  • 23 April – Veteranedag
  • Die tweede Sondag van Mei – Moedersdag
  • 9 Mei – Europadag
  • 1 Junie – Kinderbeskermingsdag
  • 4 Junie – Vlagdag
  • 14 Junie – Roudag
  • 23 Junie – Oorwinningsdag
  • 24 Junie – Midsomerfees
  • 20 Augustus – Dag van die herstel van onafhanklikheid
  • 1 September – Dag van kennis
  • Die tweede Sondag van September – Grootouerdag
  • Die derde Saterdag van Oktober – Fins-Oegriese dag
  • Die tweede Sondag van November – Vadersdag
  • Op verkiesingsdae van die Riigikogu (parlement), streeksrade en die Europese parlement, asook dae van referenda.[18]

Volkskultuur

[wysig | wysig bron]

Daar is ’n spesiale liedjie vir die vlag van Estland: “Die Estlandse vlag" (Eesti lipp). Die liriekskrywer is Martin Lipp en die gedig is in 1922 getoonset deur die komponis Enn Võrk.[19]

Vlagvoorstelle

[wysig | wysig bron]
Estlandse kruisvlagvoorstelle uit 1919
’n Estniese kruisvlag in gebruik op die eiland Vormsi

Verskeie ontwerpe met ’n Skandinawiese kruis is reeds in 1919 voorgestel toe die staatsvlag amptelik aanvaar is. In 2001 het die joernalis Kaarel Tarand voorgestel dat die vlag verander word van ’n driekleur na ’n ontwerp met ’n Skandinawiese kruis in die bestaande kleure.[20] Ondersteuners van hierdie ontwerp beweer dat ’n driekleur aan Estland die beeld van ’n post-Sowjet- of Oos-Europese land gee terwyl ’n kruisontwerp die land se bande met die Noordse lande sal simboliseer. Aangesien die driekleur as ’n belangrike nasionale simbool gesien word, het die voorstel nie die nodige gewildheid verkry wat nodig is om die nasionale vlag te wysig nie.

Voorstaanders vir ’n Skandinawiese kruis-vlag ag hulself eerder ’n Noordse volk as ’n Baltiese volk,[21] en baseer dit op hul historiese bande met Swede, Denemarke en veral Finland. In Desember 1999 het die minister van buitelandse sake (en president van 2006 tot 2016), Toomas Hendrik Ilves ’n toespraak voor die Sweedse Instituut vir Internasionale Sake gelewer met die titel “Estland as ’n Noordse land”.[22] Die diplomaat Eerik-Niiles Kross het ook voorgestel dat die land se amptelike naam in Engels en verskeie ander tale van Estonia na Estland verander moet word (die land staan reeds so bekend in Afrikaans, Deens, Nederlands, Duits, Sweeds, Noors en talle ander Germaanse tale).[23][24]

Volgens die politikus Paul Puustusmaa simboliseer die Estniese kruisvlag die nasionale kultuur en sy wortels. Hy meen dat hierdie benadering nie enige histories-sosiaal-kulturele gelaagdheid laat vaar wat die Estniese nasionaliteit gevorm het nie, wat met die Wikings begin het, die Lyflandse Konfederasie insluit, en die Balties-Duitse kulturele wortels respekteer, wat op sy beurt die nasionale ontwaking en die geboorte van die onafhanklike Estland aangewakker het.[25]

Subnasionale vlae

[wysig | wysig bron]

Die 15 Estniese distrikte (maakond) se vlae bestaan almal uit twee horisontale bane in wit en groen met die spesifieke wapen van die distrik in die wit baan.

Munisipale vlae

[wysig | wysig bron]

Sommige van die Estniese munisipaliteite beskik ook oor hul eie vlae.

