Willem de Vlamingh
Willem de Vlamingh (28 November 1640, Oost-Vlieland – 1698 of later) was 'n Nederlandse ontdekkingsreisiger, gebore in Oost-Vlieland, wat die weskus van Australië tussen 28 Desember 1696 en 21 Februarie 1696 verken het.
In Mei van 1696 het hy met 'n fregat, de Geelvinck, vanaf Texel uitgevaar, vergésel deur die hoeker Nijptangh en die galjoot 't Weseltje. Hy is uitgestuur met die doel om 'n soektog na die vermiste skip van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, De Ridderschap, wat op 11 Julie 1693 uit Holland na Batavia vertrek het met 325 man aan boord. Vroeg in 1694 het die De Ridderschap die Kaap die Goeie Hoop aangedoen, waarna dit spoorloos verdwyn het. De Vlamingh kon egter nie die skip opspoor nie.
De Vlamingh het ook uitgebreide instruksies ontvang waarin Tristan da Cunha ook genoem is. Hy moes ondersoek instel om vas te stel of dit 'n geskikte vasmeerplek sou wees om aan land te gaan. Hy het ook opdrag ontvang om die eiland en omliggende eilande te karteer. Die gevolg van sy ondersoek was dat die VOC besluit het dat Tristan da Cunha nie 'n geskikte verversingstasie op die roete na die Ooste sou wees nie.
Daarna het die ekspedisie onder bevel van De Vlaming verder gevaar om die weskus van Australië te ondersoek, wat hulle op 29 Desember bereik het. Hy ontdek die Swanrivier, karteer die omtrek van Rottnest-eiland (de Vlamingh het verskeie Quokkas daar gesien en gedink hulle is groot rotte, vandaar die naam) en die kus tot by die huidige baai van Exmouth. Willem de Vlamingh het ook Dirk Hartog-eiland herbesoek. De Vlamingh se bevindinge het daartoe gelei dat die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie verdere verkenning van Australië gestaak het. Die land het volgens hom min rykdomme gehad en was ook ontoeganklik.
In 2006 is die oorspronklike kaarte weer teruggevind by die National Library of Australia.
Bronne
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Willem de Vlamingh. |