Ander vlae

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 (en) "Estonian Flag Act". Riigiteataja. Besoek op 24 Augustus 2024.
  2. 2,0 2,1 2,2 (en) "Estonia". Flags of the World. Besoek op 24 Augustus 2024.
  3. (et) "Riigi Teataja, nr. 84-85". Estniese Nasionale Biblioteek. 6 Julie 1922. Besoek op 24 Augustus 2024.
  4. (et) "Minevikuminutid: sinimustvalge oli okupatsioonivastane sümbol". ERR. 21 Februarie 2018. Besoek op 24 Augustus 2024.
  5. (en) Andrew Evans (2008). Iceland. Bradt. ISBN 978-1-84162-215-6. Besoek op 31 Desember 2007. Die legende lui dat 'n rooi kleed met die wit kruis bloot uit die lug geval het gedurende die slag van Valdemar in die middel van die 13de eeu, waarna die Dene seëvierend was. As teken van die goddelike reg het Denemarke sy kruis in die ander Skandinawiese lande waar hy regeer het, vertoon en soos elke volk onafhanklikheid verkry het, het hulle die Christelike simbool geïnkorporeer.
  6. (en) Niels Skyum-Nielsen (1981). Danish Medieval History & Saxo Grammaticus. Museum Tusculanum Press. pp. 113–115, 129. ISBN 87-88073-30-0.
  7. (en) Michael Roberts (8 Maart 1984). The Swedish imperial experience 1560–1718. Cambridge University Press. p. 30. ISBN 0-521-27889-9. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2023. Besoek op 16 Oktober 2023.
  8. (de) "Im Nahmen der heiligen und unzertrennten Drey-Einigkeit". histdoc.net. Besoek op 24 Augustus 2024.
  9. (ru) "Geskiedenis van Estland". Estonia's History. 3 Desember 2013. Besoek op 24 Augustus 2024.
  10. (en) "Estland se Blou-SWART-Wit driekleurvlag". Estniese Ambassade in Washington. 1 Januarie 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Desember 2007. Besoek op 17 Desember 2007.
  11. (en) Faure, Gunter; Mensing, Teresa (2012). The Estonians; The long road to independence. Lulu.com. p. 10. ISBN 978-1-105-53003-6.
  12. (en) Mauro Talocci. Whitney Smith (red.). Guide to the Flags of the World. p. 20. ISBN 0-688-01141-1.
  13. (et) "Paul Luhtein 22. III 1909 – 8. II 2007". Sirp. 16 Februarie 2007. Besoek op 24 Augustus 2024.
  14. (et) "Minevikuminutid: sinimustvalge oli okupatsioonivastane sümbol". Estlandse Nasionale Uitsaaiwese. 21 Februarie 2018. Besoek op 24 Augustus 2024.
  15. (et) "Seadus Eesti sümboolikast – Riigi Teataja". Staatskoerant. Besoek op 24 Augustus 2024.
  16. (en) "Vlag van Estland: Geskiedenis van die Estniese vlag". Estonian Free Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 September 2010. Besoek op 5 September 2010.
  17. (et) "Eesti lipp". Riigikantselei. Besoek op 24 Augustus 2024.
  18. 18,0 18,1 18,2 (en) (et) "Estniese Vlagwet". Riigi Teataja. Riigikantselei, Justiitsministeerium. 25 Junie 2018. Besoek op 24 Augustus 2024.
  19. (et) "Eesti lipulaulu saamisloost". Ajaleht Eesti Kirik. 26 Mei 2009. Besoek op 24 Augustus 2024.
  20. (et) KaarelTarand (3 Desember 2001). "Lippude vahetusel". Eesti Päevaleht. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Januarie 2008. Besoek op 26 Januarie 2008.
  21. (et) "Estniese lewe" (PDF). Estlandse Ministerie van Buitelandse Sake. 2004. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 25 Maart 2009. Besoek op 25 Maart 2009.
  22. (et) Ilves, Toomas Hendrik (14 Desember 1999). "Estland as 'n Noordse land". Estlandse Ministerie van Buitelandse Sake. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2007. Besoek op 27 September 2007.
  23. (et) Kross, Eerik-Niiles (12 November 2001). "Estland, Estland über alles". Eesti Päevaleht. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 November 2007. Besoek op 13 November 2007.
  24. (en) Voorstellings oor die grense van Europa: Politiek en Identiteit in die Baltiese en Suid-Kaukasiese State, Tsypylma Darieva, Wolfgang Kaschuba, Campus, 2007, bl. 154
  25. (et) Paul Puustusmaa (11 Desember 2021). "Paul Puustusmaa kodus lehvib sini-must-valge ristilipp: see sümboliseerib lootust paremale homsele". Uued Uudised. Besoek op 24 Augustus 2024.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • (en) Faure, Gunter; Mensing, Teresa (2012). The Estonians; The long road to independence. Lulu.com. p. 409. ISBN 978-1-105-53003-6.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.